Eksodus 29:1-46

  • Inhuldiging van priesters (1-37)

  • Die daaglikse offer (38-46)

29  “Dít is wat jy moet doen om hulle te heilig, sodat hulle my as priesters kan dien: Neem ’n jong bul en twee skaapramme sonder gebrek,+  ongesuurde brode, ongesuurde ringvormige brode wat met olie gemaak is en ongesuurde platbrode wat met olie gesmeer is.+ Jy moet dit van fyn koringmeel maak  en in ’n mandjie sit. Bied dit in die mandjie+ aan, saam met die bul en die twee ramme.  “Jy moet Aäron en sy seuns na die ingang van die tent van samekoms+ laat kom en hulle met water was.+  Dan moet jy die klere+ neem en vir Aäron die kleed, die moulose oorkleed van die efod, die efod en die borsstuk aantrek, en jy moet die geweefde lyfband van die efod styf om sy middel vasbind.+  Jy moet die tulband op sy kop sit en die heilige toewydingsteken* aan die tulband vasmaak.+  Neem dan die salfolie+ en gooi dit op sy kop uit om hom te salf.+  “Dan moet jy sy seuns laat nader kom en vir hulle die klere+ aantrek  en die lyfbande om hulle sit, Aäron sowel as sy seuns, en jy moet hulle hoofbedekkings op hulle sit. En die priesterskap moet hulle s’n word as ’n permanente wetsbepaling.+ Dit is hoe jy Aäron en sy seuns moet inhuldig om as priesters te dien.*+ 10  “Jy moet dan die bul voor die tent van samekoms bring, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop sit.+ 11  Slag die bul voor Jehovah, by die ingang van die tent van samekoms.+ 12  Neem van die bul se bloed met jou vinger en smeer dit aan die horings van die altaar+ en gooi die res van die bloed aan die voet van die altaar uit.+ 13  Neem dan al die vet+ wat die ingewande bedek, die vet* aan die lewer en die twee niere met die vet daaraan en verbrand dit sodat dit op die altaar rook.+ 14  Maar jy moet die bul se vleis en sy vel en sy mis buite die kamp met vuur verbrand. Dit is ’n sonde-offer. 15  “Dan moet jy die een skaapram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop sit.+ 16  Slag die ram en neem die bloed en besprinkel al die kante van die altaar daarmee.+ 17  Sny die ram in stukke op en was sy ingewande+ en sy pote, en jy moet die stukke sowel as die kop regsit. 18  Jy moet die hele ram verbrand en dit op die altaar laat rook. Dit is ’n brandoffer met ’n aangename* geur vir Jehovah.+ Dit is ’n vuuroffer aan Jehovah. 19  “Daarna moet jy die ander skaapram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop sit.+ 20  Slag die ram en neem van sy bloed en smeer dit aan die onderste deel van Aäron se regteroor en aan die onderste deel van sy seuns se regteroor en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet, en besprinkel al die kante van die altaar met die bloed. 21  Neem dan van die bloed wat op die altaar is en van die salfolie+ en spat dit op Aäron en sy klere en op sy seuns en hulle klere, sodat hy en sy klere en sy seuns en hulle klere heilig kan wees.+ 22  “Neem dan die ram se vet, die vetstert, die vet wat die ingewande bedek, die vet* aan die lewer, die twee niere met die vet wat daaraan is+ en die regterboud, want dit is ’n ram vir die inhuldiging.+ 23  Neem ook ’n ronde brood en ’n ringvormige brood wat met olie gemaak is en ’n platbrood uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor Jehovah is. 24  Jy moet dit alles in die hande van Aäron en in die hande van sy seuns sit, en jy moet dit as ’n beweegoffer heen en weer voor Jehovah beweeg. 25  Dan moet jy dit uit hulle hande neem en dit op die altaar bo-op die brandoffer verbrand as ’n aangename* geur voor Jehovah. Dit is ’n vuuroffer aan Jehovah. 