Eksodus 8:1-32

  • Plaag 2: paddas (1-15)

  • Plaag 3: muggies (16-19)

  • Plaag 4: steekvlieë (20-32)

    • Gosen nie getref nie (22, 23)

8  Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Gaan na Farao toe en sê vir hom: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien.+  As jy bly weier om hulle weg te stuur, sal ek paddas oor jou hele gebied laat kom.+  Die Nylrivier sal wemel van paddas. Hulle sal uit die water kom en in jou huis en in jou slaapkamer inkom, en hulle sal op jou bed, in die huise van jou knegte, op jou volk, in jou oonde en in jou knieskottels wees.+  Die paddas sal oor jou, oor jou volk en oor al jou knegte kom.”’”  Later het Jehovah vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Steek jou hand, met jou staf, uit oor die riviere, die Nylkanale en die vleie, en laat die paddas oor Egipte kom.’”  Toe het Aäron sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en die paddas het begin opkom en die land bedek.  Maar die towerpriesters het dieselfde deur hulle geheime kunste gedoen, en hulle het ook paddas oor Egipte laat kom.+  Farao het Moses en Aäron toe geroep en gesê: “Smeek Jehovah om die paddas van my en my volk te verwyder,+ want ek wil die volk wegstuur sodat hulle aan Jehovah offerandes kan bring.”  Toe het Moses vir Farao gesê: “Sê u vir my wanneer ek moet smeek dat die paddas van u, u knegte, u volk en u huise verwyder moet word. Net in die Nylrivier sal daar paddas oorbly.” 10  En Farao het gesê: “Môre.” Toe het Moses gesê: “Dit sal gebeur soos u gesê het, sodat u kan weet dat daar niemand soos Jehovah ons God is nie.+ 11  U en u huise en u knegte en u volk sal ontslae wees van die paddas. Hulle sal net in die Nylrivier oorbly.”+ 12  Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan, en Moses het tot Jehovah gebid oor die paddas wat Hy oor Farao gebring het.+ 13  Toe het Jehovah gedoen wat Moses gevra het, en die paddas het in die huise, die binnehowe en die veld begin doodgaan. 14  Hulle het die paddas oral in hope bymekaargemaak, en die land het begin stink. 15  Toe Farao sien dat daar verligting is, het hy sy hart verhard,+ en hy het geweier om na hulle te luister, net soos Jehovah gesê het. 16  Jehovah het toe vir Moses gesê: “Sê vir Aäron: ‘Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muggies word in die hele Egipte.’” 17  En hulle het dit gedoen. Aäron het sy hand, met sy staf, uitgesteek en die stof van die grond geslaan, en daar het muggies op mens en dier gekom. In die hele Egipte het al die stof van die grond muggies geword.+ 18  Die towerpriesters het dieselfde probeer doen en muggies deur hulle geheime kunste probeer voortbring,+ maar hulle kon dit nie doen nie. En die muggies het op mens en dier gekom. 19  Die towerpriesters het dus vir Farao gesê: “Dit is die vinger van God!”+ Maar Farao het hardkoppig gebly,* en hy het nie na hulle geluister nie, net soos Jehovah gesê het. 20  Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Staan môreoggend vroeg op en gaan staan voor Farao wanneer hy na die water toe kom. Sê dan vir hom: ‘Dít is wat Jehovah gesê het: “Stuur my volk weg sodat hulle my kan dien. 21  Maar as jy nie my volk wegstuur nie, sal ek steekvlieë na jou, jou knegte, jou volk en jou huise stuur. Die huise van Egipte sal vol steekvlieë wees, en hulle sal selfs die grond bedek waarop die Egiptenare staan. 22  Op daardie dag sal ek beslis die land Gosen, waar my volk woon, afgeskeie hou. Geen steekvlieë sal daar wees nie,+ en hierdeur sal jy weet dat ek, Jehovah, hier in die land is.+ 23  En ek sal ’n onderskeid maak tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.”’” 24  En Jehovah het dit gedoen, en digte swerms steekvlieë het die huis van Farao en die huise van sy knegte en die hele Egipte begin binnedring.+ Die land is deur die steekvlieë verwoes.+ 25  Uiteindelik het Farao vir Moses en Aäron geroep en gesê: “Gaan, bring offerandes aan julle God in die land.” 26  Maar Moses het gesê: “Dit is nie gepas om dit te doen nie, want die offerandes wat ons aan Jehovah ons God sal offer, sal vir die Egiptenare iets afstootliks wees.+ As ons ’n offerande reg voor die Egiptenare offer wat hulle as iets afstootliks beskou, sal hulle ons sekerlik met klippe doodgooi. 27  Ons sal drie dagreise ver in die wildernis in gaan, en daar sal ons offerandes bring aan Jehovah ons God net soos hy vir ons gesê het.”+ 28  Farao het toe gesê: “Ek sal julle wegstuur om in die wildernis aan Jehovah julle God offerandes te bring. Moet net nie so ver weg gaan nie. En bid vir my.”+ 29  Toe het Moses gesê: “Kyk, ek gaan van u af weg, en ek sal Jehovah ter wille van u smeek, en die steekvlieë sal môre van Farao, sy knegte en sy volk weggaan. Maar Farao moet ophou om ons vir die gek te hou deur te weier om die volk weg te stuur om offerandes aan Jehovah te bring.”+ 30  Moses het toe van Farao af weggegaan en tot Jehovah gebid.+ 31  Toe het Jehovah gedoen wat Moses gevra het, en die steekvlieë het van Farao, sy knegte en sy volk weggegaan. Nie een het oorgebly nie. 32  Maar Farao het sy hart weer verhard en die volk nie weggestuur nie.

Voetnote

Of “Farao se hart het hard gebly”.