Esegiël 40:1-49

  • Esegiël in visioen na Israel gebring (1, 2)

  • Esegiël sien tempelvisioen (3, 4)

  • Voorhowe en poorte (5-47)

    • Buitenste oospoort (6-16)

    • Buitenste voorhof; ander poorte (17-26)

    • Binneste voorhof en poorte (27-37)

    • Kamers vir tempeldiens (38-46)

    • Die altaar (47)

  • Portaal van tempel (48, 49)

40  In die 25ste jaar van ons ballingskap,+ aan die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, in die 14de jaar nadat die stad geval het,+ op daardie selfde dag was die hand van Jehovah op my, en hy het my na die stad geneem.+  Deur middel van visioene van God het hy my na die land van Israel geneem en my op ’n baie hoë berg neergesit.+ Aan die suidekant van die berg was daar iets wat soos ’n stad gelyk het.  Toe hy my daarheen neem, het ek ’n man gesien wat soos koper geblink het.+ Hy het ’n vlastou en ’n meetriet* in sy hand gehad,+ en hy het in die poort gestaan.  Die man het vir my gesê: “Mensekind, kyk mooi, luister aandagtig en skenk aandag aan* alles wat ek vir jou wys, want dit is hoekom jy hierheen gebring is. Vertel vir die huis van Israel alles wat jy sien.”+  Ek het gesien dat daar ’n muur buite rondom die tempel* is. In die man se hand was daar ’n meetriet wat ses el lank was (’n handbreedte is by elke el gevoeg).* Hy het die muur begin meet, en dit was een riet dik en een riet hoog.  Toe het hy by die poort gekom wat oos kyk+ en met die trappe opgegaan. Toe hy die drumpel van die poort meet, was dit een riet breed, en die ander drumpel was ook een riet breed.  Elke kamer vir die wagte was een riet lank en een riet breed, en daar was vyf el tussen die kamers vir die wagte.+ Die drumpel van die poort langs die portaal van die poort aan die binnekant was een riet.  Hy het die portaal gemeet van die poort wat aan die binnekant was, en dit was een riet.  Toe het hy die portaal van die poort gemeet, en dit was agt el, en die sypilare was twee el. Die portaal van die poort was aan die binnekant. 10  Daar was drie kamers vir die wagte aan elke kant van die poort aan die oostekant. Al drie was ewe groot, en die sypilare aan elke kant was ewe groot. 11  Toe het hy die ingang van die poort gemeet, en dit was 10 el wyd, en die poort was 13 el lank. 12  Die afgeskorte ruimte voor die kamers vir die wagte was aan elke kant een el. Die kamers vir die wagte aan albei kante was elkeen ses el. 13  Toe het hy vanaf die poort van die dak van die een kamer vir die wagte* gemeet tot by die dak van die ander kamer, en dit was 25 el breed. Die een ingang was oorkant die ander ingang.+ 14  Toe het hy die sypilare gemeet, wat 60 el hoog was, sowel as die sypilare in die poorte reg rondom die voorhof. 15  Vanaf die voorkant van die ingang van die poort tot by die voorkant van die portaal aan die binnekant van die poort was 50 el. 16  Daar was vensters met rame wat al hoe smaller word+ in die kamers vir die wagte en in hulle sypilare aan die binnekant van die poort aan elke kant. Aan die binnekant van die portale was daar vensters aan elke kant, en daar was palmboomfigure+ op die sypilare. 17  Toe het hy my na die buitenste voorhof geneem, en ek het eetkamers*+ gesien en ’n plaveisel rondom die voorhof. Daar was 30 eetkamers op die plaveisel. 18  Die plaveisel aan die kant van die poorte was net so lank soos die poorte – hierdie plaveisel was laer as die binneste voorhof. 19  Toe meet hy die afstand* vanaf die voorkant van die onderste poort tot by die buitekant van die binneste voorhof. Dit was 100 el aan die oostekant en aan die noordekant. 20  Die buitenste voorhof het ’n poort gehad wat noord kyk, en hy het sy lengte en sy breedte gemeet. 21  Daar was drie kamers vir die wagte aan elke kant. Die sypilare en portaal se afmetings was dieselfde as dié van die eerste poort. Dit was 50 el lank en 25 el breed. 22  Sy vensters, sy portaal en sy palmboomfigure+ was net so groot soos dié van die poort aan die oostekant. Sewe trappe het daarheen gelei, en die portaal was aan die voorkant daarvan. 23  Daar was ’n poort in die binneste voorhof oorkant die poort aan die noordekant en een oorkant die poort aan die oostekant. Hy het die afstand van poort tot poort gemeet, en dit was 100 el. 24  Daarna het hy my na die suide geneem, en ek het ’n poort gesien aan die suidekant.