Die tweede boek van Kronieke 29:1-36

  • Hiskia, koning van Juda (1, 2)

  • Hiskia bevorder ware aanbidding (3-11)

  • Tempel gereinig (12-19)

  • Tempeldiens weer ingestel (20-36)

29  Hiskiʹa+ was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Abiʹa, die dogter van Sagariʹa.+  Hy het bly doen wat reg is in Jehovah se oë,+ net soos sy voorvader Dawid gedoen het.+  In sy eerste regeringsjaar, in die eerste maand, het hy die deure van die huis van Jehovah oopgemaak en hulle herstel.+  Toe het hy die priesters en die Leviete op die plein oos van die tempel bymekaar laat kom.  Hy het vir hulle gesê: “Leviete, luister na my. Heilig julle+ en heilig die huis van Jehovah, die God van julle voorvaders, en verwyder alles wat onrein is uit die heiligdom.+  Want ons vaders was ontrou en het gedoen wat sleg is in die oë van Jehovah ons God.+ Hulle het hom verlaat en hulle rug op die tabernakel en op Jehovah gedraai.+  Hulle het ook die deure van die portaal+ toegemaak en die lampe doodgemaak.+ Hulle het opgehou om reukwerk te brand+ en om brandoffers+ in die heiligdom aan die God van Israel te offer.  Daarom het Jehovah so kwaad geword vir Juda en Jerusalem+ dat hy hulle swaar gestraf het* en ’n bespotting laat word het, soos julle met julle eie oë kan sien.+  En ons voorvaders is deur die swaard doodgemaak,+ en ons seuns, ons dogters en ons vrouens is as gevangenes weggeneem.+ 10  Nou is dit my hartsbegeerte om ’n verbond te maak met Jehovah, die God van Israel,+ sodat sy woede teenoor ons kan bedaar. 11  My seuns, dit is nie nou die tyd om julle pligte af te skeep nie, want Jehovah het julle uitgekies om sy dienaars te wees+ en om sy offerandes te offer.”+ 12  Toe het die volgende Leviete met die werk begin: Van die Kehatiete:+ Mahat, die seun van Amaʹsai, en Joël, die seun van Asarʹja. Van die Merariete:+ Kis, die seun van Abdi, en Asarʹja, die seun van Jehalʹlelel. Van die Gersoniete:+ Joag, die seun van Simma, en Eden, die seun van Joag. 13  Van die seuns van Eliʹsafan: Simri en Jeüel. Van die seuns van Asaf:+ Sagariʹa en Mattanʹja. 14  Van die seuns van Heman:+ Jehiʹël en Siʹmeï. Van die seuns van Jeduʹtun:+ Semaʹja en Usʹsiël. 15  Toe het hulle hulle broers bymekaargeroep, en elkeen het homself geheilig. Daarna het hulle die huis van Jehovah gaan reinig, net soos Jehovah hulle deur middel van die koning beveel het.+ 16  Die priesters het in die huis van Jehovah ingegaan om dit te reinig en het alles wat onrein was, uit die tempel van Jehovah gebring, en hulle het dit na die voorhof+ van die huis van Jehovah geneem. En die Leviete het dit na die Kidron-vallei geneem.+ 17  Hulle het op die eerste dag van die eerste maand met die heiliging begin, en op die agtste dag van die maand het hulle gevorder tot by die portaal van Jehovah.+ Dit het hulle agt dae geneem om die huis van Jehovah te heilig, en op die 16de dag van die eerste maand was hulle klaar. 18  Daarna het hulle na koning Hiskiʹa toe gegaan en gesê: “Ons het die hele huis van Jehovah gereinig, die brandofferaltaar+ en al sy voorwerpe+ en die tafel vir die stapelbrode*+ en al sy voorwerpe. 19  En ons het al die voorwerpe wat die ontroue koning Agas+ uit die tempel verwyder het, gereedgemaak en geheilig,+ en dit is voor die altaar van Jehovah.” 20  En koning Hiskiʹa het vroeg opgestaan en die leiers van die stad bymekaargeroep, en hulle het na die huis van Jehovah gegaan. 