Die tweede boek van Konings 17:1-41
17 Hoseʹa,+ die seun van Ela, het in die 12de jaar van koning Agas van Juda koning oor Israel geword in Samariʹa. Hy het nege jaar lank regeer.
2 Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, maar nie so erg soos die vorige konings van Israel nie.
3 Koning Salmaneʹser van Assiʹrië het teen hom gaan veg,+ en Hoseʹa het sy kneg geword en skatting* aan hom begin betaal.+
4 Maar die koning van Assiʹrië het uitgevind dat Hoseʹa betrokke was by ’n sameswering, want Hoseʹa het boodskappers na koning So van Egipte+ gestuur en het nie die skatting* aan die koning van Assiʹrië betaal soos in vorige jare nie. Daarom het die koning van Assiʹrië hom vasgebind en in die tronk opgesluit.
5 Die koning van Assiʹrië het die land binnegeval, en hy het na Samariʹa gegaan en dit drie jaar lank beleër.
6 In die negende jaar van Hoseʹa het die koning van Assiʹrië Samariʹa+ ingeneem. Hy het die Israeliete toe in ballingskap+ na Assiʹrië geneem en hulle in Halag en in Habor by die Gosanrivier+ en in die stede van die Mede laat woon.+
7 Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen Jehovah hulle God, wat hulle uit Egipte uitgelei het en wat hulle uit die greep van Farao, die koning van Egipte,+ bevry het. Hulle het ander gode aanbid,*+
8 en hulle het die gebruike gevolg van die nasies wat Jehovah voor die Israeliete uit verdryf het, sowel as die gebruike wat die konings van Israel ingestel het.
9 Die Israeliete het by dinge betrokke geraak wat volgens Jehovah hulle God nie reg was nie. Hulle het aangehou om offerhoogtes in al hulle stede te bou,+ van wagtoring tot versterkte stad.*
10 Hulle het aangehou om vir hulle heilige pilare en heilige pale*+ op elke hoë heuwel en onder elke groot boom+ op te rig.
11 En hulle het op al die offerhoogtes offerrook laat opgaan, net soos die nasies wat Jehovah voor hulle uit verdryf het.+ Hulle het voortgegaan om slegte dinge te doen en om Jehovah aanstoot te gee.
12 Hulle het aangehou om walglike afgode* te aanbid,+ al het Jehovah vir hulle gesê: “Julle mag hulle nie aanbid nie!”+
13 Jehovah het Israel en Juda bly waarsku deur middel van al sy profete en al die sieners+ en gesê: “Draai om en los julle slegte weë!+ Gehoorsaam my gebooie en my wetsbepalings – alles in die wet wat ek julle voorvaders beveel het om te gehoorsaam en wat ek deur middel van my knegte, die profete, aan julle gestuur het.”
14 Maar hulle het nie geluister nie, en hulle het net so hardkoppig gebly soos* hulle voorvaders wat nie geloof in Jehovah hulle God gestel het nie.+
15 Hulle het sy wetsvoorskrifte en sy verbond+ wat hy met hulle voorvaders gemaak het en sy herinneringe wat hy vir hulle as ’n waarskuwing gegee het, bly verwerp.+ En hulle het waardelose afgode+ bly volg en hulle het self ook waardeloos geword.+ Hulle het die voorbeeld gevolg van die nasies rondom hulle wat Jehovah hulle beveel het om nie na te volg nie.+
16 Hulle het al die gebooie van Jehovah hulle God bly ignoreer. Hulle het metaalbeelde van twee kalwers+ en ’n heilige paal*+ gemaak, en hulle het voor die hele leërmag van die hemel+ neergebuig en Baäl gedien.+
17 Hulle het ook hulle seuns en hulle dogters as offerandes in die vuur verbrand,*+ en hulle het waarsêery beoefen+ en na tekens* gesoek. Hulle het bly doen* wat sleg is in Jehovah se oë en het hom aanstoot gegee.
18 Daarom het Jehovah so kwaad vir Israel geword dat hy hulle voor hom verwyder het.+ Hy het niemand laat oorbly behalwe die stam van Juda nie.
19 Selfs Juda het nie die gebooie van Jehovah hulle God gehoorsaam nie.+ Hulle het ook die gebruike gevolg wat Israel gevolg het.+
20 Jehovah het al die nakomelinge van Israel verwerp, hulle verneder en hulle in die hand van vyande gegee wat hulle geplunder het, totdat hy hulle voor hom verwyder het.
21 Hy het Israel van die huis van Dawid af weggeskeur, en hulle het Jeroʹbeam, die seun van Nebat, koning gemaak.+ Maar Jeroʹbeam het Israel van Jehovah laat afdwaal, en hy het hulle ’n groot sonde laat pleeg.
