Die tweede boek van Kronieke 30:1-27

  • Hiskia hou Pasga (1-27)

30  Hiskiʹa het ’n boodskap aan die hele Israel+ en Juda gestuur – hy het selfs briewe aan Eʹfraim en Manasʹse+ geskryf – om te sê dat hulle na die huis van Jehovah in Jerusalem moet gaan om die Pasga vir Jehovah, die God van Israel, te hou.+  Maar die koning, sy hoë amptenare en die hele gemeente in Jerusalem het besluit om die Pasga in die tweede maand te hou,+  want hulle kon dit nie op die gewone tyd hou nie+ omdat daar nie genoeg priesters was wat hulleself geheilig het nie+ en omdat die volk nie in Jerusalem bymekaargekom het nie.  Die koning en die hele gemeente het gedink dat dit ’n goeie reëling is.  Daarom het hulle besluit om ’n boodskap te stuur aan die hele Israel, van Berseʹba tot Dan,+ om te sê dat die volk na Jerusalem moet kom om die Pasga vir Jehovah, die God van Israel, te hou. Want hulle het dit vir ’n lang tyd nie as ’n groep gehou, soos die Wet vereis het nie.+  Toe het die boodskappers* op die koning se bevel deur die hele Israel en Juda gegaan met die briewe van die koning en sy hoë amptenare, wat gesê het: “Israeliete, keer terug na Jehovah, die God van Abraham, Isak en Israel, sodat hy kan terugkeer na julle wat oorgebly het ná die aanvalle van die konings van Assiʹrië.+  Moenie soos julle voorvaders en julle broers wees wat ontrou aan Jehovah, die God van hulle voorvaders, was nie. Hy het hulle swaar gestraf,* soos julle kan sien.+  Moenie hardkoppig wees soos julle voorvaders nie.+ Doen wat Jehovah wil hê en gaan na sy heiligdom+ wat hy vir ewig as heilig afgesonder het, en dien Jehovah julle God sodat sy woede teenoor julle kan bedaar.+  As julle na Jehovah terugkeer, sal dié wat julle broers en julle seuns gevange geneem het, genade aan hulle betoon+ en hulle na hierdie land laat terugkeer.+ Want Jehovah julle God is vol medelye* en genade,+ en hy sal julle nie verwerp as julle na hom terugkeer nie.”+ 10  En die boodskappers* het van stad tot stad deur die hele land van Eʹfraim en Manasʹse gegaan,+ selfs tot by Seʹbulon, maar die volk het hulle gespot en hulle uitgelag.+ 11  Maar sommige uit Aser, Manasʹse en Seʹbulon was gehoorsaam en het na Jerusalem gegaan.+ 12  Die ware God het Juda gehelp om die bevel van die koning en die leiers, wat in werklikheid van Jehovah gekom het, eensgesind te gehoorsaam. 13  ’n Groot skare, ’n baie groot gemeente, het in Jerusalem bymekaargekom om die Fees van die Ongesuurde Brode+ in die tweede maand te hou.+ 14  Hulle het die altare en al die reukaltare+ verwyder wat in Jerusalem was+ en dit in die Kidron-vallei gegooi. 15  Toe het hulle die Pasga-offer op die 14de dag van die tweede maand geslag. Die priesters en die Leviete het skaam geword, en daarom het hulle hulleself geheilig en brandoffers na die huis van Jehovah gebring. 16  Hulle het op hulle plekke gaan staan, soos vereis deur die Wet van Moses, die man van die ware God. Toe het die priesters die bloed wat hulle van die Leviete ontvang het, op die altaar gesprinkel.+ 17  Baie in die gemeente het hulle nie geheilig nie, en die Leviete moes die Pasga-offers slag vir almal wat nie rein was nie,+ om hulle vir Jehovah te heilig. 18  Want ’n groot deel van die volk, veral dié uit Eʹfraim, Manasʹse,+ Isʹsaskar en Seʹbulon, het hulle nie gereinig nie, maar hulle het die Pasga nog steeds geëet, al was dit teen die Wet. Maar Hiskiʹa het vir hulle gebid en gesê: “Mag Jehovah, wat goed is,+ elkeen vergewe 19  wat sy hart voorberei het om die ware God, Jehovah, die God van sy voorvaders, te aanbid,+ al was hy nie rein vir die heilige viering nie.”+ 20  En Jehovah het na Hiskiʹa geluister en die volk vergewe.* 21  Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die Fees van die Ongesuurde Brode+ sewe dae lank met groot blydskap gevier.+ En die Leviete en die priesters het Jehovah dag ná dag geloof en voor Jehovah op hulle musiekinstrumente gespeel.+ 22  Hiskiʹa het al die Leviete wat Jehovah met goeie oordeel gedien het, aangemoedig. En hulle het gedurende die sewe dae van die fees geëet,+ vrede-offers* geoffer+ en Jehovah, die God van hulle voorvaders, gedank. 23  Toe het die hele gemeente besluit om dit nog sewe dae te hou, en hulle het dit nog sewe dae met groot blydskap gehou.+ 24  En koning Hiskiʹa van Juda het vir die gemeente 1 000 bulle en 7 000 skape bygedra, en die leiers het vir die gemeente 1 000 bulle en 10 000 skape bygedra.+ En ’n groot aantal priesters het hulleself geheilig.+ 25  En die hele gemeente van Juda, die priesters, die Leviete, die hele gemeente wat van Israel gekom het+ en die uitlanders+ wat van die land van Israel gekom het en dié wat in Juda gewoon het, was die hele tyd vreugdevol. 26  En daar was groot blydskap in Jerusalem, want dit was die eerste keer vanaf die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, dat so iets in Jerusalem gebeur het.+ 27  Toe het die Levitiese priesters opgestaan en die volk geseën.+ God het hulle stem gehoor, en hulle gebed het sy heilige woonplek, die hemel, bereik.

Voetnote

Lett. “hardlopers”.
Of “iets afgrysliks gemaak”.
Lett. “hardlopers”.
Lett. “genees”.
Of “gemeenskapsoffers”.