26  “Neem dan die bors van die ram vir die inhuldiging,+ wat vir Aäron geoffer word, en beweeg dit heen en weer as ’n beweegoffer voor Jehovah, en dit sal jou deel word. 27  Van die ram vir die inhuldiging,+ wat vir Aäron en sy seuns geoffer is, moet jy die bors van die beweegoffer heilig, wat heen en weer beweeg is, sowel as die boud van die heilige deel, wat bygedra is. 28  Dit moet Aäron en sy seuns s’n word. Dit is ’n permanente wetsvoorskrif wat die Israeliete moet nakom, want dit is ’n heilige deel, en dit sal ’n heilige deel word wat deur die Israeliete gegee moet word.+ Dit is hulle heilige deel vir Jehovah uit hulle vrede-offers.*+ 29  “Die heilige klere+ wat aan Aäron behoort, sal deur sy seuns+ ná hom gebruik word wanneer hulle gesalf word en as priesters ingehuldig word. 30  Die priester uit sy nageslag wat hom opvolg en wat in die tent van samekoms ingaan om in die heiligdom te dien, moet dit sewe dae dra.+ 31  “Jy moet die ram vir die inhuldiging neem en die vleis daarvan in ’n heilige plek kook.+ 32  Aäron en sy seuns moet die vleis van die ram en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms eet.+ 33  Hulle moet die dinge eet waarmee versoening gedoen is om hulle as priesters in te huldig* en hulle te heilig. Maar niemand anders* mag dit eet nie, want dit is iets heiligs.+ 34  As daar van die vleis van die inhuldigingsoffer en van die brood tot die oggend toe oorbly, moet jy dit met vuur verbrand.+ Dit mag nie geëet word nie, want dit is iets heiligs. 35  “Dit is wat jy met Aäron en sy seuns moet doen, volgens alles wat ek jou beveel het. Jy moet hulle sewe dae lank as priesters inhuldig.*+ 36  Jy moet elke dag ’n bul as ’n sonde-offer bring om versoening te doen, en jy moet die altaar van sonde reinig deur versoening daarvoor te doen, en jy moet dit salf om dit te heilig.+ 37  Jy moet sewe dae lank vir die altaar versoening doen, en jy moet dit heilig sodat dit ’n besonder heilige altaar sal word.+ Enigiemand wat aan die altaar raak, moet heilig wees. 38  “Dít is wat jy elke dag op die altaar moet offer:+ twee jong skaapramme, elk ’n jaar oud. 39  Offer die een jong ram in die oggend en die ander ram wanneer dit skemer word.*+ 40  Saam met die eerste jong ram moet jy ’n tiende van ’n efa* fynmeel aanbied wat met ’n kwart hin* uitgestampte olie gemeng is, sowel as ’n drankoffer van ’n kwart hin wyn. 41  Jy moet die tweede jong ram offer wanneer dit skemer word,* saam met dieselfde graanoffer en drankoffer as in die oggend. Jy moet dit as ’n vuuroffer met ’n aangename* geur vir Jehovah aanbied. 42  Dit moet in al julle geslagte ’n gereelde brandoffer wees by die ingang van die tent van samekoms voor Jehovah, waar ek aan julle sal verskyn om met julle te praat.+ 43  “Ek sal daar aan die Israeliete verskyn, en daardie plek sal deur my heerlikheid+ geheilig word. 44  Ek sal die tent van samekoms en die altaar heilig, en ek sal Aäron en sy seuns heilig,+ sodat hulle my as priesters kan dien. 45  Ek sal onder die Israeliete woon, en ek sal hulle God wees.+ 46  En hulle sal beslis weet dat ek Jehovah hulle God is, wat hulle uit Egipte uitgelei het sodat ek by hulle kan woon.+ Ek is Jehovah hulle God.

Voetnote

Of “die heilige hoofband”.
Lett. “die hand van Aäron en die hand van sy seuns moet vul”.
Of “aanhangsel”.
Of “kalmerende”. Lett. “rustige”.
Of “aanhangsel”.
Of “kalmerende”. Lett. “rustige”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Lett. “om hulle hand te vul”.
Lett. “geen vreemdeling”, d.w.s. iemand wat nie deel is van Aäron se familie nie.
Lett. “Jy moet hulle hand sewe dae lank vul”.
Lett. “tussen die twee aande”.
’n Efa was gelyk aan 22 l. Sien Aanh. B14.
’n Hin was gelyk aan 3,67 l. Sien Aanh. B14.
Lett. “tussen die twee aande”.
Of “kalmerende”. Lett. “rustige”.