Die tweede boek van Kronieke 9:1-31

  • Koningin van Skeba besoek Salomo (1-12)

  • Salomo se rykdom (13-28)

  • Salomo sterf (29-31)

9  Die koningin van Skeba+ het die berig oor Salomo gehoor, en daarom het sy na Jerusalem gegaan om Salomo met moeilike vrae* te toets. Sy het ’n groot groep dienaars gehad, en kamele wat balsemolie en baie goud+ en edelstene dra. Sy het na Salomo toe gegaan en hom gevra oor alles wat sy wou weet.+  Salomo het toe al haar vrae beantwoord. Daar was niks wat vir Salomo te moeilik was* en wat hy nie aan haar kon verduidelik nie.  Toe die koningin van Skeba sien hoe wys Salomo is+ en toe sy die huis sien wat hy gebou het,+  sowel as die kos van sy tafel,+ hoe sy knegte aan tafel gesit het, die bediening en kleredrag van sy tafelbediendes, sy skinkers en hulle kleredrag en die brandoffers wat hy gereeld by die huis van Jehovah geoffer het,+ het dit haar asem weggeslaan.*  Sy het toe vir die koning gesê: “Die berig wat ek in my land oor u prestasies* en oor u wysheid gehoor het, is waar.  Maar ek het nie die berigte geglo totdat ek gekom het en alles met my eie oë gesien het nie.+ En hulle het my nie eers die helfte vertel oor u groot wysheid nie!+ U het alles wat ek gehoor het, ver oortref.+  Gelukkig is u manne en gelukkig is u knegte wat heeltyd voor u staan en na u wysheid luister!  Mag Jehovah u God geloof word, wat lief is vir u en u op sy troon geplaas het as koning vir Jehovah u God. As gevolg van God se liefde vir Israel+ en omdat hy dit vir ewig wil laat bestaan, het hy u as koning oor Israel aangestel om met regverdigheid te oordeel.”  Toe het sy vir die koning 120 talente* goud+ en baie balsemolie en edelstene gegee. Nooit weer is daar soveel balsemolie gebring as wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.+ 10  En die knegte van Hiram en die knegte van Salomo wat goud uit Ofir gebring het,+ het ook sandelhout en edelstene gebring.+ 11  Van die sandelhout het die koning trappe vir die huis van Jehovah+ en vir die koning se paleis gemaak,+ sowel as harpe en ander snaarinstrumente vir die sangers.+ So iets was nooit tevore in die land van Juda gesien nie. 12  En koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê en waarvoor sy gevra het, meer as* wat sy vir die koning gebring het. Toe het sy saam met haar knegte na haar land teruggegaan.+ 13  Salomo se jaarlikse inkomste was 666 talente goud,+ 14  buiten die goud en silwer wat die koopmanne, die handelaars, al die konings van die Arabiere en die goewerneurs van die land vir Salomo gebring het.+ 15  Koning Salomo het 200 groot skilde van goud* gemaak+ (elke skild is met 600 sikkels* goud* bedek),+ 16  asook 300 klein skilde* van goud* (elke klein skild is met drie minas* goud bedek). Toe het die koning dit in die Huis van die Liʹbanon-woud+ gesit. 17  Die koning het ook ’n groot ivoortroon gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.+ 18  Daar was ses trappe na die troon toe, en daar was ’n goue voetbank wat vas was aan die troon. En daar was armleunings aan albei kante van die sitplek, en twee leeus+ het langs die armleunings gestaan. 19  en 12 leeus+ het op die ses trappe gestaan, een aan elke kant van die ses trappe. Geen ander koninkryk het so iets gehad nie. 20  Al die drinkhouers van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die Huis van die Liʹbanon-woud was van suiwer goud. Niks was van silwer gemaak nie. In Salomo se tyd is silwer as niks beskou nie,+ 21  want die koning se skepe het saam met die knegte van Hiram+ na Tarsis+ gevaar, en die Tarsis-skepe het elke drie jaar teruggekeer, gelaai met goud en silwer, ivoor,+ ape en poue. 22  Koning Salomo was ryker en wyser as al die ander konings van die aarde.+ 23  En die konings van regoor die aarde wou Salomo besoek om die wysheid te hoor wat die ware God in sy hart geplaas het.+ 24  Hulle het elkeen ’n geskenk gebring – silwervoorwerpe, goue voorwerpe, klere,+ wapens, balsemolie, perde en muile. Dit het jaar ná jaar gebeur. 25  En Salomo het 4 000 stalle vir sy perde en strydwaens gehad, en hy het 12 000 perde* gehad.+ Hy het hulle in die strydwastede en naby die koning in Jerusalem gehou.+ 26  En hy het regeer oor al die konings van die Rivier* af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte.+ 27  Die koning het die silwer in Jerusalem so volop soos die klippe gemaak, en sederhout so volop soos die wildevyebome in die Sjefeʹla.+ 28  En hulle het vir Salomo perde uit Egipte+ en uit al die ander lande gebring. 29  Die res van die geskiedenis van Salomo+ is van begin tot einde opgeteken in die geskrifte van die profeet Natan,+ in die profesie van Ahiʹa,+ die Siloniet, en in die siener Iddo se verslag van visioene+ oor Jeroʹbeam,+ die seun van Nebat. 30  Salomo het 40 jaar lank in Jerusalem oor die hele Israel regeer. 31  Toe het Salomo gesterf.* Hulle het hom in die Stad van Dawid, sy pa,+ begrawe, en sy seun Rehaʹbeam het in sy plek koning geword.+

Voetnote

Of “met raaisels”.
Lett. “verborge was”.
Lett. “was daar nie meer gees in haar nie”.
Of “woorde”.
’n Talent was gelyk aan 34,2 kg. Sien Aanh. B14.
Of moontlik “buiten geskenke wat ooreengestem het met die waarde van”.
Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.
’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.
Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.
Klein skilde is gewoonlik deur boogskutters gedra.
Goud wat met ’n ander metaal gemeng is.
’n Mina in die Hebreeuse Geskrifte was gelyk aan 570 g. Sien Aanh. B14.
Of “perderuiters”.
Die Eufraatrivier.
Lett. “is Salomo by sy vaders neergelê”.