Die tweede boek van Samuel 20:1-26

  • Seba se opstand; Joab maak Amasa dood (1-13)

  • Seba agternagesit en sy kop afgekap (14-22)

  • Dawid se administrasie (23-26)

20  Daar was ’n moeilikheidmaker met die naam Seba,+ die seun van Bigri, ’n Benjaminiet. Hy het op die horing geblaas+ en gesê: “Ons het geen reg op Dawid nie, en ons het geen erfdeel saam met die seun van Isai nie.+ Laat elkeen na sy gode* gaan, o Israel!”+  Toe het al die manne van Israel opgehou om Dawid te volg en hulle het Seba, die seun van Bigri, gevolg,+ maar die manne van Juda het by hulle koning gebly en het hom van die Jordaanrivier af tot by Jerusalem gevolg.+  Toe Dawid by sy paleis in Jerusalem kom,+ het die koning die tien byvrouens wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas+ in ’n huis onder bewaking gesit. Hy het hulle van kos voorsien, maar hy het nie seksuele omgang met hulle gehad nie.+ Hulle was tot die dag van hulle dood in afsondering en het gelewe asof hulle weduwees is, hoewel hulle man gelewe het.  Die koning het toe vir Amaʹsa+ gesê: “Roep die manne van Juda vir my binne drie dae bymekaar, en jy moet ook hier wees.”  Toe het Amaʹsa gegaan om Juda bymekaar te roep, maar hy het later gekom as wat die koning vir hom gesê het om te kom.  Dawid het toe vir Abiʹsai+ gesê: “Seba,+ die seun van Bigri, sal vir ons meer moeilikheid maak as wat Absalom gedoen het.+ Neem die knegte van jou heer en sit hom agterna, sodat hy nie ’n versterkte stad bereik en van ons af wegkom nie.”  Toe het die manne van Joab,+ die Keretiete, die Peletiete+ en al die sterk manne agter hom aan gegaan. Hulle het Jerusalem verlaat om Seba, die seun van Bigri, agterna te sit.  Toe hulle naby die groot klip in Giʹbeon+ was, het Amaʹsa+ hulle kom ontmoet. Joab het sy wapenrusting aangehad, en aan sy heup was daar ’n swaard in sy skede. Toe hy vorentoe stap, het hy sy swaard laat uitval.  Joab het vir Amaʹsa gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” Toe het Joab Amaʹsa se baard met sy regterhand gegryp asof hy hom wou soen. 10  Amaʹsa was nie op sy hoede vir die swaard wat in Joab se hand was nie, en Joab het hom in die maag gesteek,+ en sy ingewande het op die grond uitgeval. Dit was nie vir hom nodig om hom weer te steek nie – een keer was genoeg om hom dood te maak. Joab en sy broer Abiʹsai het toe vir Seba, die seun van Bigri, agternagesit. 11  Een van Joab se jong manne het by hom gestaan en gesê: “Laat almal wat aan Joab se kant is en wat aan Dawid behoort, vir Joab volg!” 12  Amaʹsa het die hele tyd in die middel van die pad in sy bloed lê en rol. Toe die man sien dat al die mense daar stilstaan, het hy Amaʹsa van die pad na die veld geskuif. Hy het toe ’n kleed oor hom gegooi omdat hy gesien het dat almal stilstaan wanneer hulle by hom kom. 13  Nadat hy hom uit die pad geskuif het, het al die manne Joab gevolg en Seba,+ die seun van Bigri, agternagesit. 14  Seba het deur die gebied van al die stamme van Israel na die stad Abel van Bet-Maʹäga+ gegaan. Die Bigriete het bymekaargekom en hom gevolg en ook daar ingegaan. 15  Joab en sy manne het gekom en Seba in Abel van Bet-Maʹäga omsingel en ’n beleëringswal teen die stad opgerig, aangesien dit ’n versterkte muur* rondom gehad het. En al die manne wat by Joab was, was besig om die muur te ondergrawe sodat hulle dit kon afbreek. 16  ’n Wyse vrou het uit die stad geroep: “Luister, manne! Sê asseblief vir Joab dat hy hiernatoe moet kom sodat ek met hom kan praat.” 17  Hy het nader gegaan en die vrou het gevra: “Is u Joab?” Hy het geantwoord: “Ja.” Toe het sy vir hom gesê: “Luister na die woorde van u kneg.” Hy het gesê: “Ek luister.” 18  Sy het toe gesê: “In die verlede het hulle altyd gesê: ‘Laat hulle in Abel raad vra, en dit sal die einde van die saak wees.’ 19  Ek verteenwoordig die vredeliewendes en getroues van Israel. U wil nou ’n stad vernietig wat soos ’n moeder in Israel is. Hoekom wil u die erfdeel van Jehovah+ uitroei?” 20  Joab het geantwoord: “Ek wil glad nie die stad uitroei of vernietig nie. 21  Dit is nie hoekom ek hier is nie. Maar ’n man uit die bergstreek van Eʹfraim+ met die naam Seba,+ die seun van Bigri, het teen koning Dawid in opstand gekom.* As jy hierdie een man aan my oorgee, sal ek van die stad af wegtrek.” Toe het die vrou vir Joab gesê: “Goed! Sy kop sal oor die muur na u toe gegooi word!” 22  Die wyse vrou het dadelik na al die mense toe gegaan, en hulle het die kop van Seba, die seun van Bigri, afgekap en dit na Joab toe gegooi. Toe het hy op die horing geblaas, en hulle het van die stad af weggegaan, elkeen na sy huis toe.+ En Joab het na die koning in Jerusalem teruggekeer. 23  Joab was oor die hele leërmag van Israel.+ Benaʹja,+ die seun van Jojaʹda,+ was oor die Keretiete en oor die Peletiete.+ 24  Adoʹram+ was oor die mense wat opgeroep is om vir die koning te werk, en Joʹsafat,+ die seun van Ahiʹlud, was die geskiedskrywer. 25  Sewa was die sekretaris. Sadok+ en Abjaʹtar+ was priesters. 26  En Ira, die Jaïriet, het ook een van Dawid se hoofamptenare* geword.

Voetnote

Of moontlik “tente”.
Of “’n skans”.
Lett. “sy hand opgelig”.
Lett. “’n priester van Dawid”.