Die tweede boek van Samuel 13:1-39

  • Amnon verkrag Tamar (1-22)

  • Absalom maak Amnon dood (23-33)

  • Absalom vlug na Gesur (34-39)

13  Dawid se seun Absalom het ’n pragtige suster gehad met die naam Tamar.+ En Dawid se seun Amnon+ het op haar verlief geraak.  Amnon was so ontsteld dat hy siek geword het oor sy suster Tamar. Sy was ’n maagd, en dit het vir hom onmoontlik gelyk om naby haar te kom.  Amnon het ’n vriend gehad met die naam Joʹnadab,+ die seun van Dawid se broer Simea.+ En Joʹnadab was ’n baie slinkse man.  Hy het vir hom gevra: “Hoekom is jy, die seun van die koning, elke oggend so terneergedruk? Sê vir my.” Amnon het geantwoord: “Ek is verlief op Tamar, die suster+ van my broer Absalom.”  Joʹnadab het vir hom gesê: “Gaan lê op jou bed en maak asof jy siek is. Wanneer jou pa jou kom sien, moet jy vir hom sê: ‘Laat my suster Tamar asseblief vir my ’n bietjie kos kom bedien. As sy die kos* voor my maak, sal ek dit by haar neem.’”  Amnon het toe gaan lê en gemaak asof hy siek is, en die koning het ingekom om hom te sien. Toe het Amnon vir die koning gesê: “Laat my suster Tamar asseblief inkom en twee hartvormige koeke voor my bak sodat ek dit by haar kan neem.”  Tamar was by die huis, en Dawid het die volgende boodskap aan haar gestuur: “Gaan asseblief na die huis van jou broer Amnon en maak vir hom kos.”*  Tamar het toe na die huis van haar broer Amnon gegaan, waar hy gelê het. Sy het daar voor hom die deeg geneem, dit geknie, dit in koeke gevorm en die koeke gaargemaak.  Daarna het sy die pan geneem en hom bedien. Maar Amnon het geweier om te eet en het gesê: “Stuur almal van my af weg!” Toe het almal van hom af weggegaan. 10  Amnon het toe vir Tamar gesê: “Bring die kos* na die slaapkamer, sodat jy dit vir my kan gee.” Toe het Tamar die hartvormige koeke wat sy gemaak het, na haar broer Amnon in die slaapkamer geneem. 11  Toe sy dit vir hom gee om te eet, het hy haar gegryp en gesê: “Kom, lê by my, my suster.” 12  Maar sy het vir hom gesê: “Nee, my broer! Moenie my verneder nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie.+ Moenie hierdie skandelike ding doen nie.+ 13  Hoe sou ek so ’n skande kon verduur? En jy sal ’n baie slegte reputasie in Israel kry. Gaan praat asseblief met die koning, want hy sal my vir seker vir jou gee.” 14  Maar hy het geweier om na haar te luister, en hy het haar oorweldig en haar verneder deur haar te verkrag. 15  Toe het Amnon haar intens begin haat. Sy haat vir haar was selfs groter as die liefde wat hy voorheen vir haar gehad het. Amnon het vir haar gesê: “Staan op. Gaan weg!” 16  Sy het toe vir hom gesê: “Nee, my broer, om my nou weg te stuur, sal nog erger wees as wat jy reeds aan my gedoen het!” Maar hy het geweier om na haar te luister. 17  Toe het hy sy jong dienaar geroep en gesê: “Neem hierdie vrou asseblief van my af weg en sluit die deur agter haar.” 18  (Sy het ’n spesiale* kleed aangehad, want dit is wat die dogters van die koning wat nog maagde was, gedra het.) Sy dienaar het haar buitentoe geneem, en hy het die deur agter haar gesluit. 19  Toe het Tamar as op haar kop gesit+ en die pragtige kleed wat sy aangehad het, geskeur. En sy het haar hande op haar kop gehou en geskree terwyl sy weggeloop het. 20  Toe het haar broer Absalom+ vir haar gesê: “Was dit jou broer Amnon wat by jou was? Bly dan nou stil, my suster. Hy is jou broer.