Amos 7:1-17

  • Visioene wat wys dat Israel se einde naby is (1-9)

    • Sprinkane (1-3), vuur (4-6), skietlood (7-9)

  • Amos verbied om te profeteer (10-17)

7  Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah my laat sien het: Hy het ’n sprinkaanswerm gevorm toe die oes wat in die winter gesaai is,* begin opkom het. Dit was die oes wat gesaai is nadat die koning se hooi gesny is.  Toe die swerm al die plante van die land opgeëet het, het ek gesê: “O Soewereine Heer Jehovah, vergewe u volk asseblief!+ Hoe kan Jakob oorleef? Want hy is swak!”+  Daarom het Jehovah sy besluit verander.*+ “Dit sal nie gebeur nie,” het Jehovah gesê.  Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah my laat sien het: Die Soewereine Heer Jehovah het beveel dat daar deur middel van vuur gestraf moet word. Dit het die groot diep waters verteer, en dit het ’n stuk van die land verteer.  Toe het ek gesê: “O Soewereine Heer Jehovah, hou dit asseblief terug.+ Hoe kan Jakob oorleef? Want hy is swak!”+  Daarom het Jehovah sy besluit verander.*+ “Dit sal ook nie gebeur nie,” het die Soewereine Heer Jehovah gesê.  Dít is wat hy my laat sien het: Jehovah het op ’n muur gestaan wat met ’n skietlood gemaak is, en daar was ’n skietlood in sy hand.  Toe het Jehovah vir my gevra: “Wat sien jy, Amos?” En ek het gesê: “’n Skietlood.” Jehovah het toe gesê: “Ek toets my volk Israel met ’n skietlood. Ek sal hulle nie meer verskoon nie.+  Die offerhoogtes van Isak+ sal vernietig word, en die heiligdomme van Israel sal verwoes word.+ En ek sal met ’n swaard teen die huis van Jeroʹbeam kom.”+ 10  Amaʹsia, die priester van Bet-El,+ het hierdie boodskap aan koning Jeroʹbeam+ van Israel gestuur: “Amos is besig met ’n sameswering teen u hier in die huis van Israel.+ Die land kan nie al sy woorde verdra nie.+ 11  Want dít is wat Amos sê: ‘Jeroʹbeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal vir seker uit sy land in ballingskap gaan.’”+ 12  Amaʹsia het toe vir Amos gesê: “O siener, gaan, vlug na die land van Juda, verdien* jou brood daar, en jy kan daar profeteer.+ 13  Maar jy mag nie meer in Bet-El profeteer nie,+ want dit is die heiligdom van ’n koning+ en die huis van ’n koninkryk.” 14  Toe het Amos vir Amaʹsia gesê: “Ek was nie ’n profeet of die seun van ’n profeet nie, maar ek was ’n veewagter,+ en ek het wildevyebome versorg.* 15  Maar Jehovah het my van die kleinvee weggeneem, en Jehovah het vir my gesê: ‘Gaan na my volk Israel en profeteer.’+ 16  Hoor dan nou die woord van Jehovah: ‘Jy sê: “Moenie teen Israel profeteer nie,+ en moenie ’n oordeelsboodskap teen die huis van Isak verkondig nie.”+ 17  Daarom sê Jehovah: “Jou vrou sal ’n prostituut in die stad word. En jou seuns en jou dogters sal deur die swaard val. Jou land sal met ’n maatlyn verdeel word, en jy sal in ’n onrein land sterf. En Israel sal vir seker uit sy land in ballingskap gaan.”’”+

Voetnote

D.w.s. gedurende Januarie en Februarie.
Of “hieroor spyt gevoel”.
Of “hieroor spyt gevoel”.
Lett. “eet”.
Of “was ’n prikker van die vye van wildevyebome”.