Eksodus 4:1-31

  • Drie tekens wat Moses moet doen (1-9)

  • Moses voel nie bekwaam nie (10-17)

  • Moses keer terug na Egipte (18-26)

  • Moses en Aäron sien mekaar weer (27-31)

4  Moses het geantwoord: “Maar sê nou hulle glo my nie en luister nie na my nie?+ Want hulle sal sê: ‘Jehovah het nie aan jou verskyn nie.’”  Toe het Jehovah vir hom gesê: “Wat is dit in jou hand?” Moses het geantwoord: “’n Staf.”  Hy het gesê: “Gooi dit op die grond.” Toe Moses dit op die grond gooi, het dit ’n slang geword,+ en Moses het weggehardloop van die slang af.  Jehovah het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert.” Toe het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ’n staf in sy hand geword.  God het toe gesê: “Doen dit sodat hulle kan glo dat Jehovah, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob,+ aan jou verskyn het.”+  Jehovah het verder vir hom gesê: “Sit asseblief jou hand in die boonste vou van jou kleed.” Moses het toe sy hand in die vou van sy kleed gesit. Toe hy dit uittrek, was sy hand vol melaatsheid, so wit soos sneeu!+  Daarna het hy gesê: “Sit jou hand weer in die boonste vou van jou kleed.” Moses het sy hand weer in sy kleed gesit, en toe hy sy hand uittrek, was dit weer gesond soos die res van sy liggaam!  Hy het gesê: “As hulle jou nie wil glo nie en die eerste teken nie vir hulle genoeg is nie, sal die tweede teken+ hulle beslis oortuig.  Maar as hulle nie hierdie twee tekens glo nie en hulle weier om na jou stem te luister, moet jy ’n bietjie water uit die Nylrivier neem en dit op die droë grond uitgooi, en die water wat jy uit die Nylrivier neem, sal op die droë grond in bloed verander.”+ 10  Moses het toe vir Jehovah gesê: “Verskoon my, Jehovah, maar ek was nog nooit ’n goeie spreker nie, nie in die verlede nie en ook nie nou, nadat u met u kneg gepraat het nie. Want ek kan nie vlot praat nie, en my tong sukkel om te praat.”*+ 11  Jehovah het vir hom gesê: “Wie het vir die mens ’n mond gemaak, of wie maak hom stom, doof, skerpsiende of blind? Is dit nie ek, Jehovah, nie? 12  Gaan dan nou, en ek sal met jou wees terwyl jy praat,* en ek sal jou vertel wat jy moet sê.”+ 13  Maar hy het gesê: “Verskoon my, Jehovah, stuur asseblief iemand anders, net wie u wil.” 14  Toe het Jehovah kwaad geword vir Moses, en hy het gesê: “Wat van jou broer Aäron,+ die Leviet? Ek weet dat hy ’n goeie spreker is. Hy is nou op pad hierheen om jou te ontmoet, en hy sal bly wees om jou te sien.+ 15  Praat met hom en sê vir hom wat hy moet sê,+ en ek sal met jou en met hom wees terwyl julle praat,+ en ek sal julle vertel wat julle moet doen. 16  Hy sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou woordvoerder wees, en jy sal vir hom as God dien.*+ 17  En jy moet hierdie staf in jou hand neem en die tekens daarmee doen.”+ 18  Toe het Moses na sy skoonpa, Jetro,+ teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil asseblief na my broers in Egipte teruggaan om te sien of hulle nog lewe.” Jetro het vir Moses gesê: “Gaan in vrede.” 19  Daarna het Jehovah vir Moses in Miʹdian gesê: “Gaan, keer terug na Egipte, want al die manne wat jou wou doodmaak,* het gesterf.”+ 20  Toe het Moses sy vrou en sy seuns op ’n donkie gesit en na Egipte teruggekeer. Hy het ook die staf van die ware God in sy hand geneem. 21  Jehovah het toe vir Moses gesê: “Nadat jy na Egipte teruggekeer het, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke voor Farao doen wat ek jou die krag gegee het om te doen.+ Maar ek sal toelaat dat hy hardkoppig word,*+ en hy sal die volk nie wegstuur nie.+ 22  Jy moet vir Farao sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Israel is my seun, my eersgeborene.+ 23  Ek sê vir jou: Stuur my seun weg sodat hy my kan dien. Maar as jy weier om hom weg te stuur, gaan ek jou seun, jou eersgeborene, doodmaak.”’”+ 24  Terwyl hulle op pad oornag het, het Jehovah+ na hom toe gekom en hom probeer doodmaak.+ 25  Uiteindelik het Sippoʹra+ ’n mes van vuurklip geneem en haar seun besny en sy voorhuid aan sy voete laat raak en gesê: “Dit is omdat jy vir my ’n bloedbruidegom is.” 26  Daarom het Hy hom laat gaan. Sy het “’n bloedbruidegom” gesê as gevolg van die besnydenis. 27  Jehovah het vir Aäron gesê: “Gaan in die wildernis in om Moses te ontmoet.”+ Hy het toe gegaan en hom by die berg van die ware God ontmoet+ en hom met ’n soen gegroet. 28  En Moses het vir Aäron vertel wat Jehovah alles gesê het+ en van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen.+ 29  Daarna het Moses en Aäron gegaan en al die ouermanne van die Israeliete bymekaar laat kom.+ 30  Aäron het hulle vertel wat Jehovah alles vir Moses gesê het, en hy het die tekens+ voor die oë van die volk gedoen. 31  Daarna het die volk geglo.+ Toe hulle hoor dat Jehovah aan die Israeliete gedink het+ en dat hy hulle lyding gesien het,+ het hulle op hulle knieë gegaan en neergebuig.

Voetnote

Lett. “ek is swaar van mond en swaar van tong”.
Lett. “met jou mond wees”.
Of “God se verteenwoordiger wees”.
Of “wat jou siel gesoek het”.
Lett. “ek sal sy hart verhard”.