+ Hy het die sypilare en die portaal gemeet, en dit was net so groot soos die ander. 25  Aan elke kant van die poort en die portaal was daar vensters, soos die ander vensters. Dit was 50 el lank en 25 el breed. 26  Sewe trappe het daarheen gelei,+ en die portaal was aan die voorkant daarvan. Daar was palmboomfigure op die sypilare, een aan elke kant. 27  Die binneste voorhof het ’n poort gehad wat suid kyk. Hy het van poort tot poort gemeet na die suide toe, en die afstand was 100 el. 28  Daarna het hy my deur die poort aan die suidekant na die binneste voorhof geneem, en toe hy die poort meet, was dit net so groot soos die ander poorte. 29  Die kamers vir die wagte, die sypilare en die portaal was net so groot soos die ander. Daar was vensters aan elke kant van die poort en die portaal. Dit was 50 el lank en 25 el breed.+ 30  Daar was portale reg rondom. Dit was 25 el lank en 5 el breed. 31  Die portaal het op die buitenste voorhof uitgekyk, en daar was palmboomfigure op die sypilare.+ Agt trappe het daarheen gelei.+ 32  Toe hy my van die oostekant na die binneste voorhof neem, het hy die poort gemeet, en dit was net so groot soos die ander poorte. 33  Die kamers vir die wagte, die sypilare en die portaal was net so groot soos die ander, en daar was vensters aan elke kant van die poort en die portaal. Dit was 50 el lank en 25 el breed. 34  Die portaal het op die buitenste voorhof uitgekyk, en daar was palmboomfigure op albei sypilare. Agt trappe het daarheen gelei. 35  Daarna het hy my na die poort aan die noordekant+ geneem en dit gemeet. Dit was net so groot soos die ander poorte. 36  Die kamers vir die wagte, die sypilare en die portaal was net so groot soos die ander. Dit het vensters aan elke kant gehad. Dit was 50 el lank en 25 el breed. 37  Die sypilare het op die buitenste voorhof uitgekyk, en daar was palmboomfigure op albei sypilare. Agt trappe het daarheen gelei. 38  Daar was ’n eetkamer met ’n ingang naby die sypilare van die poorte, waar die heelbrandoffers afgespoel is.+ 39  Daar was twee tafels aan elke kant in die portaal van die poort waarop die heelbrandoffers,+ die sonde-offers+ en die skuldoffers+ geslag is. 40  Daar was twee tafels buite die ingang van die poort aan die noordekant. Daar was ook twee tafels aan die ander kant van die portaal van die poort. 41  Daar was vier tafels aan elke kant van die poort – altesaam agt tafels – waarop offerandes geslag is. 42  Die vier tafels vir die heelbrandoffer was van gekapte klip. Hulle was een en ’n half el lank, een en ’n half el breed en een el hoog. Die gereedskap waarmee die heelbrandoffers en die offerandes geslag is, het daarop gelê. 43  Daar was rakke, ’n handbreedte wyd, reg rondom aan die binnemure, en die vleis van die offergawes is op die tafels gesit. 44  Die eetkamers vir die sangers+ was buite die binneste poort. Dit was in die binneste voorhof naby die poort aan die noordekant en het suid gekyk. Daar was nog ’n eetkamer naby die poort aan die oostekant, en dit het noord gekyk. 45  Hy het vir my gesê: “Hierdie eetkamer wat suid kyk, is vir die priesters wat verantwoordelik is vir die tempeldiens.+ 46  Die eetkamer wat noord kyk, is vir die priesters wat verantwoordelik is vir die diens by die altaar.+ Hulle is die seuns van Sadok,+ die Leviete wat aangestel is om Jehovah te nader om hom te dien.”+ 47  Toe het hy die binneste voorhof gemeet. Dit was vierkantig, 100 el lank en 100 el breed. Die altaar was voor die tempel. 48  Daarna het hy my na die portaal van die tempel+ geneem, en hy het die sypilaar van die portaal gemeet, en dit was vyf el aan die een kant en vyf el aan die ander kant. Die poort was drie el breed aan die een kant en drie el breed aan die ander kant. 49  Die portaal was 20 el lank en 11* el breed. Mense kon met trappe daarheen opgaan. Daar was pilare by die syposte, een aan elke kant.+

Voetnote

Lett. “rig jou hart op”.
Lett. “huis”. In hoofstuk 40-48 word dit so vertaal wanneer “huis” na die tempelkompleks of die eintlike tempelgebou verwys.
Lett. “’n meetriet van ses el, ’n el en ’n handbreedte”. Dit is ’n lang el. Sien Aanh. B14.
Verwys moontlik na die bokant van die muur van die kamer vir die wagte.
Of “vertrekke”.
Lett. “breedte”.
Of moontlik “12”.