Die tweede boek van Kronieke 24:1-27

  • Joas se bewind (1-3)

  • Joas herstel tempel (4-14)

  • Joas se afvalligheid (15-22)

  • Joas vermoor (23-27)

24  Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het,+ en hy het 40 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibʹja van Berseʹba.+  Terwyl die priester Jojaʹda nog gelewe het, het Joas bly doen wat reg is in Jehovah se oë.+  Jojaʹda het vir Joas twee vrouens gekies, en Joas het seuns en dogters gehad.  Later was dit Joas se hartsbegeerte om die huis van Jehovah te herstel.+  Toe het hy die priesters en die Leviete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan uit na die stede van Juda en samel by al die Israeliete geld in om die huis van julle God elke jaar te herstel.+ Julle moet dit dadelik doen.” Maar die Leviete het dit nie dadelik gedoen nie.+  Daarom het die koning die hoofpriester Jojaʹda geroep en vir hom gevra:+ “Hoekom het jy nie gesorg dat die Leviete die heilige belasting by die mense van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die kneg van Jehovah, het gesê dat die gemeente van Israel dit moet betaal+ om die tent van die Getuienis te onderhou.+  Die seuns van Ataʹlia,+ daardie goddelose vrou, het destyds by die huis van die ware God ingebreek,+ en hulle het al die heilige dinge van die huis van Jehovah vir die aanbidding van die Baäls gebruik.”  Toe is daar op die koning se bevel ’n kis+ gemaak, en dit is buite by die poort van die huis van Jehovah gesit.+  Daarna is daar deur die hele Juda en Jerusalem ’n aankondiging gemaak dat hulle die heilige belasting+ vir Jehovah moet bring, soos Moses, die kneg van die ware God, die Israeliete in die wildernis beveel het. 10  Al die leiers en die hele volk was vreugdevol,+ en hulle het aangehou om bydraes te bring en dit in die kis te gooi totdat dit vol was.* 11  Wanneer die Leviete die kis na die koning toe gebring het en gesien het dat daar baie geld daarin is, het die sekretaris van die koning en die assistent van die hoofpriester gekom en die kis leeggemaak,+ en dan het hulle dit na sy plek teruggeneem. Dit is wat hulle elke dag gedoen het, en hulle het baie geld ingesamel. 12  Die koning en Jojaʹda het die geld gegee vir die mense wat toesig gehou het oor die werk by Jehovah se huis. En hulle het dan klipkappers en ambagsmanne gehuur om Jehovah se huis op te knap,+ en ook mense wat met yster en koper kon werk om Jehovah se huis te herstel. 13  Die toesighouers het die werk aan die gang gekry. Onder hulle toesig het die werk goed gevorder, en hulle het die huis van die ware God heeltemal herstel en dit versterk. 14  Toe hulle klaar was, het hulle die res van die geld na die koning en na Jojaʹda gebring, en hulle het dit gebruik om voorwerpe vir die huis van Jehovah te maak. Hulle het voorwerpe gemaak vir die diens en vir die brandoffers, sowel as bekers en voorwerpe van silwer en goud.+ En terwyl Jojaʹda gelewe het, het hulle gereeld brandoffers+ by die huis van Jehovah geoffer. 15  Jojaʹda het ’n lang en goeie lewe gehad. Hy was 130 jaar oud toe hy gesterf het. 16  Hy is in die Stad van Dawid by die konings begrawe,+ want hy het goeie dinge in Israel gedoen+ vir die ware God en Sy huis. 17  Ná Jojaʹda se dood het die leiers van Juda na die koning toe gegaan en voor hom neergebuig. En van toe af het die koning na hulle raad geluister. 18  Hulle het opgehou om na die huis van Jehovah, die God van hulle voorvaders, te gaan. En hulle het die heilige pale* en die afgode begin dien. As gevolg van hulle sonde het God kwaad geword vir* Juda en Jerusalem. 19  Jehovah het aangehou om profete na hulle toe te stuur om hulle na hom te laat terugkeer. En die profete het hulle bly waarsku, maar hulle wou nie luister nie.+ 20  God se gees het oor Sagariʹa, die seun van die priester Jojaʹda,+ gekom, en hy het voor* die volk gaan staan en vir hulle gesê: “Dít is wat die ware God sê: ‘Hoekom is julle nie gehoorsaam aan Jehovah se gebooie nie? Julle sal nie suksesvol wees nie! Omdat julle Jehovah verlaat het, sal hy julle verlaat.’”+ 21  Maar hulle het teen hom saamgesweer.+ En hulle het hom op die koning se bevel in die voorhof van Jehovah se huis met klippe doodgegooi.+ 22  Koning Joas het nie gedink aan die liefde wat Jojaʹda, Sagariʹa se pa, aan hom betoon het nie, en hy het sy seun, Sagariʹa, doodgemaak. Net voordat Sagariʹa gesterf het, het hy gesê: “Mag Jehovah jou hiervoor straf.”+ 23  Aan die begin van die volgende jaar* het die Siriese leërmag teen Joas opgetrek, en hulle het Juda en Jerusalem binnegeval.+ Toe het hulle al die leiers+ van die volk doodgemaak, en hulle het al die buit wat hulle gevat het, na die koning van Damaskus gestuur. 24  Hoewel die Siriërs ’n klein leërmag gehad het, het Jehovah hulle die oorwinning oor die groot leërmag van Juda gegee+ omdat die volk Jehovah, die God van hulle voorvaders, verlaat het. So is die Siriërs gebruik om Joas te straf. 25  Toe die Siriërs weggaan, was hy ernstig gewond,* en sy eie knegte het teen hom saamgesweer omdat hy die seun* van die priester Jojaʹda doodgemaak het.+ Hulle het hom op sy bed doodgemaak.+ En hulle het hom in die Stad van Dawid+ begrawe, maar nie in die grafte van die konings nie.+ 26  Die manne wat teen hom saamgesweer het,+ was: Sabad, die seun van Siʹmeat, ’n Ammonitiese vrou, en Joʹsabad, die seun van Simrit, ’n Moabitiese vrou. 27  Die besonderhede oor Joas se seuns, die oordele teen hom+ en die herstelwerk aan* die huis van die ware God+ is alles opgeteken in die kommentaar op die Boek van die konings. En sy seun Amaʹsia het in sy plek koning geword.

Voetnote

Of moontlik “totdat almal ’n bydrae gegee het”.
Lett. “was daar woede teen”.
Of “hoër as”.
Lett. “By die wisseling van die jaar”.
Of “het hy baie siektes gehad”.
Lett. “seuns”. Die meervoudsvorm word moontlik gebruik om voortreflikheid aan te dui.
Lett. “grondvesting van”.