Eksodus 5:1-23

  • Moses en Aäron voor Farao (1-5)

  • Onderdrukking word erger (6-18)

  • Israel blameer Moses en Aäron (19-23)

5  Daarna het Moses en Aäron na Farao gegaan en vir hom gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê: ‘Stuur my volk weg sodat hulle in die wildernis vir my ’n fees kan vier.’”  Maar Farao het gesê: “Wie is Jehovah+ dat ek sy stem moet gehoorsaam en Israel moet wegstuur?+ Ek ken Jehovah glad nie, en wat meer is, ek sal Israel nie wegstuur nie.”+  Hulle het gesê: “Die God van die Hebreërs het met ons gekommunikeer. Ons wil asseblief drie dagreise ver in die wildernis in gaan en offerandes bring aan Jehovah ons God.+ Anders sal hy ons met siekte of met die swaard tref.”  Die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Moses en Aäron, hoekom hou julle die volk uit die werk? Gaan terug na julle werk toe!”+  Farao het verder gesê: “Kyk hoe groot is die volk,* en nou wil julle hê dat hulle moet ophou werk!”  Daardie selfde dag het Farao die taakgewers en hulle voormanne beveel:  “Julle moenie meer vir die volk strooi gee om stene te maak nie.+ Laat hulle self vir hulle strooi gaan bymekaarmaak.  Maar hulle moet nog steeds dieselfde hoeveelheid stene maak as voorheen. Moet dit nie vir hulle verminder nie, want hulle is lui. Daarom roep hulle uit: ‘Ons wil gaan, ons wil aan ons God offerandes bring!’  Laat hulle harder werk en hou hulle besig, sodat hulle nie aandag sal skenk aan leuens nie.” 10  Toe het die taakgewers+ en hulle voormanne uitgegaan en vir die volk gesê: “Dít is wat Farao gesê het: ‘Ek gaan nie meer vir julle strooi gee nie. 11  Gaan kry julle eie strooi waar julle dit ook al kan vind, maar julle werk sal glad nie verminder word nie.’” 12  Toe het die volk oor die hele Egipte uitgegaan om stoppels in die plek van strooi bymekaar te maak. 13  En die taakgewers het vir hulle bly sê: “Julle moet elke dag julle werk klaarmaak, net soos toe daar nog vir julle strooi gegee is.” 14  En die voormanne van die Israeliete, wat deur Farao se taakgewers oor hulle aangestel is, is geslaan.+ Hulle het vir hulle gevra: “Hoekom het julle gister en vandag nie soveel stene gemaak as wat julle gewoonlik maak nie?” 15  Die voormanne van die Israeliete het dus ingegaan en by Farao gekla: “Hoekom behandel u u knegte so? 16  Geen strooi word aan u knegte gegee nie, en tog sê hulle vir ons: ‘Maak stene!’ U knegte word geslaan, maar die skuld lê by u volk.” 17  Maar hy het gesê: “Julle is lui, julle is lui!+ Daarom sê julle: ‘Ons wil gaan, ons wil aan Jehovah offerandes bring.’+ 18  Gaan werk nou! Geen strooi sal vir julle gegee word nie, maar julle moet nog steeds dieselfde hoeveelheid stene maak.” 19  Die voormanne van die Israeliete het besef dat hulle in groot moeilikheid is omdat hulle beveel is om elke dag net soveel stene as voorheen te maak. 20  Toe hulle van Farao af weggegaan het, het hulle Moses en Aäron teëgekom, wat vir hulle gestaan en wag het. 21  Hulle het dadelik vir hulle gesê: “Mag Jehovah sien wat julle gedoen het en julle oordeel. Dit is julle skuld dat Farao en sy knegte ons haat,* en julle het ’n swaard in hulle hand gesit om ons dood te maak.”+ 22  Toe het Moses vir Jehovah gevra: “Jehovah, hoekom het u hierdie volk laat ly? Hoekom het u my gestuur? 23  Vandat ek na Farao gegaan het om in u naam te praat,+ het hy hierdie volk nog erger behandel,+ en u het niks gedoen om u volk te red nie.”+

Voetnote

Lett. “die volk van die land”.
Of “Julle het ons ’n stank gemaak vir Farao en sy knegte”.