Eksodus 10:1-29

  • Plaag 8: sprinkane (1-20)

  • Plaag 9: duisternis (21-29)

10  Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan na Farao toe, want ek het toegelaat dat hy en sy knegte hardkoppig word,+ sodat ek hierdie tekens van my reg voor hom kan doen.+  Dan kan jy vir jou kinders en jou kleinkinders vertel hoe swaar ek Egipte gestraf het en watter tekens ek onder hulle gedoen het,+ en julle sal beslis weet dat ek Jehovah is.”  Moses en Aäron het na Farao toe gegaan en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van die Hebreërs, gesê het: ‘Hoe lank gaan jy weier om jou aan my te onderwerp?+ Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien.  Want as jy bly weier om my volk weg te stuur, sal ek môre sprinkane oor jou land laat kom.  Hulle sal die oppervlak van die aarde bedek, en dit sal nie moontlik wees om die grond te sien nie. Hulle sal alles opeet wat ná die hael vir julle oorgebly het, en hulle sal al julle bome eet wat in die veld groei.+  Jou huise, die huise van al jou knegte en die huise van die hele Egipte sal vol sprinkane wees, soos julle pa’s en julle oupas nog nooit gesien het nie.’”+ Toe het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.  Daarna het Farao se knegte vir hom gesê: “Hoe lank sal hierdie man vir ons moeilikheid maak?* Stuur die manne weg sodat hulle Jehovah hulle God kan dien. Besef u nog nie dat Egipte verwoes is nie?”  Moses en Aäron is toe na Farao teruggebring, en hy het vir hulle gesê: “Gaan, dien Jehovah julle God. Maar wie is dit nou eintlik wat saamgaan?”  Toe het Moses gesê: “Ons sal gaan met ons jongmense, ons oumense, ons seuns, ons dogters, ons skape en ons beeste,+ want ons sal ’n fees vir Jehovah hou.”+ 10  Hy het vir hulle gesê: “As ek julle en julle kinders ooit wegstuur, is Jehovah werklik met julle!+ Dit is duidelik dat julle van plan is om iets slegs te doen. 11  Nee! Net die mans mag Jehovah gaan dien, want dit is wat julle gevra het.” Toe is hulle van Farao af weggejaag. 12  Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor Egipte, sodat die sprinkane oor Egipte kan kom en al die plante van die land kan opeet, alles wat die hael laat oorbly het.” 13  Dadelik het Moses sy staf oor Egipte uitgesteek, en Jehovah het daardie hele dag en hele nag ’n oostewind oor die land laat waai. Toe dit oggend word, het die oostewind die sprinkane gebring. 14  Die sprinkane het op die hele Egipte toegesak en het oral in die gebied van Egipte gaan sit.+ Die plaag was verskriklik erg.+ Daar was nog nooit voorheen soveel sprinkane nie, en daar sal nooit weer soveel wees nie. 15  Hulle het die oppervlak van die hele land bedek, en die land het donker geword as gevolg van hulle. Hulle het al die plante van die land verslind, sowel as al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het. Daar het geen groenigheid aan die bome of aan die plante van die veld in die hele Egipte oorgebly nie. 16  Farao het Moses en Aäron dadelik laat roep en gesê: “Ek het teen Jehovah julle God en teen julle gesondig. 17  Vergewe my sonde net hierdie een keer, asseblief, en smeek Jehovah julle God om hierdie dodelike plaag van my af weg te neem.” 18  Daarna het hy* van Farao af weggegaan en tot Jehovah gebid.+ 19  Toe het Jehovah die wind van rigting laat verander, en dit het ’n baie sterk westewind geword en het die sprinkane in die Rooisee ingewaai. Nie ’n enkele sprinkaan het in die hele Egipte oorgebly nie. 20  Maar Jehovah het toegelaat dat Farao hardkoppig word,*+ en hy het die Israeliete nie weggestuur nie. 21  Jehovah het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand na die hemel toe uit, sodat daar duisternis oor Egipte kan wees. Dit sal so donker wees dat ’n mens amper daaraan sal kan vat.” 22  Moses het onmiddellik sy hand na die hemel toe uitgesteek, en daar was drie dae lank dik duisternis oor die hele Egipte.+ 23  Hulle kon mekaar nie sien nie, en hulle almal het drie dae lank nêrens heen gegaan nie, maar waar die Israeliete gewoon het, was daar lig.+ 24  Farao het Moses toe geroep en gesê: “Gaan, dien Jehovah.+ Net julle skape en julle beeste moet agterbly. Selfs julle kinders mag saam met julle gaan.” 25  Maar Moses het gesê: “U moet ook vir ons offerandes en brandoffers gee,* en ons sal dit aan Jehovah ons God offer.+ 26  Ons vee sal ook saam met ons gaan. Nie ’n dier mag agterbly nie, want ons sal van die diere gebruik om Jehovah ons God te aanbid, en ons weet nie wat ons in aanbidding aan Jehovah sal offer totdat ons daar aankom nie.” 27  Maar Jehovah het toegelaat dat Farao hardkoppig word,* en hy wou hulle nie wegstuur nie.+ 28  Farao het vir hom gesê: “Maak dat jy wegkom! Moet dit nie waag om weer voor my te verskyn nie, want die dag dat jy weer hiernatoe kom, sal jy sterf.” 29  Toe het Moses gesê: “Nou goed dan. Ek sal nie weer voor u verskyn nie.”

Voetnote

Lett. “’n strik wees”.
Blykbaar Moses.
Lett. “het Farao se hart verhard”.
Of “U moet ons ook toelaat om offerandes en brandoffers saam te neem”.
Lett. “het Farao se hart verhard”.