Ester 5:1-14

  • Ester verskyn voor koning (1-8)

  • Haman woedend en verwaand (9-14)

5  Op die derde dag+ het Ester haar koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof oorkant die koning se paleis* gaan staan, terwyl die koning in die koninklike huis oorkant die ingang op sy koninklike troon gesit het.  Toe die koning vir koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy die koning se goedkeuring verkry, en hy het die goue septer in sy hand na Ester toe uitgesteek.+ Ester het nader gekom en aan die punt van die septer geraak.  Die koning het vir haar gevra: “Wat is fout, koningin Ester? Wat wil jy vra? Selfs die helfte van my koninkryk sal aan jou gegee word!”  Ester het geantwoord: “As die koning dit goedvind, laat hy vandag saam met Haman+ na die feesmaal kom wat ek vir die koning voorberei het.”  Toe het die koning vir sy manne gesê: “Sê vir Haman om dadelik te kom, net soos Ester gevra het.” Die koning en Haman het dus na die feesmaal gegaan wat Ester voorberei het.  Later, terwyl hulle wyn gedrink het, het die koning vir Ester gesê: “Wat is dit wat jy wil hê? Dit sal aan jou gegee word! Wat kan ek vir jou gee? Selfs die helfte van my koninkryk sal aan jou gegee word!”+  Ester het geantwoord: “Dít is wat ek wil vra:  As ek die koning se goedkeuring verkry het en as die koning dit goedvind om vir my te gee wat ek vra, laat die koning en Haman na die feesmaal toe kom wat ek môre vir hulle sal hou, en môre sal ek doen wat die koning sê.”  Op daardie dag was Haman in ’n goeie bui, en hy het vrolik uitgegaan. Maar toe Haman vir Morʹdegai in die koning se poort sien en opmerk dat hy nie opstaan of vir hom bang is nie, het Haman woedend geword vir Morʹdegai.+ 10  Maar Haman het hom ingehou en na sy huis toe gegaan. Toe het hy sy vriende en sy vrou Seres+ laat roep. 11  Haman het gespog oor hoe ryk hy is, hoe baie seuns hy het+ en hoe die koning hom bevorder het en hom ’n belangriker posisie gegee het as die leiers en die knegte van die koning.+ 12  Haman het bygevoeg: “En nog iets, koningin Ester het net vir my en die koning genooi na die feesmaal wat sy voorberei het.+ Ek is genooi om ook môre saam met haar en die koning te wees.+ 13  Maar nie een van hierdie dinge stel my tevrede solank ek die Jood Morʹdegai in die koning se poort sien sit nie.” 14  Toe het sy vrou Seres en al sy vriende vir hom gesê: “Laat ’n paal opgerig word, 50 el* hoog. En sê dan môreoggend vir die koning dat Morʹdegai daaraan gehang moet word.+ Gaan dan saam met die koning en geniet die feesmaal.” Hierdie voorstel het goed geklink vir Haman, en daarom het hy die paal laat oprig.

Voetnote

Lett. “huis”.
Omtrent 22,3 m. Sien Aanh. B14.