Esegiël 44:1-31

  • Oospoort moet gesluit bly (1-3)

  • Wette oor uitlanders (4-9)

  • Wette vir Leviete en priesters (10-31)

44  Hy het my teruggebring deur die buitenste poort van die heiligdom wat oos kyk,+ en dit was gesluit.+  Toe het Jehovah vir my gesê: “Hierdie poort moet gesluit bly. Dit mag nie oopgemaak word nie, en geen mens mag daardeur inkom nie, want Jehovah, die God van Israel, het daardeur ingekom,+ en daarom moet dit gesluit bly.  Maar die hoofman moet daarin sit om voor Jehovah brood te eet,+ want hy is ’n hoofman. Hy moet deur die portaal van die poort inkom en daardeur uitgaan.”+  Daarna het hy my deur die poort aan die noordekant tot by die voorkant van die tempel gebring. Toe het ek gekyk en gesien dat die heerlikheid van Jehovah die tempel van Jehovah gevul het.+ Daarom het ek met my gesig na die grond toe neergeval.+  Toe het Jehovah vir my gesê: “Mensekind, skenk aandag,* kyk, en luister mooi na alles wat ek vir jou sê oor die wetsbepalings en die wette van die tempel van Jehovah. Skenk goed aandag aan die ingang van die tempel en aan al die uitgange van die heiligdom.+  Jy moet vir die opstandige huis van Israel sê: ‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: “Ek het nou genoeg gehad van julle afskuwelike gebruike, o huis van Israel.  Wanneer julle uitlanders wie se hart en vlees nie besny is nie, in my heiligdom inbring, ontheilig hulle my tempel. Julle bied vir my brood, vet en bloed aan terwyl julle my verbond verbreek met al julle afskuwelike gebruike.  Julle het nie na my heilige dinge omgesien nie.+ Julle stel eerder ander aan om die pligte in my heiligdom na te kom.”’  “‘Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê: “Geen uitlander wat in Israel woon en wie se hart en vlees nie besny is nie, mag in my heiligdom inkom nie.”’ 10  “‘Maar die Leviete wat ver van my af weggedwaal het+ toe Israel van my af weggedwaal het om agter hulle walglike afgode* aan te gaan, sal die gevolge van hulle sonde dra. 11  En hulle sal dienaars in my heiligdom word om toesig te hou oor die poorte van die tempel+ en om diens in die tempel te doen. Hulle moet die heelbrandoffer en die offerande vir die volk slag, en hulle moet voor die volk staan om hulle te dien. 12  Omdat hulle die volk voor hulle walglike afgode gedien het en ’n struikelblok geword het wat die huis van Israel laat sondig,+ het ek my hand in ’n eed teen hulle opgelig,’ sê die Soewereine Heer Jehovah, ‘en hulle sal die gevolge van hulle sonde dra. 13  Hulle sal my nie nader om as my priesters te dien of naby enige van my heilige dinge of besonder heilige dinge kom nie. Hulle sal hulle skande dra vir al die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het. 14  Maar ek sal hulle aanstel om die verantwoordelikhede van die tempel na te kom, om na die dienste daarvan en na al die dinge wat daarin gedoen moet word, om te sien.’+ 15  “‘Die Levitiese priesters, die seuns van Sadok,+ wat die verantwoordelikhede van my heiligdom nagekom het toe die Israeliete van my af weggedwaal het,+ sal my nader om my te dien, en hulle sal voor my staan om die vet+ en die bloed+ vir my aan te bied,’ sê die Soewereine Heer Jehovah. 16  ‘Dit is hulle wat in my heiligdom sal inkom, en hulle sal my tafel nader om my te dien,+ en hulle sal hulle verantwoordelikhede teenoor my nakom.+ 17  “‘Wanneer hulle in die poorte van die binneste voorhof kom, moet hulle linneklere dra.+ Hulle moenie enige wol dra wanneer hulle in die poorte van die binneste voorhof of die plekke daarbinne dien nie. 18  Hulle moet tulbande van linne op hulle koppe dra en hulle moet kortbroeke van linne dra.+ Hulle moet niks dra wat hulle laat sweet nie. 19  Voordat hulle uitgaan na die buitenste voorhof – die buitenste voorhof waar die volk is – moet hulle die klere uittrek waarin hulle gedien het+ en dit in die heilige eetkamers* neersit.+ Dan moet hulle ander klere aantrek sodat hulle nie deur middel van hulle klere heiligheid aan die volk oordra nie. 20  Hulle moenie hulle koppe kaal skeer+ of die hare op hulle koppe lank laat groei nie. Hulle moet die hare op hulle koppe knip. 21  Die priesters moenie wyn drink wanneer hulle in die binneste voorhof ingaan nie.+ 22  Hulle moenie met ’n weduwee of ’n geskeide vrou trou nie,+ maar hulle mag trou met ’n maagd uit die nageslag van Israel of die weduwee van ’n priester.’+ 23  “‘Hulle moet my volk die verskil leer tussen wat heilig en nie heilig is nie, en hulle sal hulle die verskil leer tussen wat rein en onrein is.+ 24  Hulle moet as regters in ’n regsaak optree.+ Hulle moet in ooreenstemming met my regterlike bevele daarin oordeel.+ Hulle moet my wette en my wetsbepalings in verband met al my feeste+ gehoorsaam en my sabbatte heilig. 25  Hulle mag nie naby enige dooie mens kom nie, anders sal hulle onrein word. Maar hulle mag hulle onrein maak vir hulle pa, ma, seun, dogter, broer of vir ’n ongetroude suster.+ 26  En nadat ’n priester gereinig is, moet hulle vir hom sewe dae aftel. 27  Op die dag dat hy in die heiligdom inkom, in die binneste voorhof, om in die heiligdom te dien, moet hy sy sonde-offer aanbied,’+ sê die Soewereine Heer Jehovah. 28  “‘En dít sal hulle erfdeel wees: Ek is hulle erfdeel.+ Julle mag hulle geen besitting in Israel gee nie, want ek is hulle besitting. 29  Dit sal hulle wees wat die graanoffer,+ die sonde-offer en die skuldoffer+ eet, en alles in Israel wat iemand aan God toegewy het, sal hulle s’n word.+ 30  Die beste van die eerste opbrengs en die beste van elke soort bydrae wat julle gee, sal aan die priesters behoort.+ En julle moet julle eerste growwe meel* aan die priester gee.+ Dan sal julle huisgesinne geseën wees.+ 31  Die priesters mag nie enige voël of dier eet wat dood gevind is of verskeur is nie.’+

Voetnote

Lett. “rig jou hart op”.
Die Hebreeuse uitdrukking vir “walglike afgode” is moontlik verwant aan ’n woord vir “ontlasting” en word gebruik om veragting aan te dui.
Of “vertrekke”.
Of “die eerstelinge van julle growwe meel”. Sien Woordelys.