Esegiël 38:1-23

  • Gog se aanval op Israel (1-16)

  • Jehovah se woede teen Gog (17-23)

    • ‘Nasies sal moet weet dat ek Jehovah is’ (23)

38  Jehovah het weer met my gepraat en gesê:  “Mensekind, draai jou gesig na Gog van die land Magog,+ die belangrikste hoofman* van Meseg en Tubal,+ en profeteer teen hom.+  Sê: ‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: “Ek is teen jou, o Gog, belangrikste hoofman* van Meseg en Tubal.  Ek sal jou laat omdraai en hake in jou kakebene sit+ en jou uitbring met jou hele leërmag,+ perde en perderuiters, almal met pragtige klere aan, ’n baie groot groep met groot skilde en klein skilde,* almal met ’n swaard in die hand.  Persië, Etiopië en Put+ is by hulle, almal met klein skilde en helms.  Gomer en al sy soldate, die huis van Togarʹma,+ uit die mees afgeleë dele van die noorde, saam met al sy soldate – baie volke is by jou.+  “‘“Wees gereed en berei julle voor, jy en jou leërmagte wat by jou bymekaargekom het, en jy sal hulle bevelvoerder* wees.  “‘“Ná baie dae sal daar aandag aan jou geskenk word.* Aan die einde van die jare sal jy die land binneval van die mense wat van die verwoestende swaard herstel het en wat uit baie volke op die berge van Israel bymekaargemaak is, ’n land wat lank verwoes gelê het. Die inwoners van hierdie land is herstel uit die volke, en hulle almal woon in veiligheid.+  Jy sal soos ’n storm teen hulle kom, en jy sal die land soos wolke bedek, jy en al jou soldate en baie volke saam met jou.”’ 10  “Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: ‘Op daardie dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ’n goddelose plan uitdink. 11  Jy sal sê: “Ek sal die land van onbeskermde dorpies* binneval.+ Ek sal kom teen dié wat in veiligheid woon sonder dat enigiets hulle steur, almal wat woon in dorpies wat nie deur mure, grendels of poorte beskerm word nie.” 12  Dit sal wees om hulle van hulle besittings te beroof, om die verwoeste plekke aan te val wat nou weer bewoon word,+ sowel as ’n volk wat uit die nasies bymekaargemaak is,+ wat rykdom en eiendom versamel,+ dié wat in die middel van die aarde woon. 13  “‘Skeba+ en Dedan,+ die handelaars van Tarsis+ en al sy vegters* sal vir jou vra: “Val jy hulle aan om hulle van hulle besittings te beroof? Het jy jou leërmagte bymekaargemaak om silwer en goud weg te dra, om rykdom en eiendom te neem, om baie besittings te vat?”’ 14  “Profeteer dus, mensekind, en sê vir Gog: ‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: “Die dag wanneer my volk Israel in veiligheid woon, sal jy dit beslis weet.+ 15  Jy sal uit jou plek kom, uit die mees afgeleë dele van die noorde,+ jy en baie volke saam met jou, wat almal op perde ry, ’n groot groep, ’n baie groot leërmag.+ 16  Soos wolke wat die land bedek, sal jy teen my volk Israel opkom. Ek sal jou aan die einde van die dae teen my land bring+ sodat die nasies my kan ken wanneer ek my voor hulle oë deur middel van jou heilig, o Gog.”’+ 17  “Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah vra: ‘Is dit nie jy van wie ek in die vroeëre dae gepraat het deur my knegte, die profete van Israel, wat jare lank geprofeteer het dat jy teen hulle gebring sou word nie?’ 18  “‘Op daardie dag, die dag wanneer Gog die land van Israel binneval,’ sê die Soewereine Heer Jehovah, ‘sal my groot woede opvlam.+ 19  In my ywer, in die vuur van my woede, sal ek praat, en op daardie dag sal daar ’n groot aardbewing in die land van Israel wees. 20  As gevolg van my sal die visse van die see bewe, sowel as die voëls van die hemel, die wilde diere van die veld, al die reptiele wat op die grond kruip en al die mense op die aarde. Die berge sal neergegooi word+ en die kranse sal val, en elke muur sal op die grond neerval.’ 21  “‘Ek sal deur my hele bergstreek ’n swaard teen hom oproep,’ sê die Soewereine Heer Jehovah. ‘Elkeen se swaard sal teen sy eie broer wees.+ 22  Ek sal my oordeel teen hom bring met verskriklike siektes+ en met bloedskuld, en ek sal ’n stortreën en hael+ en vuur+ en swael+ laat reën op hom en sy soldate en die baie volke saam met hom.+ 23  En ek sal my beslis verheerlik en my heilig en my bekend maak voor die oë van baie nasies, en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.’

Voetnote

Of “leier”.
Of “leier”.
Klein skilde is gewoonlik deur boogskutters gedra.
Lett. “wag”.
Of “sal jy geroep word”.
Of “oop plattelandse gebied”.
Of “jong maanhaarleeus”.