Die tweede boek van Konings 7:1-20
7 Eliʹsa het toe gesê: “Luister na die woord van Jehovah. Dít is wat Jehovah sê: ‘Omtrent hierdie tyd môre by die poort* van Samariʹa sal ’n sea* fynmeel ’n sikkel* werd wees en sal twee sea gars ’n sikkel werd wees.’”+
2 Toe het die offisier op wie die koning staatgemaak het, vir die man van die ware God gevra: “Kan dit werklik gebeur, al maak Jehovah sluise in die hemel oop?”+ Hy het geantwoord: “Jy sal dit met jou eie oë sien,+ maar jy sal nie daarvan eet nie.”+
3 Daar was vier melaatses by die ingang van die stadspoort,+ en hulle het vir mekaar gevra: “Hoekom moet ons hier sit en wag om dood te gaan?
4 As ons besluit om in die stad in te gaan, terwyl daar hongersnood in die stad is,+ sal ons daar doodgaan. En as ons hier sit, sal ons in elk geval doodgaan. Kom ons gaan na die kamp van die Siriërs. As hulle ons lewens spaar, sal ons lewe, maar as hulle ons doodmaak, sal ons sterf.”
5 Toe dit daardie aand donker word, het hulle opgestaan en in die kamp van die Siriërs ingegaan. En toe hulle by die rand van die kamp van die Siriërs kom, was daar niemand daar nie.
6 Want Jehovah het die kamp van die Siriërs die geluid van strydwaens, perde en ’n massiewe leërmag laat hoor.+ Hulle het vir mekaar gesê: “Die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van Egipte gehuur om ons aan te val!”
7 Hulle het dadelik opgestaan en in die skemer gevlug. Hulle het hulle tente, perde, donkies en die hele kamp net so gelos, en hulle het vir hulle lewe* gevlug.
8 Toe die melaatses by die rand van die kamp kom, het hulle in een van die tente ingegaan en begin eet en drink. Hulle het silwer, goud en klere daaruit weggedra en dit gaan wegsteek. Daarna het hulle teruggekeer en in ’n ander tent ingegaan en dinge daaruit weggedra en dit gaan wegsteek.
9 Uiteindelik het hulle vir mekaar gesê: “Wat ons doen, is nie reg nie. Hierdie dag is ’n dag van goeie nuus! As ons wag totdat dit lig word, sal ons verdien om gestraf te word. Kom ons gaan sê vir die koning se huis hiervan.”
10 Toe het hulle gegaan en na die poortwagters van die stad uitgeroep en vir hulle gesê: “Ons het in die kamp van die Siriërs ingegaan, maar daar was niemand daar nie. Ons het niemand gehoor nie. Daar was net perde en vasgemaakte donkies, en die tente is net so gelos.”
11 Die poortwagters het dadelik die nuus verkondig, en die koning se huis het daarvan gehoor.
12 Onmiddellik het die koning in die nag opgestaan en vir sy knegte gesê: “Kom ek sê vir julle wat die Siriërs wil doen. Hulle weet dat ons honger is,+ en daarom het hulle die kamp verlaat om in die veld weg te kruip met die gedagte dat ons uit die stad sal uitgaan en dat hulle ons lewend sal vang en in die stad sal inkom.”+
13 Toe het een van sy knegte gesê: “Laat ’n paar manne vyf van die perde neem wat in die stad oorgebly het. Hulle sal nie slegter af wees as al die Israeliete wat hier bly nie. Hulle sal ook doodgaan soos al die Israeliete wat reeds doodgegaan het. Kom ons stuur hulle uit om te gaan kyk wat gebeur het.”
14 Toe het hulle twee strydwaens met perde geneem, en die koning het hulle na die kamp van die Siriërs gestuur en gesê: “Gaan kyk.”
15 Hulle het agter die Siriërs aan gegaan tot by die Jordaanrivier, en orals langs die pad het daar klere en voorwerpe gelê wat die Siriërs weggegooi het toe hulle paniekbevange gevlug het. Die boodskappers het teruggekom en die koning daarvan vertel.
16 Daarna het die volk uitgegaan en die kamp van die Siriërs gestroop. ’n Sea fynmeel was toe ’n sikkel werd, en twee sea gars was ’n sikkel werd, net soos Jehovah gesê het.+
17 Die koning het die offisier op wie hy staatgemaak het, aangestel om toesig te hou oor die poort. Maar die volk het hom by die poort vertrap, en hy het gesterf, net soos die man van die ware God vir die koning gesê het toe hy na hom toe gegaan het.
18 Dit het gebeur net soos die man van die ware God vir die koning gesê het: “Teen hierdie tyd môre by die poort van Samariʹa sal ’n sea fynmeel ’n sikkel werd wees en sal twee sea gars ’n sikkel werd wees.”+
19 Maar die offisier het vir die man van die ware God gevra: “Kan so iets werklik gebeur, al maak Jehovah sluise in die hemel oop?” Eliʹsa het geantwoord: “Jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.”
20 Dit is presies wat met hom gebeur het, want die volk het hom by die poort vertrap, en hy het gesterf.