Ester 6:1-14

  • Mordegai deur koning vereer (1-14)

6  Daardie nag kon die koning nie slaap nie.* Daarom het hy gesê dat die boek met die geskiedkundige verslae+ gebring moet word, en dit is aan die koning voorgelees.  Die boek het gesê wat Morʹdegai bekend gemaak het oor die deurwagters Bigtaʹna en Teres, die twee hofbeamptes van die koning wat ’n plan beraam het om koning Ahasʹveros dood te maak.*+  Die koning het gevra: “Watter eer en erkenning is hiervoor aan Morʹdegai gegee?” Die koning se persoonlike dienaars het gesê: “Niks is vir hom gedoen nie.”  Later het die koning gevra: “Wie is in die voorhof?” Dit was toe Haman wat in die buitenste voorhof+ van die koning se paleis* ingekom het om vir die koning te vra dat Morʹdegai aan die paal gehang moet word wat hy vir hom gereedgemaak het.+  Die koning se dienaars het vir hom gesê: “Dit is Haman+ wat in die voorhof staan.” Toe het die koning gesê: “Laat hom inkom.”  Toe Haman inkom, het die koning vir hom gevra: “Wat moet gedoen word vir die man aan wie die koning eer wil bewys?” Haman het in sy hart gesê: “Aan wie anders as aan my sou die koning eer wou bewys?”+  Toe het Haman vir die koning gesê: “Wat die man betref aan wie die koning eer wil bewys,  laat hulle van die klere bring wat deur die koning gedra word,+ en ’n perd waarop die koning ry, met die koninklike hoofversiersel op die perd se kop.  Laat die klere en die perd dan in die sorg van een van die koning se belangrike manne geplaas word, en hulle moet dit vir die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys, en hulle moet hom in die openbare stadsplein op die perd laat ry. Hulle moet voor hom uitroep: ‘Só word gedoen vir die man aan wie die koning eer wil bewys!’”+ 10  Die koning het dadelik vir Haman gesê: “Maak gou! Neem die klere en die perd, en doen wat jy nou net gesê het vir die Jood Morʹdegai wat in die koning se poort sit. Jy moet alles doen wat jy gesê het.” 11  Toe het Haman die klere en die perd geneem en Morʹdegai+ aangetrek en hom in die openbare stadsplein laat ry en voor hom uitgeroep: “Só word gedoen vir die man aan wie die koning eer wil bewys!” 12  Daarna het Morʹdegai na die koning se poort teruggekeer, maar Haman het vinnig na sy huis toe gegaan terwyl hy getreur het en sy kop bedek het. 13  Toe Haman vir sy vrou Seres+ en vir al sy vriende vertel van alles wat met hom gebeur het, het sy wyse manne en sy vrou Seres vir hom gesê: “As Morʹdegai, voor wie jy begin val het, ’n Jood is,* sal jy niks teen hom kan doen nie. Jy sal beslis voor hom val.” 14  Terwyl hulle nog met hom gepraat het, het die koning se hofbeamptes daar aangekom en Haman vinnig na die feesmaal geneem wat Ester voorberei het.+

Voetnote

Lett. “het die koning se slaap gevlug”.
Lett. “om die hand aan koning Ahasveros te slaan”.
Lett. “huis”.
Lett. “van die saad van die Jode is”.