Haggai 1:1-15

  • Teregwysing omdat tempel nie herbou word nie (1-11)

    • ‘Is dit die tyd om in huise met houtpanele te woon?’ (4)

    • “Dink mooi na oor wat julle doen” (5)

    • Baie gesaai, min geoes (6)

  • Volk luister na Jehovah se stem (12-15)

1  In die tweede jaar van koning Darius, in die sesde maand, op die eerste dag van die maand, het Jehovah deur middel van die profeet Haggai*+ ’n boodskap gestuur aan Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël, die goewerneur van Juda, en aan Josua, die seun van Joʹsadak, die hoëpriester, en dit het gesê:  “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Hierdie volk sê: “Die tyd het nog nie gekom vir die huis* van Jehovah om gebou* te word nie.”’”+  En Jehovah het weer ’n boodskap deur middel van die profeet Haggai+ gestuur, en dit het gesê:  “Is dit die tyd vir julle om in julle huise met pragtige houtpanele te woon, terwyl hierdie huis afgebreek is?+  Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Dink mooi na oor wat julle doen.*  Julle het baie saad gesaai, maar julle oes min.+ Julle eet, maar julle is nie versadig nie. Julle drink, maar julle drink nie genoeg nie. Julle trek klere aan, maar niemand word warm nie. Die persoon wat homself verhuur, sit sy betaling in ’n sak vol gate.’”  “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Dink mooi na oor wat julle doen.’*  “‘Gaan op na die berg en bring timmerhout.+ En bou die huis,+ sodat dit vir my vreugde kan gee en ek verheerlik kan word,’+ sê Jehovah.”  “‘Julle het baie verwag en min ontvang, en toe julle dit in die huis ingebring het, het ek dit weggeblaas.+ Hoekom?’ vra Jehovah van die leërmagte. ‘Want my huis is afgebreek, terwyl julle almal rondhardloop en julle eie huise regmaak.+ 10  Daarom het die hemel daar bo sy dou teruggehou en het die aarde sy opbrengs teruggehou. 11  En ek het ’n droogte laat kom oor die aarde, oor die berge, oor die graan, oor die nuwe wyn, oor die olie, oor wat in die grond groei, oor mense en vee en oor al die werk van julle hande.’” 12  Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël,+ en Josua, die seun van Joʹsadak,+ die hoëpriester, en die res van die volk het na die stem van Jehovah hulle God en na die woorde van die profeet Haggai geluister omdat Jehovah hulle God hom gestuur het, en die volk het Jehovah begin vrees. 13  Toe het Haggai, die boodskapper van Jehovah, die volgende boodskap aan die volk oorgedra, in ooreenstemming met sy opdrag van Jehovah: “‘Ek is met julle,’+ sê Jehovah.” 14  Jehovah het Serubbaʹbel, die seun van Sealʹtiël, die goewerneur van Juda,+ en Josua,+ die seun van Joʹsadak, die hoëpriester, en die res van die volk toe beweeg+ om aan die huis van Jehovah van die leërmagte, hulle God, te begin werk.+ 15  Dit was op die 24ste dag van die sesde maand in die tweede jaar van koning Darius.+

Voetnote

Beteken “gebore op ’n feesdag”.
Of “tempel”.
Of “herbou”.
Lett. “Rig julle hart op julle weë”.
Lett. “Rig julle hart op julle weë”.