22 Die Israeliete het aangehou om al die sondes van Jeroʹbeam te pleeg.+ Hulle het nie daarvan afgewyk nie
23 totdat Jehovah Israel voor hom verwyder het, net soos hy deur middel van al sy knegte, die profete, gesê het.+ Israel is in ballingskap na Assiʹrië weggeneem,+ waar hulle tot vandag toe is.
24 Die koning van Assiʹrië het mense uit Babilon, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwaʹim+ geneem en hulle in die plek van die Israeliete in die stede van Samariʹa laat woon. Hulle het Samariʹa in besit geneem en in die stede daar gewoon.
25 Toe hulle daar gaan woon het, het hulle Jehovah nie gevrees* nie. Daarom het Jehovah leeus onder hulle ingestuur,+ en hulle het van die mense doodgemaak.
26 Daar is vir die koning van Assiʹrië gesê: “Die nasies wat u in ballingskap geneem en in die stede van Samariʹa laat woon het, ken nie die godsdiens* van die God van die land nie. Daarom stuur hy leeus onder hulle in om hulle dood te maak omdat nie een van hulle die godsdiens van die God van die land ken nie.”
27 Toe het die koning van Assiʹrië hierdie bevel gegee: “Laat een van die priesters wat julle van daar af in ballingskap geneem het, teruggaan om daar te woon en om hulle die godsdiens van die God van die land te leer.”
28 Een van die priesters wat hulle uit Samariʹa in ballingskap weggeneem het, het toe na Bet-El+ teruggegaan om daar te woon, en hy het hulle begin leer hoe hulle Jehovah moet vrees.*+
29 Maar elke nasie het hulle eie god* gemaak, en hulle het dit gesit in die huise van aanbidding op die offerhoogtes wat die Samaritane gemaak het. Elke nasie het dit gedoen in die stede waar hulle gewoon het.
30 Die manne van Babilon het Sukkot-Benot gemaak, die manne van Kut het Nergal gemaak, die manne van Hamat+ het Asiʹma gemaak
31 en die Awwiete het Nibhas en Tartak gemaak. Die Sefarwiete het hulle seuns in die vuur verbrand vir Adrammeʹleg en Anammeʹleg, die gode van Sefarwaʹim.+
32 Hoewel hulle Jehovah gevrees het, het hulle priesters vir die offerhoogtes uit die volk aangestel, en die priesters het vir hulle diens gedoen by die huise van aanbidding op die offerhoogtes.+
33 Hulle het Jehovah dus gevrees, maar hulle het ook hulle eie gode aanbid in ooreenstemming met die godsdiensgebruike van die nasies waaruit hulle in ballingskap weggeneem is.+
34 Tot vandag toe volg hulle hulle vroeëre godsdiensgebruike. Nie een van hulle aanbid* Jehovah nie, en nie een volg sy wetsbepalings, sy oordele, die Wet en die gebod wat Jehovah gegee het aan die kinders van Jakob, wie se naam hy na Israel verander het, nie.+
35 Toe Jehovah ’n verbond met hulle gemaak het,+ het hy hulle hierdie bevel gegee: “Julle mag nie ander gode vrees nie, en julle mag nie voor hulle neerbuig of hulle dien of offerandes aan hulle bring nie.+
36 Maar Jehovah, wat julle met groot krag en ’n uitgestrekte arm uit Egipte uitgelei het,+ is die Een wat julle moet vrees,+ en voor hom moet julle neerbuig, en aan hom moet julle offerandes bring.
37 Julle moet streng bly by die wetsvoorskrifte, die oordele, die Wet en die gebod wat hy vir julle neergeskryf het.+ Julle mag nie ander gode vrees nie.
38 En julle moenie die verbond vergeet wat ek met julle gemaak het nie,+ en julle mag nie ander gode vrees nie.
39 Maar julle moet Jehovah julle God vrees, want hy is die Een wat julle uit die hand van al julle vyande sal red.”
40 Maar hulle was nie gehoorsaam nie, en hulle het hulle vroeëre godsdiensgebruike gevolg.+
41 Hierdie nasies het Jehovah wel begin vrees,+ maar hulle het ook hulle eie beelde aanbid. Hulle kinders en hulle kleinkinders doen tot vandag toe presies wat hulle voorvaders gedoen het.
Voetnote
^ Lett. “gevrees”.
^ D.w.s. in elke plek, of daar nou baie of min inwoners was.
^ Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.
^ Lett. “hulle nek verhard soos die nek van”.
^ Of “deur die vuur laat gaan”.
^ Of “voortekens”.
^ Lett. “hulleself verkoop om te doen”.
^ Of “aanbid”.
^ Of “godsdiensgebruike”.
^ Of “aanbid”.
^ Of “gode”.
^ Lett. “vrees”.