Die tweede boek van Konings 25:1-30

  • Nebukadnesar beleër Jerusalem (1-7)

  • Jerusalem en sy tempel vernietig; tweede groep in ballingskap weggeneem (8-21)

  • Gedalja word goewerneur (22-24)

  • Gedalja vermoor; volk vlug na Egipte (25, 26)

  • Jojagin in Babilon vrygelaat (27-30)

25  In die negende jaar nadat Sedekiʹa koning geword het, in die tiende maand, op die tiende dag van die maand, het koning Nebukadneʹsar+ van Babilon met sy hele leërmag teen Jerusalem opgetrek.+ Hy het daar kamp opgeslaan en ’n beleëringsmuur reg rondom die stad gebou,+  en die stad is tot die 11de jaar van koning Sedekiʹa beleër.  Op die negende dag van die vierde maand, toe die hongersnood in die stad baie erg was+ en daar geen kos was vir die volk van die land nie,+  is daar deur die stad se muur gebreek.+ Terwyl die Galdeërs die stad omsingel het, het al die soldate in die nag deur die poort tussen die twee mure naby die koning se tuin gevlug. En die koning het met die pad van die Aʹraba gegaan.+  Maar die leërmag van die Galdeërs het die koning agternagesit, en hulle het hom in die woestynvlaktes van Jeʹrigo ingehaal, en al sy soldate wat saam met hom was, is verstrooi.  Toe het hulle die koning gevang+ en hom na die koning van Babilon in Ribla geneem, en hulle het hom gevonnis.  Hulle het Sedekiʹa se seuns voor sy oë doodgemaak. Nebukadneʹsar het Sedekiʹa se oë toe verblind, sy voete in koperboeie gesit en hom na Babilon geneem.+  In die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, dit wil sê in die 19de jaar van koning Nebukadneʹsar, die koning van Babilon, het Nebusaraʹdan,+ die hoof van die wagte, die kneg van die koning van Babilon, na Jerusalem gekom.+  Hy het die huis van Jehovah,+ die koning se paleis+ en al die huise van Jerusalem+ afgebrand. Hy het ook die huise van al die vooraanstaande manne afgebrand.+ 10  En die hele Galdese leërmag wat saam met die hoof van die wagte was, het die mure om Jerusalem afgebreek.+ 11  Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, het die res van die volk wat in die stad oorgebly het, die mense wat na die koning van Babilon oorgeloop het en die res van die bevolking in ballingskap weggeneem.+ 12  Maar die hoof van die wagte het van die armste mense van die land agtergelaat om wingerde te bewerk en om as slawe te werk.+ 13  Die Galdeërs het die koperpilare+ van die huis van Jehovah en die waentjies+ en die Kopersee+ wat in die huis van Jehovah was, in stukke gebreek, en hulle het die koper na Babilon weggedra.+ 14  Hulle het ook die kanne geneem, sowel as die grawe, die blussers, die bekers en al die voorwerpe van koper wat in die diens by die tempel gebruik is. 15  Die hoof van die wagte het die vuurbakke en die bakke wat van egte goud+ en silwer+ was, geneem. 16  Die koper van die twee pilare, die See en die waentjies wat Salomo vir die huis van Jehovah gemaak het, was te veel om geweeg te word.+ 17  Elke pilaar was 18 el* hoog,+ en die kopstuk daarop was van koper. Die kopstuk was drie el hoog, en die netwerk en die granate reg rondom die kopstuk was alles van koper gemaak.+ Die tweede pilaar met sy netwerk was presies dieselfde. 18  Die hoof van die wagte het ook die hoofpriester Seraʹja,+ die tweede priester Sefanʹja+ en die drie deurwagters saamgeneem.+ 19  Hy het ook een hofbeampte wat oor die soldate aangestel was, uit die stad geneem, sowel as vyf van die koning se raadgewers wat in die stad was, die sekretaris van die hoof van die leërmag, wat die volk van die land opgeroep het, en 60 manne van die gewone mense van die land wat nog in die stad was. 20  Nebusaraʹdan,+ die hoof van die wagte, het hulle na die koning van Babilon in Ribla geneem.+ 21  Die koning van Babilon het hulle doodgemaak in Ribla, in die land Hamat.+ So het Juda uit sy land in ballingskap gegaan.+ 22  Koning Nebukadneʹsar van Babilon het Gedalʹja,+ die seun van Ahiʹkam,+ die seun van Safan,+ oor die mense aangestel wat hy in Juda agtergelaat het.+ 23  Toe al die hoofde van die leërmag en hulle manne hoor dat die koning van Babilon Gedalʹja aangestel het, het hulle onmiddellik na Gedalʹja toe gegaan in Mispa. Hulle name was Isʹmael, die seun van Netanʹja, Johaʹnan, die seun van Kareʹag, Seraʹja, die seun van Tanʹhumet, die Netofatiet, en Jaäsanʹja, die seun van die Maägatiet. Hulle het saam met hulle manne daar aangekom.+ 24  Toe het Gedalʹja hulle en hulle manne met ’n eed verseker: “Moenie bang wees om knegte van die Galdeërs te wees nie. Woon in die land en dien die koning van Babilon, en dit sal goed gaan met julle.”+ 25  In die sewende maand het Isʹmael,+ die seun van Netanʹja, die seun van Elisaʹma, wat van die koninklike geslagslyn* was, saam met tien manne na Mispa gegaan.+ Hulle het Gedalʹja aangeval en hom doodgemaak, asook die Jode en die Galdeërs wat saam met hom was. 26  Daarna het die hele volk, klein sowel as groot, insluitende die hoofde van die leërmag, na Egipte gegaan,+ want hulle was bang vir die Galdeërs.+ 27  En in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojaʹgin+ van Juda, in die 12de maand, op die 27ste dag van die maand, in die jaar toe koning Eʹwil-Meroʹdag van Babilon koning geword het, het hy koning Jojaʹgin van Juda uit die tronk vrygelaat.+ 28  Hy het hom goed behandel en hom meer geëer as die ander konings* wat saam met hom in Babilon was. 29  Jojaʹgin het sy gevangenisklere uitgetrek, en hy het vir die res van sy lewe aan die koning se tafel geëet. 30  Hy het dag ná dag, al die dae van sy lewe, kos van die koning ontvang.

Voetnote

’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.
Lett. “saad van die koninkryk”.
Lett. “hom ’n troon gegee bo die trone van die konings”.