21  Hulle het sewe bulle, sewe ramme, sewe ramlammers en sewe bokramme as ’n sonde-offer vir die koninkryk, vir die heiligdom en vir Juda gebring.+ Toe het hy vir die priesters, die nakomelinge van Aäron, gesê om dit op die altaar van Jehovah te offer. 22  Hulle het die beeste geslag,+ en die priesters het die bloed geneem en dit op die altaar gesprinkel.+ Daarna het hulle die ramme geslag en die bloed op die altaar gesprinkel, en toe het hulle die ramlammers geslag en die bloed op die altaar gesprinkel. 23  Daarna het hulle die bokramme van die sonde-offer na die koning en die gemeente geneem en hulle hande op die bokramme gesit. 24  Die priesters het die bokramme geslag en hulle as ’n sonde-offer geoffer. Hulle het die bloed op die altaar uitgegooi om vir die hele Israel versoening te doen, want die koning het gesê dat die brandoffer en die sonde-offer vir die hele Israel geoffer moet word. 25  Intussen het hy die Leviete by die huis van Jehovah laat staan met simbale, met harpe+ en ander snaarinstrumente, soos Dawid+ en Gad,+ die koning se siener, en die profeet Natan+ beveel het, want dit was ’n opdrag wat van Jehovah self gekom het deur middel van sy profete. 26  Die Leviete het dus met die instrumente van Dawid op hulle plekke gestaan, en die priesters met die trompette.+ 27  Toe het Hiskiʹa gesê dat die brandoffer op die altaar geoffer moet word.+ En toe hulle dit begin doen, het die sangers die lied van Jehovah begin sing en is daar op die trompette geblaas onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel. 28  En die hele gemeente het neergebuig terwyl die lied gesing is en daar op die trompette geblaas is. Dit het aangehou totdat die brandoffer klaar was. 29  En nadat hulle die brandoffer geoffer het, het die koning en almal wat by hom was, op hulle knieë gegaan en neergebuig. 30  Koning Hiskiʹa en die leiers het toe vir die Leviete gesê om Jehovah met die woorde van Dawid+ en van die siener Asaf+ te loof. Daarom het hulle lofliedere met groot vreugde begin sing, en hulle het op hulle knieë gegaan en neergebuig. 31  Toe het Hiskiʹa gesê: “Julle is nou afgesonder* vir die diens van Jehovah. Bring offerandes en dankoffers na die huis van Jehovah.” En die gemeente het offerandes en dankoffers begin bring, en elkeen met ’n gewillige hart het brandoffers gebring.+ 32  Die gemeente het 70 beeste, 100 ramme en 200 ramlammers as ’n brandoffer aan Jehovah gebring.+ 33  Hulle het ook 600 beeste en 3 000 skape as heilige offers gebring. 34  Maar daar was nie genoeg priesters om die velle van die diere af te slag wat as brandoffers geoffer moes word nie. Daarom het hulle broers, die Leviete, hulle gehelp+ totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself kon heilig,+ want die priesters was nie so ywerig* soos die Leviete om hulleself te heilig nie. 35  En daar was baie brandoffers+ en vetstukke van die vrede-offers*+ sowel as drankoffers wat saam met die brandoffers geoffer is.+ So is die diens by die huis van Jehovah weer ingestel. 36  Hiskiʹa en die hele volk was vreugdevol oor wat die ware God vir die volk gedoen het,+ want dit het alles so vinnig gebeur.

Voetnote

Of “iets afgrysliks gemaak het”.
D.w.s. die offerbrode.
Lett. “Nou het julle julle hand gevul”.
Lett. “opreg van hart”.
Of “gemeenskapsoffers”.