Die tweede boek van Samuel 6:1-23

  • Ark na Jerusalem gebring (1-23)

    • Ussa gryp Ark en word doodgemaak (6-8)

    • Migal verag Dawid (16, 20-23)

6  Dawid het weer die beste soldate in Israel bymekaargekry, 30 000 manne.  Toe het Dawid en al die manne by hom na Baʹäle-Juʹda gegaan om die Ark van die ware God te gaan haal.+ Dit is voor hierdie Ark dat die naam van Jehovah van die leërmagte,+ wat op sy troon bo* die gerubs sit,+ aangeroep word.  Maar hulle het die Ark van die ware God op ’n nuwe wa+ gesit om dit te vervoer van Abinaʹdab+ se huis af, wat op die heuwel was. Ussa en Agjo, die seuns van Abinaʹdab, het die nuwe wa gelei.  So het hulle die Ark van die ware God vervoer van Abinaʹdab se huis af, wat op die heuwel was, en Agjo het voor die Ark geloop.  Dawid en die hele huis van Israel het die geleentheid voor Jehovah gevier met allerhande instrumente van jenewerhout, met harpe en ander snaarinstrumente,+ tamboeryne,+ sistrums en simbale.+  Maar toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand na die Ark van die ware God uitgesteek en dit gegryp,+ want die beeste het dit amper laat afval.  Toe het Jehovah woedend geword vir Ussa, en die ware God het hom daar doodgemaak+ omdat hy disrespekvol opgetree het,+ en hy het daar langs die Ark van die ware God gesterf.  En Dawid het kwaad* geword omdat Jehovah dadelik teen Ussa opgetree het, en daardie plek word tot vandag toe Peres-Ussa* genoem.  Op daardie dag het Dawid vir Jehovah bang geword+ en gesê: “Hoe sal die Ark van Jehovah nou na my toe gebring word?”+ 10  Dawid wou nie die Ark van Jehovah na hom toe bring in die Stad van Dawid+ nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom,+ die Gittiet, laat neem. 11  Die Ark van Jehovah het drie maande lank in die huis van Obed-Edom, die Gittiet, gebly, en Jehovah het Obed-Edom en sy hele huisgesin bly seën.+ 12  Toe het koning Dawid die volgende boodskap ontvang: “Jehovah het die huis van Obed-Edom en alles wat hy het, geseën weens die Ark van die ware God.” En Dawid het gegaan om die Ark van die ware God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid te bring.+ 13  Toe die draers+ van die Ark van Jehovah ses treë gestap het, het hy ’n bul en ’n vetgemaakte dier geoffer. 14  Dawid het met al sy mag voor Jehovah gedans, en hy het die hele tyd ’n linne-efod aangehad.+ 15  Dawid en die hele huis van Israel het uitgeroep van vreugde+ en op die horing geblaas+ terwyl hulle die Ark+ van Jehovah na die stad gebring het. 16  Maar toe die Ark van Jehovah in die Stad van Dawid inkom, het Saul se dogter Migal+ deur die venster afgekyk en gesien hoe koning Dawid voor Jehovah spring en dans. En sy het hom in haar hart begin verag.+ 17  Toe het hulle die Ark van Jehovah gebring en dit op sy plek gesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het.+ Daarna het Dawid brandoffers+ en vrede-offers*+ voor Jehovah geoffer.+ 18  Nadat Dawid die brandoffers en die vrede-offers* geoffer het, het hy die volk in die naam van Jehovah van die leërmagte geseën. 19  En hy het aan die hele volk, aan die hele Israel, aan elke man en vrou, ’n ringvormige brood, ’n dadelkoek en ’n rosynekoek gegee, en daarna het die hele volk na hulle huise toe gegaan. 20  Toe Dawid terugkeer om sy huisgesin te seën, het Saul se dogter Migal+ na Dawid toe uitgekom. Sy het gesê: “Hoe geëerd het die koning van Israel hom tog gemaak toe hy hom vandag voor die slavinne van sy knegte halfkaal uitgetrek het, net soos ’n verstandelose man sy klere in die openbaar uittrek!”+ 21  Dawid het toe vir Migal gesê: “Ek het die geleentheid voor Jehovah gevier, wat my bo jou pa en sy hele huisgesin gekies het en wat my as leier oor Jehovah se volk, Israel, aangestel het.+ Daarom sal ek die geleentheid voor Jehovah vier, 22  en ek sal my nog verder verneder, en ek sal my in my eie oë verlaag. Maar ek sal deur die slavinne wat jy genoem het, verheerlik word.” 23  En Saul se dogter Migal+ het tot die dag van haar dood geen kinders gehad nie.

Voetnote

Of moontlik “tussen”.
Of “ontsteld”.
Beteken “deurbraak teen Ussa”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Of “gemeenskapsoffers”.