Deuteronomium 20:1-20

  • Reëls in verband met oorlogvoering (1-20)

    • Vrystelling van militêre diens (5-9)

20  “As julle teen julle vyande gaan oorlog voer en julle sien dat hulle meer perde en strydwaens en soldate as julle het, moet julle nie vir hulle bang wees nie, want Jehovah julle God, wat julle uit Egipte uitgelei het, is met julle.+  Net voordat julle gaan veg, moet die priester kom en met die volk praat.+  Hy moet vir hulle sê: ‘Luister, o Israel, julle gaan nou teen julle vyande veg. Moenie moed verloor nie. Moenie bang wees of vrees of vir hulle bewe nie,  want Jehovah julle God gaan saam met julle om vir julle teen julle vyande te veg en julle te red.’+  “Die beamptes moet ook vir die volk sê: ‘Wie het ’n nuwe huis gebou en dit nie in gebruik geneem* nie? Laat hom na sy huis terugkeer. Anders sterf hy dalk in die geveg, en dan sal ’n ander man dit in gebruik neem.  En wie het ’n wingerd geplant en dit nog nie begin gebruik nie? Laat hom gaan en na sy huis terugkeer. Anders sterf hy dalk in die geveg, en dan sal ’n ander man dit begin gebruik.  En wie het aan ’n vrou verloof geraak en nog nie met haar getrou nie? Laat hom gaan en na sy huis terugkeer.+ Anders sterf hy dalk in die geveg, en dan sal ’n ander man met haar trou.’  Die beamptes moet ook vir die volk vra: ‘Wie is bang, en wie het moed verloor?+ Hy moet na sy huis terugkeer, sodat hy nie sy broers ook laat moed verloor nie.’*+  Nadat die beamptes met die volk gepraat het, moet hulle hoofde oor die leërmag aanstel om die volk te lei. 10  “As julle by ’n stad kom om daarteen te veg, moet julle eers ’n vredesaanbod maak.+ 11  As die stad ’n vreedsame antwoord gee en hulle vir julle oopmaak, sal al die mense daarin julle slawe word, en hulle sal julle dien.+ 12  Maar as hulle weier om vrede met julle te maak en gereedmaak om oorlog teen julle te voer, moet julle dit beleër, 13  en Jehovah julle God sal dit beslis in julle hand gee, en julle moet elke man daarin met die swaard doodmaak. 14  Maar die vrouens, die kinders, die vee en alles wat in die stad is, al die buit, mag julle vir julle neem,+ en julle sal van die buit van julle vyande eet, wat Jehovah julle God aan julle gegee het.+ 15  “So moet julle doen aan al die stede wat baie ver van julle af is, wat nie deel is van die stede van hierdie nabygeleë nasies nie. 16  Maar in die stede van die volgende volke, wat Jehovah julle God julle as ’n erfdeel gee, mag julle niks wat asemhaal, laat lewe nie.+ 17  Julle moet hulle geheel en al vernietig – die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete+ – net soos Jehovah julle God julle beveel het, 18  sodat hulle julle nie leer om al hulle afskuwelike gebruike te volg, die dinge wat hulle vir hulle gode gedoen het en wat julle teen Jehovah julle God+ sal laat sondig nie. 19  “As julle ’n stad beleër en dit inneem nadat julle dae lank daarteen geveg het, mag julle nie ’n byl teen die bome swaai en dit afkap nie. Julle mag daarvan eet, maar julle mag dit nie afkap nie.+ Want hoekom sou jy ’n boom van die veld aanval soos jy ’n mens sou aanval? 20  Julle mag net ’n boom afkap wat julle weet nie vir voedsel gebruik kan word nie. Julle mag dit afkap en beleëringswerke teen die stad bou wat teen julle oorlog voer, totdat dit val.

Voetnote

Of “ingewy”.
Of “sodat hy nie sy broers se hart laat smelt soos sy eie hart nie”.