Die tweede boek van Kronieke 11:1-23

  • Rehabeam se bewind (1-12)

  • Lojale Leviete trek na Juda (13-17)

  • Rehabeam se familie (18-23)

11  Toe Rehaʹbeam in Jerusalem aankom, het hy onmiddellik die huis van Juda en Benjamin+ bymekaargeroep – 180 000 opgeleide* soldate – om teen Israel te veg sodat Rehaʹbeam die koningskap kon terugkry.+  Toe het Jehovah vir Semaʹja,+ die man van die ware God, gesê:  “Sê vir Rehaʹbeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin:  ‘Dít is wat Jehovah sê: “Julle moenie teen julle broers gaan veg nie. Julle moet almal teruggaan huis toe, want ek het dit laat gebeur.”’”+ Toe het hulle die woord van Jehovah gehoorsaam, en hulle het huis toe gegaan en nie teen Jeroʹbeam gaan veg nie.  Rehaʹbeam het in Jerusalem gewoon en het versterkte stede in Juda gebou.  Hy het Betlehem+ opgebou,* sowel as Etam, Tekoʹa,+  Bet-Sur, Sogo,+ Adulʹlam,+  Gat,+ Mareʹsa, Sif,+  Adoraʹim, Lagis,+ Aseʹka,+ 10  Sora, Aʹjalon+ en Heʹbron,+ versterkte stede in Juda en Benjamin. 11  Hy het ook die versterkte stede verder versterk. Hy het bevelvoerders daar geplaas en kos, olie en wyn aan hulle voorsien. 12  En hy het groot skilde en spiese aan al die stede voorsien. Hy het die stede baie goed versterk. En hy het aangehou om oor Juda en Benjamin te regeer. 13  En die priesters en die Leviete wat in Israel was, het hom ondersteun en hulle gebiede verlaat. 14  Die Leviete het hulle weivelde en hulle eiendom verlaat+ en na Juda en Jerusalem gegaan omdat Jeroʹbeam en sy seuns hulle nie toegelaat het om as priesters vir Jehovah te dien nie.+ 15  Jeroʹbeam het toe sy eie priesters aangestel vir die offerhoogtes+ en vir die bokagtige demone*+ sowel as vir die kalwers wat hy gemaak het.+ 16  En uit al die stamme van Israel het almal wat vasbeslote was* om Jehovah, die God van Israel, te dien,* agter die priesters en die Leviete aan na Jerusalem gegaan om offerandes te bring aan Jehovah, die God van hulle voorvaders.+ 17  Hulle het drie jaar lank die koningskap van Juda versterk en Rehaʹbeam, die seun van Salomo, ondersteun, want hulle het drie jaar lank dieselfde weg as Dawid en Salomo gevolg. 18  Toe het Rehaʹbeam met Maʹhalat getrou. Sy was die dogter van Jeʹrimot, die seun van Dawid, en van Abiʹhail, die dogter van Eliʹab,+ die seun van Isai. 19  Hy het die volgende seuns by haar gehad: Jeüs, Semarʹja en Saham. 20  Later het hy met Maʹäga, die kleindogter van Absalom,+ getrou. Hy het Abiʹa,+ Attai, Sisa en Seʹlomit by haar gehad. 21  Rehaʹbeam het Maʹäga, die kleindogter van Absalom, meer liefgehad as al sy ander vrouens en byvrouens.+ Hy het 18 vrouens en 60 byvrouens geneem, en hy het 28 seuns en 60 dogters gehad. 22  Rehaʹbeam het Abiʹa, die seun van Maʹäga, as hoof en leier oor sy broers aangestel, want hy was van plan om hom koning te maak. 23  Maar hy het verstandig opgetree en het van sy seuns na al die gebiede van Juda en Benjamin gestuur,* na al die versterkte stede,+ en hy het baie voorrade vir hulle gegee en baie vrouens vir hulle gekry.

Voetnote

Lett. “uitgesoekte”.
Of “versterk”.
Lett. “die bokke”.
Of “wat hulle harte daarop gerig het”.
Lett. “soek”.
Of “versprei”.