Deuteronomium 2:1-37
2 “Toe het ons omgedraai en na die wildernis vertrek met die pad wat na die Rooisee gaan, net soos Jehovah vir my gesê het,+ en ons het baie lank om die berg Seïr getrek.
2 Uiteindelik het Jehovah vir my gesê:
3 ‘Julle het lank genoeg om hierdie berg getrek. Draai nou na die noorde toe.
4 En gee die volk hierdie bevel: “Julle sal langs die grens van julle broers verbygaan, die nakomelinge van Esau,+ wat in Seïr woon,+ en hulle sal bang wees vir julle,+ en julle moet baie versigtig wees.
5 Moenie met hulle in ’n geveg betrokke raak nie, want ek sal nie ’n deel van hulle land aan julle gee nie, nie eers die grootte van ’n voetspoor nie, want ek het die berg Seïr aan Esau as sy besitting gegee.+
6 Julle moet vir hulle geld gee vir die kos wat julle sal eet, en julle moet betaal vir die water wat julle sal drink.+
7 Want Jehovah julle God het julle geseën in alles wat julle gedoen het. Hy is deeglik bewus van julle trek deur hierdie groot wildernis. Hierdie 40 jaar was Jehovah julle God met julle, en julle het niks kortgekom nie.”’+
8 Toe het ons verby ons broers getrek, die nakomelinge van Esau,+ wat in Seïr woon, en weggebly van die pad van die Aʹraba, van Elat en van Eʹseon-Geʹber.+
“Daarna het ons weggedraai en verder getrek met die pad van die wildernis van Moab.+
9 Jehovah het toe vir my gesê: ‘Moenie met Moab in ’n geveg betrokke raak of oorlog teen hulle voer nie, want ek sal nie ’n deel van sy land aan julle as ’n besitting gee nie, omdat ek Ar aan die nakomelinge van Lot as ’n besitting gegee het.+
10 (Die Emiete+ het voorheen daar gewoon. Hulle was ’n groot, sterk volk en hulle was lank soos die Enakiete.
11 Die Refaïete+ is ook soos die Enakiete+ beskou, en die Moabiete het hulle Emiete genoem.
12 Die Horiete+ het voorheen in Seïr gewoon, maar die nakomelinge van Esau het hulle land in besit geneem en hulle vernietig en in hulle plek gaan woon,+ net soos Israel sal doen met die land wat hulle besitting is, wat Jehovah beslis aan hulle sal gee.)
13 Gaan nou en trek deur die Sered-vallei.’* Gevolglik het ons deur die Sered-vallei*+ getrek.
14 Vandat ons van Kaʹdes-Barneʹa af weg is totdat ons deur die Sered-vallei* getrek het, het 38 jaar verbygegaan. Teen daardie tyd was daar niemand in die kamp oor van die hele geslag manne wat oud genoeg was om te veg nie. Hulle het almal gesterf, net soos Jehovah vir hulle gesweer het.+
15 Jehovah se hand was teen hulle om hulle uit die kamp uit te wis, totdat hulle aan hulle einde gekom het.+
16 “En toe al die manne wat oud genoeg was om te veg onder die volk uitgesterf het,+
17 het Jehovah weer met my gepraat en gesê:
18 ‘Julle gaan vandag verby die gebied van Moab, dit wil sê Ar.
19 Wanneer julle naby die Ammoniete kom, moet julle nie vyandig teenoor hulle wees of ’n geveg met hulle begin nie, want ek sal nie ’n deel van die land van die Ammoniete aan julle as ’n besitting gee nie, omdat ek dit aan die nakomelinge van Lot as hulle besitting gegee het.+
20 Dit was ook as die land van die Refaïete+ beskou. (Die Refaïete het voorheen daar gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem.
21 Hulle was ’n groot, sterk volk en hulle was lank soos die Enakiete,+ maar Jehovah het hulle verslaan voor die Ammoniete, en hulle het hulle verdryf en in hulle plek gaan woon.
22 Hy het dieselfde gedoen vir die nakomelinge van Esau, wat nou in Seïr woon,+ toe hy die Horiete+ voor hulle verslaan het, sodat hulle hulle land in besit kon neem. Hulle woon vandag nog in hulle plek.
23 Die Awwiete het in dorpe gewoon tot by Gasa,+ totdat die Kaftoriete,+ wat van Kaftor* gekom het, hulle vernietig het en in hulle plek gaan woon het.)
24 “‘Staan op en trek deur die Arnon-vallei.*+ Kyk, ek het Sihon,+ die Amoriet, die koning van Hesbon, in julle hand gegee. Begin dus om sy land in besit te neem en voer oorlog teen hom.
25 Van vandag af sal ek al die volke onder die hemel wat die berig oor julle hoor, baie bang laat word vir julle. Hulle sal ontsteld wees en bewe* as gevolg van julle.’+
26 “Toe het ek boodskappers uit die wildernis Kedeʹmot+ na koning Sihon van Hesbon gestuur met hierdie woorde van vrede:+
27 ‘Laat my deur u land trek. Ek sal op die pad bly en nie regs of links draai nie.+
28 Ek sal net die kos eet en net die water drink wat u aan my sal verkoop. Laat my net toe om te voet deur u gebied te trek,
29 net soos die nakomelinge van Esau wat in Seïr woon en die Moabiete wat in Ar woon, vir my gedoen het. Dan kan ek deur die Jordaanrivier trek na die land wat Jehovah ons God aan ons gee.’
30 Maar koning Sihon van Hesbon het ons nie deur sy gebied laat trek nie, want Jehovah julle God het toegelaat dat hy hardkoppig word+ en dat sy hart verhard, sodat Hy hom in julle hand kon gee, soos vandag die geval is.+
31 “Toe het Jehovah vir my gesê: ‘Kyk, ek het reeds begin om Sihon en sy land aan julle oor te gee. Begin om sy land in besit te neem.’+
32 Toe Sihon saam met sy hele leërmag uitkom om by Jahas teen ons te veg,+
33 het Jehovah ons God hom aan ons oorgegee, sodat ons hom, sy seuns en sy hele leërmag verslaan het.
34 Ons het toe al sy stede ingeneem en elke stad vernietig, insluitende die mans, vrouens en kinders. Ons het niemand laat bly lewe nie.+
35 Ons het net die vee vir ons geneem, saam met die buit wat ons gevat het uit die stede wat ons ingeneem het.
36 Van Aʹroër af,+ wat aan die rand van die Arnon-vallei* is (insluitende die stad wat in die vallei is), tot by Giʹlead, was daar geen stad wat vir ons te sterk was nie. Jehovah ons God het hulle almal aan ons oorgegee.+
37 Maar julle het nie naby die land van die Ammoniete,+ die hele Jabbok-vallei*+ en die stede van die bergstreek gegaan nie, en ook nie na enige ander plek waar Jehovah ons God vir ons gesê het om nie te gaan nie.