Esegiël 35:1-15
-
Profesie teen berge van Seïr (1-15)
35 Jehovah het weer met my gepraat en gesê:
2 “Mensekind, draai jou gesig na die bergstreek Seïr+ en profeteer teen hom.+
3 Sê vir hom: ‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: “Ek is teen jou, bergstreek Seïr, en ek sal my hand teen jou uitsteek en jou ’n verlate plek maak.+
4 Ek sal jou stede verwoeste plekke maak, en jy sal ’n verlate plek word,+ en jy sal moet weet dat ek Jehovah is.
5 Jy was altyd net vyandig,+ en jy het die Israeliete aan die swaard oorgelewer in die tyd van hulle rampspoed, in die tyd van hulle laaste straf.”’+
6 “‘Daarom, so waar as wat ek lewe,’ sê die Soewereine Heer Jehovah, ‘ek sal jou vir bloedskuld gereedmaak, en die dood* sal jou agtervolg.+ Omdat jy bloed gehaat het, sal die dood jou agtervolg.+
7 Ek sal die bergstreek Seïr ’n verlate plek maak,+ en ek sal enigeen uit hom uitroei wat daardeur gaan en enigeen wat terugkeer.
8 Ek sal jou berge vul met dié wat doodgemaak is, en die wat met die swaard doodgemaak is, sal op jou heuwels, in jou valleie en in al jou strome val.
9 Ek sal jou ’n plek maak wat vir ewig verlate is, en jou stede sal nie bewoon word nie,+ en julle sal moet weet dat ek Jehovah is.’
10 “Jy het gesê: ‘Hierdie twee nasies en hierdie twee lande sal myne word, en ons sal albei in besit neem,’+ al was Jehovah daar.
11 ‘Daarom, so waar as wat ek lewe,’ sê die Soewereine Heer Jehovah, ‘ek sal ook teen jou optree volgens dieselfde woede en jaloesie wat jy getoon het in jou haat teenoor hulle,+ en ek sal my onder hulle bekend maak wanneer ek jou oordeel.
12 Jy sal dan moet weet dat ek, Jehovah, al die beledigende dinge gehoor het wat jy van die berge van Israel gesê het toe jy gesê het: “Hulle is verwoes en aan ons gegee om te verslind.”*
13 En julle het met trots teen my gepraat en baie woorde teen my gesê.+ Ek het dit alles gehoor.’
14 “Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: ‘Die hele aarde sal bly wees wanneer ek jou ’n verlate plek maak.
15 Net soos jy bly was toe die erfdeel van die huis van Israel verwoes is, so sal ek met jou maak.+ Jy sal ’n verlate plek word, o bergstreek Seïr, ja, die hele Edom,+ en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.’”