+ Moenie te veel daaraan dink nie.” Tamar het toe in afsondering in die huis van haar broer Absalom gewoon. 21  Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, het hy baie kwaad geword.+ Maar hy wou nie die gevoelens van sy seun Amnon seermaak nie, want hy het hom liefgehad omdat hy sy eersgeborene was. 22  En Absalom het niks vir Amnon gesê nie, nie iets goeds of iets slegs nie, want Absalom het Amnon gehaat+ omdat hy sy suster Tamar verneder het.+ 23  Twee jaar later was Absalom se skaapskeerders by Baäl-Hasor, naby Eʹfraim,+ en Absalom het al die koning se seuns genooi.+ 24  Toe het Absalom by die koning gekom en gesê: “Ek laat my skape skeer! Kom asseblief saam met my en laat u knegte ook saamkom.” 25  Maar die koning het vir Absalom gesê: “Nee, my seun. As ons almal gaan, sal ons vir jou ’n las wees.” Hoewel Absalom hom bly vra het, wou die koning nie gaan nie, maar hy het hom geseën. 26  Absalom het toe gesê: “As u nie wil saamgaan nie, laat my broer Amnon dan asseblief saam met ons gaan.”+ Die koning het geantwoord: “Hoekom moet hy saam met jou gaan?” 27  Maar Absalom het by hom aangedring, en daarom het hy Amnon en al die koning se seuns saam met hom gestuur. 28  Toe het Absalom sy dienaars die volgende bevel gegee: “Hou Amnon dop, en wanneer hy vrolik is van die wyn, sal ek vir julle sê: ‘Maak Amnon dood!’ Dan moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie. Ek het julle mos die bevel gegee. Wees sterk en moedig.” 29  Absalom se dienaars het toe aan Amnon gedoen net soos Absalom beveel het. Toe het al die ander seuns van die koning opgestaan, op hulle muile geklim en gevlug. 30  Terwyl hulle op pad was, het Dawid die nuus gehoor: “Absalom het al die seuns van die koning doodgemaak, en nie een van hulle het oorleef nie.” 31  Toe het die koning opgestaan en sy klere geskeur en op die grond gaan lê, en al sy knegte het met geskeurde klere daar gestaan. 32  Maar Joʹnadab,+ die seun van Dawid se broer Simea,+ het gesê: “My heer moenie dink dat al die jong manne, die seuns van die koning, doodgemaak is nie, want dit is net Amnon wat gesterf het.+ Absalom het beveel dat hy doodgemaak moet word.+ Hy het beplan om dit te doen van die dag af dat Amnon sy suster+ Tamar+ verneder het. 33  My heer die koning moenie die berig glo* dat al die koning se seuns gesterf het nie. Net Amnon het gesterf.” 34  Intussen het Absalom gevlug.+ Later het die wag baie mense op die pad aan die kant van die berg sien aankom. 35  Toe het Joʹnadab+ vir die koning gesê: “Kyk! Die koning se seuns het teruggekom. Dit is net soos u kneg gesê het.” 36  Net toe hy dit sê, het die koning se seuns al huilende daar aangekom. En die koning en al sy knegte het bitterlik gehuil. 37  Maar Absalom het gevlug en gegaan na Talmai,+ die seun van Ammiʹhud, die koning van Gesur. Dawid het baie dae oor sy seun getreur. 38  Nadat Absalom na Gesur+ gevlug het, het hy drie jaar lank daar gebly. 39  Ná verloop van tyd het koning Dawid Amnon se dood aanvaar en na Absalom begin verlang.

Voetnote

Of “brood vir vertroosting”.
Of “brood vir vertroosting”.
Of “brood vir vertroosting”.
Of “versierde”.
Lett. “ter harte neem”.