Die tweede boek van Kronieke 12:1-16

  • Sisak val Jerusalem aan (1-12)

  • Einde van Rehabeam se bewind (13-16)

12  Toe die koningskap van Rehaʹbeam stewig gevestig was+ en hy magtig geword het, het hy opgehou om die Wet van Jehovah te volg,+ en die hele Israel het sy voorbeeld gevolg.  In die vyfde jaar van koning Rehaʹbeam het koning Sisak+ van Egipte teen Jerusalem opgetrek, want hulle was ontrou aan Jehovah.  Koning Sisak het 1 200 strydwaens gehad, sowel as 60 000 perderuiters en ontelbare soldate wat saam met hom uit Egipte gekom het – Libiërs, Sukkiete en Etiopiërs.+  Hy het die versterkte stede van Juda ingeneem en het Jerusalem uiteindelik bereik.  Die profeet Semaʹja+ het na Rehaʹbeam en die leiers van Juda gegaan wat weens Sisak in Jerusalem bymekaargekom het en vir hulle gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Julle het my verlaat, en daarom het ek julle verlaat+ en julle aan Sisak oorgegee.’”  Die leiers van Israel en die koning het toe nederig berou getoon+ en gesê: “Jehovah is regverdig.”  Toe Jehovah hulle nederige gesindheid sien, het Jehovah vir Semaʹja gesê: “Hulle het nederig berou getoon. Ek sal hulle nie vernietig nie,+ en ek sal hulle binnekort red. Ek sal nie my woede deur middel van Sisak oor Jerusalem uitstort nie.  Maar hulle sal sy knegte word, sodat hulle kan weet wat die verskil is tussen diens aan my en diens aan die konings* van ander lande.”  Koning Sisak van Egipte het dus teen Jerusalem opgetrek. Hy het die skatte van die huis van Jehovah+ en die skatte van die koning se paleis geneem. Hy het alles geneem, insluitende die goue skilde wat Salomo gemaak het.+ 10  Daarom het koning Rehaʹbeam koperskilde gemaak om dit te vervang, en hy het dit toevertrou aan die hoofde van die wagte* wat by die ingang van die koning se paleis wag gehou het. 11  Elke keer as die koning na die huis van Jehovah gegaan het, het die wagte saam met hom gegaan en die skilde gedra, en daarna het hulle dit na die kamer van die wagte teruggeneem. 12  Omdat die koning nederig berou getoon het, het Jehovah nie vir hom kwaad gebly nie,+ en hy het hulle nie heeltemal vernietig nie.+ Buitendien was daar nog goeie dinge in Juda.+ 13  Koning Rehaʹbeam het sy posisie in Jerusalem versterk en het bly regeer. Rehaʹbeam was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 17 jaar lank in Jerusalem regeer, die stad wat Jehovah uit al die stamme van Israel uitgekies het om sy naam daar te vestig. Die koning se ma was Naäma, ’n Ammonitiese vrou.+ 14  Maar hy het gedoen wat sleg is, want hy was nie vasbeslote* om Jehovah te soek nie.+ 15  Die geskiedenis van Rehaʹbeam is van begin tot einde opgeteken in die geskrifte van die profeet Semaʹja+ en van die siener Iddo+ in die geslagsregister. En daar was heeltyd oorloë tussen Rehaʹbeam en Jeroʹbeam.+ 16  Rehaʹbeam het gesterf,* en hy is in die Stad van Dawid+ begrawe. En sy seun Abiʹa+ het in sy plek koning geword.

Voetnote

Lett. “koninkryke”.
Lett. “hardlopers”.
Of “hy het nie in sy hart besluit”.
Lett. “is by sy vaders neergelê”.