Die tweede boek van Konings 16:1-20

  • Agas, koning van Juda (1-6)

  • Agas se omkoopgeskenk aan Assiriërs (7-9)

  • Agas maak heidense altaar (10-18)

  • Agas sterf (19, 20)

16  Agas,+ die seun van koning Jotam van Juda, het in die 17de jaar van Peka, die seun van Remaʹlia, koning geword.  Agas was 20 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 16 jaar lank in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van Jehovah sy God soos sy voorvader Dawid nie.+  Hy het eerder die weg van die konings van Israel gevolg,+ en hy het selfs sy eie seun as ’n offerande in die vuur verbrand*+ omdat hy die afskuwelike gebruike gevolg het van die nasies+ wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het.  Hy het ook aangehou om offerandes te bring en offerrook te laat opgaan op die offerhoogtes,+ op die heuwels en onder elke groot boom.+  Koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel, die seun van Remaʹlia, het teen Jerusalem opgetrek om oorlog te voer.+ Hulle het Jerusalem beleër, die stad waar Agas was, maar hulle kon nie die stad inneem nie.  Op daardie tyd het koning Resin van Sirië die stad Elat+ vir Edom teruggekry, en daarna het hy die Jode* uit Elat verdryf. Die Edomiete het in Elat gaan bly, en hulle woon tot vandag toe nog daar.  Toe het Agas boodskappers na koning Tigʹlat-Pileʹser+ van Assiʹrië gestuur en gesê: “Ek is u kneg en u seun. Kom red my tog uit die hand van die koning van Sirië en uit die hand van die koning van Israel, wat my aanval.”  Agas het toe die silwer en die goud in die huis van Jehovah en in die skatkamers van die koning se paleis geneem en ’n omkoopgeskenk aan die koning van Assiʹrië gestuur.+  Die koning van Assiʹrië het gedoen wat hy gevra het en na Damaskus gegaan en dit ingeneem en die inwoners daarvan in ballingskap na Kir weggeneem,+ en hy het Resin doodgemaak.+ 10  Daarna het koning Agas na koning Tigʹlat-Pileʹser van Assiʹrië in Damaskus gegaan. Nadat koning Agas die altaar in Damaskus gesien het, het hy ’n bouplan van die altaar aan die priester Uriʹa gestuur.+ 11  Die priester Uriʹa+ het ’n altaar+ gebou volgens al die instruksies wat koning Agas van Damaskus af gestuur het. Die priester Uriʹa het dit voltooi voordat koning Agas van Damaskus af teruggekom het. 12  Toe die koning van Damaskus af kom en die altaar sien, het hy offerandes op die altaar gaan offer.+ 13  En hy het aangehou om sy brandoffers en sy graanoffers op daardie altaar te laat rook. Hy het ook sy drankoffers daarop uitgegooi en die bloed van sy vrede-offers* daarop gesprinkel. 14  Toe het hy die koperaltaar+ wat voor Jehovah was, geskuif van sy gewone plek aan die voorkant van die huis, tussen sy eie altaar en die huis van Jehovah, en dit aan die noordekant van sy eie altaar gesit. 15  Koning Agas het vir die priester Uriʹa+ hierdie bevel gegee: “Laat die oggendbrandoffer,+ die aandgraanoffer+ en die koning se brandoffer en graanoffer op die groot altaar rook, sowel as die brandoffers, die graanoffers en die drankoffers van die hele volk. Jy moet ook al die bloed van die brandoffers en al die bloed van die ander offerandes daarop sprinkel. Wat die koperaltaar betref, ek sal besluit wat daarmee gedoen moet word.” 16  En die priester Uriʹa het alles gedoen wat koning Agas beveel het.+ 17  Verder het koning Agas die sypanele van die waentjies+ in stukke gesny en die komme van hulle afgehaal.+ Hy het die See wat op die koperbulle gerus het,+ van hulle afgehaal en dit op ’n klipvloer gesit.+ 18  En weens die koning van Assiʹrië het hy die oordekte area vir die Sabbat wat in die huis gebou is en die koning se buitenste ingang van die huis van Jehovah af verskuif. 19  Die res van die geskiedenis van Agas en wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda.+ 20  Agas het gesterf,* en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe, en sy seun Hiskiʹa*+ het in sy plek koning geword.

Voetnote

Of “deur die vuur laat gaan”.
Of “die manne van Juda”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Beteken “Jehovah versterk”.