Genesis 38:1-30

  • Juda en Tamar (1-30)

38  Omtrent daardie tyd het Juda van sy broers af weggetrek. Hy het sy tent opgeslaan naby ’n Adullamitiese man met die naam Hira.  Daar het Juda die dogter van ’n sekere Kanaäniet+ met die naam Sua gesien. Toe het hy haar as vrou geneem en seksuele omgang met haar gehad,  en sy het swanger geword. Later het sy aan ’n seun geboorte gegee, en Juda het hom Er+ genoem.  Sy het weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun en hom Onan genoem.  Sy het weer aan ’n seun geboorte gegee en hom Sela genoem. Juda was in Agsib+ toe sy geboorte gegee het.  Later het Juda vir Er, sy eersgeborene, ’n vrou geneem, en haar naam was Tamar.+  Maar Er, Juda se eersgeborene, was sleg in Jehovah se oë. Jehovah het hom dus doodgemaak.  As gevolg hiervan het Juda vir Onan gesê: “Sluit ’n swaershuwelik met jou broer se vrou. Slaap by haar en verwek ’n nageslag vir jou broer.”+  Maar Onan het geweet dat die nageslag nie as syne beskou sou word nie.+ Elke keer as hy seksuele omgang met sy broer se vrou gehad het, het hy dus sy saad op die grond gestort sodat hy vir sy broer geen nageslag sou gee nie.+ 10  Wat hy gedoen het, was sleg in Jehovah se oë, en daarom het hy hom ook doodgemaak.+ 11  Toe het Juda vir Tamar, sy skoondogter, gesê: “Gaan woon as ’n weduwee in die huis van jou pa totdat my seun Sela groot is,” want hy het vir homself gesê: “Dalk sterf hy ook soos sy broers.”+ Tamar het toe in die huis van haar pa gaan bly. 12  Ná verloop van tyd het Juda se vrou, die dogter van Sua,+ gesterf. Juda het ’n tyd lank gerou, en toe het hy na sy skaapskeerders in Timna+ gegaan saam met sy vriend Hira, die Adullamiet.+ 13  Toe is daar vir Tamar gesê: “Jou skoonpa is op pad na Timna om sy skape te skeer.” 14  Sy het haar rouklere uitgetrek en haar met ’n sluier en ’n tjalie bedek en by die ingang van Enaʹim gaan sit, op pad na Timna, want sy het gesien dat Sela grootgeword het, maar dat sy nie as vrou aan hom gegee is nie.+ 15  Toe Juda haar sien, het hy dadelik gedink dat sy ’n prostituut is, omdat sy haar gesig bedek het. 16  Toe het hy na haar toe gegaan langs die pad en gesê: “Laat my asseblief toe om by jou te slaap,” want hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie.+ Maar sy het gesê: “Wat sal jy my gee as ek jou toelaat om by my te slaap?” 17  Hy het geantwoord: “Ek sal ’n boklam uit my kudde stuur.” Maar sy het gevra: “Sal jy ’n waarborg gee totdat jy dit stuur?” 18  Hy het verder gesê: “Watter waarborg moet ek vir jou gee?” Toe het sy gesê: “Jou seëlring+ en die toutjie waaraan dit vas is en jou staf wat in jou hand is.” Hy het dit toe vir haar gegee en seksuele omgang met haar gehad, en sy het by hom swanger geword. 19  Daarna het sy opgestaan en weggegaan en haar tjalie afgehaal en haar rouklere aangetrek. 20  Juda het toe sy vriend, die Adullamiet,+ met die boklam gestuur om die waarborg by die vrou te gaan haal, maar hy kon haar nie kry nie. 21  Hy het die manne van die plek gevra: “Waar is daardie tempelprostituut wat in Enaʹim langs die pad was?” Maar hulle het gesê: “Daar was nog nooit ’n tempelprostituut hier nie.” 22  Uiteindelik het hy na Juda toe teruggekeer en gesê: “Ek kon haar nêrens kry nie, en die manne van die plek het ook gesê: ‘Daar was nog nooit ’n tempelprostituut hier nie.’” 23  Toe het Juda gesê: “Laat sy dit hou, sodat ons nie ’n bespotting van onsself maak nie. In elk geval, ek het nou hierdie boklam gestuur, maar jy kon haar nêrens kry nie.” 24  Maar ongeveer drie maande later is daar vir Juda gesê: “Jou skoondogter Tamar het haar soos ’n prostituut gedra, en sy is nou swanger as gevolg van haar prostitusie.” Toe het Juda gesê: “Bring haar uit en laat sy verbrand word.”+ 25  Terwyl hulle haar uitgebring het, het sy hierdie boodskap aan haar skoonpa gestuur: “Die man aan wie hierdie goed behoort, het my swanger gemaak.” Toe het sy bygevoeg: “Ondersoek asseblief aan wie hierdie seëlring, toutjie en staf behoort.”+ 26  Toe het Juda dit ondersoek en gesê: “Sy is regverdiger as ek, omdat ek haar nie aan my seun Sela gegee het nie.”+ En daarna het hy nie weer seksuele omgang met haar gehad nie. 27  Toe die tyd aanbreek vir haar om geboorte te gee, was dit ’n tweeling. 28  Terwyl sy geboorte gegee het, het een sy hand uitgesteek, en die vroedvrou het dadelik ’n helderrooi toutjie om sy hand gebind en gesê: “Hierdie een het eerste uitgekom.” 29  Maar hy het sy hand teruggetrek, en sy broer het uitgekom, en sy het uitgeroep: “Jy het omtrent ’n skeuring veroorsaak om uit te kom!” Daarom is hy Peres*+ genoem. 30  Daarna het sy broer uitgekom, die een om wie se hand die helderrooi toutjie gebind was, en hy is Serag+ genoem.

Voetnote

Beteken “skeuring”. Verwys moontlik na ’n perineale skeur.