Ester 1:1-22

  • Koning Ahasveros se fees in Susan (1-9)

  • Koningin Vasti weier om gehoorsaam te wees (10-12)

  • Koning raadpleeg wyse manne (13-20)

  • Koning se bevel uitgestuur (21, 22)

1  In die tyd van Ahasʹveros,* die Ahasʹveros wat oor 127 provinsies*+ van Indië tot Etiopië* regeer het,  toe hy in die paleis* Susan*+ op sy koninklike troon gesit het,  in sy derde jaar as koning, het hy ’n feesmaal gehou vir al sy hoë amptenare en sy knegte. Die leërmag van Persië+ en Medië,+ die leiers en die heersers van die provinsies* het na die feesmaal toe gekom.  Ahasʹveros het baie dae lank, 180 dae lank, sy rykdom en sy glorieryke koninkryk en die eer en die prag van sy grootheid vir hulle gewys.  En toe hierdie dae verby was, het die koning in die voorhof van die tuin van die paleis* Susan* vir almal in die paleis, van die grootste tot die kleinste, ’n feesmaal van sewe dae gehou.  Daar was linne, fyn katoen, blou materiaal wat vasgemaak is met toue van goeie materiaal, pers wol in silwerringe, marmerpilare en banke van goud en silwer wat op ’n plaveisel van porfier, marmer, perlemoen en swart marmer gestaan het.  Wyn is in goue bekers* bedien, en elke beker was anders. Daar was koninklike wyn in oorvloed, soos net die koning kon voorsien.  By daardie geleentheid was die reël dat niemand gedwing* moes word om te drink nie, want die koning het vir die amptenare van sy paleis gesê dat elkeen kon doen wat hy wou.  Koningin Vasti+ het ook vir die vrouens ’n feesmaal by die paleis* van koning Ahasʹveros gehou. 10  Op die sewende dag, toe die koning* in ’n vrolike bui was van die wyn, het hy vir Mehuʹman, Bista, Harboʹna,+ Bigta, Abagʹta, Setar en Karkas, sy sewe persoonlike dienaars, gesê 11  om koningin Vasti met die koninklike hoofversiersel* op haar kop na die koning toe te bring, om haar skoonheid vir die volke en die leiers te wys, want sy was baie mooi. 12  Maar koningin Vasti het bly weier om op die koning se bevel te kom wat deur middel van die hofbeamptes oorgedra is. Toe het die koning baie kwaad geword. Hy het gekook van woede. 13  Die koning het toe met die wyse manne gepraat wat bekend was met die prosedures.* (Hy het hulle altyd geraadpleeg omdat hulle bekend was met die wet en regsake, 14  en dié van hulle wat die naaste aan hom was, was Karseʹna, Setar, Admaʹta, Tarsis, Meres, Marseʹna en Memuʹgan, sewe leiers+ van Persië en Medië, wat toegang tot die koning gehad het en wat die hoogste posisies in die koninkryk gehad het.) 15  Die koning het gevra: “Wat moet volgens die wet met koningin Vasti gedoen word omdat sy nie gehoorsaam was aan die bevel van koning Ahasʹveros wat deur die hofbeamptes oorgedra is nie?” 16  Toe het Memuʹgan in die teenwoordigheid van die koning en die leiers gesê: “Koningin Vasti het nie net teen die koning verkeerd gedoen nie,+ maar teen al die leiers en teen al die volke wat in al die provinsies* van koning Ahasʹveros is. 17  Want wat die koningin gedoen het, sal bekend word onder al die vrouens, en hulle sal nie meer respek vir hulle mans hê nie, en hulle sal sê: ‘Koning Ahasʹveros het gesê dat koningin Vasti na hom toe gebring moes word, maar sy het geweier om te kom.’ 18  Vandag nog sal die prinsesse van Persië en Medië wat weet wat die koningin gedoen het, met hulle mans hieroor praat, en dit sal baie disrespek en ontevredenheid* tot gevolg hê. 19  As die koning dit goedvind, laat ’n koninklike bevel uitgestuur word dat Vasti nooit weer voor koning Ahasʹveros mag verskyn nie. Laat dit geskryf word in die wette van Persië en Medië, wat nie teruggetrek kan word nie.+ En laat die koning haar posisie as koningin gee aan ’n vrou wat beter as sy is. 20  Wanneer die bevel van die koning in sy hele uitgestrekte koninkryk gehoor word, sal al die vrouens hulle mans eer, of hulle nou belangrik is of nie.” 21  Die koning en die leiers het van hierdie voorstel gehou, en die koning het gedoen wat Memuʹgan gesê het. 22  Toe het hy briewe gestuur aan al die koninklike provinsies,*+ aan elke provinsie* in hulle eie skrif* en aan elke volk in hulle eie taal. Dit het gesê dat elke man die hoof* van sy eie huis moet wees en die taal van sy eie volk moet praat.

Voetnote

Daar word gemeen dat dit Xerxes I, seun van Darius die Grote (Darius Hystaspis) is.
Of “regsgebiede”.
Of “Kus”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “regsgebiede”.
Of “vesting”.
Of “Susa”.
Of “houers”.
Of “gekeer”.
Lett. “koninklike huis”.
Lett. “die koning se hart”.
Of “tulband”.
Of “die gebruike van daardie dae”. Lett. “die tye”.
Of “regsgebiede”.
Of “verontwaardiging; woede”.
Lett. “die regsgebiede van die koning”.
Of “regsgebied”.
Of “skryfstyl”.
Of “meester”.