Die tweede boek van Konings 8:1-29

  • Sunammitiese vrou se grond teruggegee (1-6)

  • Elisa, Ben-Hadad en Hasael (7-15)

  • Joram, koning van Juda (16-24)

  • Ahasia, koning van Juda (25-29)

8  Eliʹsa het vir die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, gesê:+ “Gaan, jy en jou huisgesin, en gaan woon as ’n uitlander waar jy ook al kan, want Jehovah het aangekondig dat daar ’n hongersnood+ in die land sal wees wat sewe jaar sal duur.”  Toe het die vrou gedoen wat die man van die ware God gesê het. Sy het saam met haar huisgesin gegaan en sewe jaar lank in die land van die Filistyne+ gewoon.  Ná sewe jaar het die vrou uit die land van die Filistyne teruggekeer en vir die koning gaan vra om haar huis en haar grond vir haar terug te gee.  Die koning was besig om met Gehaʹsi, die dienaar van die man van die ware God, te praat en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dinge wat Eliʹsa gedoen het.”+  Terwyl hy vir die koning vertel het hoe Eliʹsa die dooie seun lewend gemaak het,+ het die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, na die koning gekom en hom gevra om haar huis en haar grond vir haar terug te gee.+ Gehaʹsi het dadelik gesê: “My heer die koning, dít is die vrou, en dít is haar seun wat Eliʹsa lewend gemaak het.”  Toe het die koning die vrou uitgevra, en sy het hom vertel wat gebeur het. Die koning het ’n hofbeampte aangestel om haar te help en vir hom gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, sowel as die volle waarde van die opbrengs van haar grond van die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.”  Eliʹsa het in Damaskus+ aangekom toe Ben-Hadad,+ die koning van Sirië, siek was. En daar is vir hom gesê: “Die man van die ware God+ is hier.”  Die koning het vir Haʹsael+ gesê: “Neem ’n geskenk saam en gaan na die man van die ware God.+ Vra Jehovah deur middel van hom of ek van hierdie siekte sal herstel.”  Haʹsael het na hom toe gegaan en het allerhande goeie dinge van Damaskus, soveel as wat 40 kamele kon dra, as ’n geskenk saamgeneem. Hy het voor hom gaan staan en gesê: “U seun, Ben-Hadad, die koning van Sirië, het my na u toe gestuur om te vra: ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’” 10  Eliʹsa het hom geantwoord: “Gaan sê vir hom: ‘U sal beslis herstel,’ maar Jehovah het aan my geopenbaar dat hy beslis sal sterf.”+ 11  En Eliʹsa het hom só lank aangestaar dat hy skaam geword het. Toe het die man van die ware God begin huil. 12  Haʹsael het gevra: “Hoekom huil my heer?” Hy het geantwoord: “Omdat ek weet watter verskriklike dinge jy aan die Israeliete gaan doen.+ Jy gaan hulle versterkte stede aan die brand steek, hulle beste manne met die swaard doodmaak, hulle kinders doodslaan en hulle swanger vrouens oopsny.”+ 13  Haʹsael het gevra: “Hoe kan u kneg, wat ’n blote hond is, so iets doen?” Maar Eliʹsa het gesê: “Jehovah het aan my geopenbaar dat jy koning oor Sirië sal wees.”+ 14  Daarna het hy van Eliʹsa af weggegaan en na sy heer teruggegaan, wat vir hom gevra het: “Wat het Eliʹsa vir jou gesê?” Hy het geantwoord: “Hy het vir my gesê dat u beslis sal herstel.”+ 15  Maar Haʹsael het die volgende dag ’n kombers geneem en dit in water gesit en dit oor sy gesig gehou totdat hy gesterf het.+ En Haʹsael het in sy plek koning geword.+ 16  In die vyfde jaar van Joram,+ die seun van koning Agab van Israel, terwyl Joʹsafat koning van Juda was, het Joram,+ die seun van koning Joʹsafat van Juda, koning geword. 17  Hy was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer. 18  Hy het dieselfde weg gevolg as die konings van Israel,+ net soos die huis van Agab gedoen het,+ want hy het met Agab se dogter getrou.+ En hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë.+ 19  Maar ter wille van sy kneg Dawid wou Jehovah Juda nie vernietig nie,+ want hy het belowe dat hy vir hom en sy seuns altyd ’n lamp* sou gee.+ 20  In sy dae het Edom teen Juda+ in opstand gekom en hulle eie koning aangestel.+ 21  Daarom het Joram met al sy strydwaens na Saïr gegaan, en in die nag het hy die Edomiete wat hom en die bevelvoerders van die strydwaens omsingel het, aangeval en verslaan. En die soldate het na hulle tente gevlug. 22  Maar die Edomiete het volgehou met hulle opstand teen Juda tot vandag toe. In daardie tyd het Libna+ ook in opstand gekom. 23  Die res van die geskiedenis van Joram, alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die boek met die geskiedkundige verslae van die konings van Juda. 24  Joram het gesterf,* en hy is by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe.+ En sy seun Ahaʹsia+ het in sy plek koning geword. 25  In die 12de jaar van Joram, die seun van koning Agab van Israel, het Ahaʹsia, die seun van koning Joram van Juda, koning geword.+ 26  Ahaʹsia was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Ataʹlia,+ die kleindogter* van koning Omri+ van Israel. 27  Hy het dieselfde weg gevolg as die huis van Agab+ en het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos die huis van Agab, want hy was aangetroude familie van die huis van Agab.+ 28  Hy het saam met Joram, die seun van Agab, na Raʹmot-Giʹlead+ gegaan om oorlog te voer teen koning Haʹsael van Sirië, maar die Siriërs het Joram gewond.+ 29  Daarom het koning Joram na Jisʹreël+ teruggegaan om van sy wonde te herstel nadat hy in Rama deur die Siriërs gewond is toe hy teen koning Haʹsael van Sirië geveg het.+ Ahaʹsia, die seun van Joram, die koning van Juda, het na Jisʹreël gegaan om Joram, die seun van Agab, te besoek omdat hy gewond* was.

Voetnote

D.w.s. ’n nakomeling.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.
Lett. “dogter”.
Of “siek”.