Eksodus 7:1-25

  • Jehovah versterk Moses (1-7)

  • Aäron se staf word groot slang (8-13)

  • Plaag 1: water in bloed verander (14-25)

7  Jehovah het toe vir Moses gesê: “Kyk, ek het jou soos God gemaak* vir Farao, en jou eie broer Aäron sal jou profeet word.+  Jy moet alles herhaal wat ek jou sal beveel, en jou broer Aäron sal met Farao praat, en hy sal die Israeliete uit sy land wegstuur.  Maar ek sal toelaat dat Farao hardkoppig word,*+ en ek sal baie tekens en wonderwerke in Egipte doen.+  Maar Farao sal nie na julle luister nie, en ek sal my hand teen Egipte moet oplig en my menigtes,* my volk, die Israeliete, met groot oordele uit Egipte moet uitlei.+  En die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is+ wanneer ek my hand teen Egipte uitstrek en die Israeliete onder hulle uitlei.”  Moses en Aäron het gedoen wat Jehovah hulle beveel het. Hulle het net so gedoen.  Moses was 80 jaar oud en Aäron 83 jaar oud toe hulle met Farao gepraat het.+  Jehovah het toe vir Moses en Aäron gesê:  “As Farao vir julle sê: ‘Doen ’n wonderwerk,’ dan moet jy vir Aäron sê: ‘Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer.’ Dit sal dan ’n groot slang word.”+ 10  Toe het Moses en Aäron na Farao toe gegaan en gedoen presies soos Jehovah beveel het. Aäron het sy staf voor Farao en sy knegte neergegooi, en dit het ’n groot slang geword. 11  Maar Farao het die wyse manne en die towenaars laat roep, en die towerpriesters van Egipte+ het dieselfde met hulle toorkuns gedoen.+ 12  Elkeen het sy staf neergegooi, en die stawwe het groot slange geword, maar Aäron se staf het hulle stawwe ingesluk. 13  Tog het Farao hardkoppig geword,*+ en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het. 14  Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Farao is hardkoppig,+ en hy weier om die volk weg te stuur. 15  Gaan môreoggend na Farao toe. Wanneer hy na die water uitgaan, moet jy langs die Nylrivier gaan staan om hom te ontmoet. Vat die staf saam wat in ’n slang verander het.+ 16  Sê vir hom: ‘Jehovah, die God van die Hebreërs, het my na u toe gestuur,+ en hy sê: “Stuur my volk weg sodat hulle my in die wildernis kan dien.” Maar tot nou toe het u nie geluister nie. 17  Dít is wat Jehovah sê: “Hierdeur sal jy weet dat ek Jehovah is.+ Kyk, ek slaan die water in die Nylrivier met die staf wat in my hand is, en dit sal in bloed verander. 18  En die visse in die Nylrivier sal doodgaan, en die Nylrivier sal stink, en dit sal vir die Egiptenare onmoontlik wees om water uit die Nylrivier te drink.”’” 19  Daarna het Jehovah vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van Egipte,+ oor sy riviere, oor sy kanale,* oor sy vleie+ en oor al sy damme sodat dit bloed kan word.’ Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die houers van hout en klip.” 20  Onmiddellik het Moses en Aäron gedoen net soos Jehovah beveel het. Hy het die staf opgelig en die water in die Nylrivier voor die oë van Farao en sy knegte geslaan, en al die water in die rivier is in bloed verander.+ 21  En die visse in die rivier het doodgegaan,+ en die rivier het begin stink, en die Egiptenare kon nie water uit die Nylrivier drink nie,+ en daar was bloed in die hele Egipte. 22  Maar die towerpriesters van Egipte het dieselfde met hulle geheime kunste gedoen,+ en Farao het hardkoppig gebly,* en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het.+ 23  Farao het toe na sy huis teruggekeer, en hy het hom nie gesteur aan die dinge wat hy gesien het nie. 24  En al die Egiptenare het rondom die Nylrivier na drinkwater gegrawe, want hulle kon nie die water uit die Nylrivier drink nie. 25  En sewe volle dae het verbygegaan nadat Jehovah die Nylrivier getref het.

Voetnote

Lett. “ek het jou God gemaak”.
Lett. “ek sal Farao se hart verhard”.
Lett. “my leërmagte”.
Of “se hart verhard”.
D.w.s. die kanale van die Nylrivier.
Of “Farao se hart het hard gebly”.