Deuteronomium 22:1-30

  • Respek vir medemens se diere (1-4)

  • Mag nie klere van teenoorgestelde geslag dra nie (5)

  • Goedheid teenoor diere (6, 7)

  • Muurtjie om dak (8)

  • Ongepaste kombinasies (9-11)

  • Tossels aan klere (12)

  • Wette oor seksuele oortredings (13-30)

22  “As jy sien dat jou broer se bul of skaap wegdwaal, mag jy nie maak of jy dit nie gesien het nie.+ Jy moet die dier vir seker na jou broer toe teruglei.  Maar as jou broer nie naby jou woon nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe bring, en dit moet by jou bly totdat jou broer daarna soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee.+  So moet jy doen met sy donkie, met sy klere en met enigiets wat jou broer verloor het en wat jy gevind het. Jy mag dit nie ignoreer nie.  “As jy sien dat jou broer se donkie of bul op die pad val, mag jy nie maak of jy dit nie gesien het nie. Jy moet hom vir seker help om die dier weer op te kry.+  “’n Vrou mag nie die klere van ’n man aantrek nie, en ’n man mag ook nie die klere van ’n vrou dra nie. Want enigiemand wat dit doen, is afskuwelik vir Jehovah jou God.  “As jy langs die pad op ’n voëlnes met kleintjies of eiers afkom, of dit nou in ’n boom of op die grond is, en die ma op die kleintjies of die eiers sit, mag jy nie die ma saam met haar kleintjies neem nie.+  Jy moet die ma laat gaan, maar jy mag die kleintjies vir jou neem. Doen dit sodat dit met jou goed kan gaan en jy lank kan lewe.  “As jy ’n nuwe huis bou, moet jy ook ’n muurtjie om jou dak bou,+ sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.  “Jy mag nie twee soorte saad in jou wingerd saai nie.+ Anders sal die volle opbrengs van die saad wat jy saai, sowel as die vrug van die wingerd, aan die heiligdom gegee moet word. 10  “Jy mag nie met ’n bul en ’n donkie saam ploeg nie.+ 11  “Jy mag nie klere dra van materiaal wat gemaak is van ’n kombinasie van wol en linne nie.+ 12  “Jy moet tossels vaswerk aan die vier hoeke van die klere wat jy dra.+ 13  “As ’n man ’n vrou neem en seksuele omgang met haar het, maar haar later begin haat* 14  en hy haar van slegte gedrag beskuldig en haar ’n slegte naam gee deur te sê: ‘Ek het hierdie vrou geneem, maar toe ek seksuele omgang met haar gehad het, het ek geen bewys gevind dat sy ’n maagd was nie,’ 15  dan moet die pa en ma van die meisie die bewys van die meisie se maagdelikheid vir die ouermanne by die poort van die stad wys. 16  Die meisie se pa moet vir die ouermanne sê: ‘Ek het my dogter aan hierdie man as vrou gegee, maar hy haat* haar 17  en hy beskuldig haar van slegte gedrag deur te sê: “Ek het uitgevind dat jou dogter geen bewys van maagdelikheid het nie.” Hier is dan nou die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Hulle moet dan die doek voor die ouermanne van die stad uitsprei. 18  Die ouermanne van die stad+ moet die man neem en hom dissiplineer.+ 19  Hulle moet hom met 100 sikkels* silwer beboet en dit aan die meisie se pa gee, omdat die man ’n maagd van Israel belaster het,+ en sy sal sy vrou bly. Solank as wat hy lewe, sal hy nie toegelaat word om van haar te skei nie. 20  “Maar as die beskuldiging waar is en daar geen bewys is dat die meisie ’n maagd was nie, 21  dan moet hulle die meisie uitbring na die ingang van haar pa se huis, en die manne van haar stad moet haar met klippe doodgooi, omdat sy ’n skandelike daad+ in Israel gepleeg het deur seksuele onsedelikheid* in die huis van haar pa te pleeg.+ So moet julle dit wat sleg is, onder julle uit verwyder.+ 22  “As ’n man betrap word terwyl hy by ’n ander man se vrou slaap, dan moet hulle al twee sterf, die man sowel as die vrou.+ So moet julle dit wat sleg is, uit Israel verwyder. 23  “As ’n maagd aan ’n man verloof is en ’n ander man haar in die stad teëkom en seksuele omgang met haar het, 24  dan moet julle hulle albei na die poort van daardie stad uitbring en hulle met klippe doodgooi, die meisie omdat sy nie in die stad geskree het nie en die man omdat hy die vrou van sy medemens verneder het.+ So moet julle dit wat sleg is, onder julle uit verwyder. 25  “Maar as die man die verloofde meisie in die veld teëgekom het en hy haar verkrag het, dan moet die man wat haar verkrag het, alleen sterf, 26  en julle moet niks aan die meisie doen nie. Die meisie het nie ’n sonde gepleeg wat die dood verdien nie. Hierdie saak is soos wanneer ’n man sy medemens aanval en hom vermoor.*+ 27  Want hy het haar in die veld teëgekom, en die verloofde meisie het geskree, maar daar was niemand om haar te red nie. 28  “As ’n man ’n maagd teëkom wat nie verloof is nie en hy die meisie gryp en seksuele omgang met haar het en hulle betrap word,+ 29  dan moet die man die meisie se pa 50 sikkels silwer gee, en sy moet sy vrou word.+ Omdat hy haar verneder het, sal hy nie toegelaat word om van haar te skei solank as wat hy lewe nie. 30  “Geen man mag sy pa se vrou neem nie, sodat hy nie skande oor sy pa bring nie.*+

Voetnote

Of “haar dan verwerp”.
Of “verwerp”.
’n Sikkel was gelyk aan 11,4 g. Sien Aanh. B14.
Of “prostitusie”.
Of “hom, ’n siel, vermoor”.
Lett. “nie die kleed van sy pa oplig nie”.