Die handelinge van die apostels 8:1-40
8 En Saulus het die moord van Stefaʹnus goedgekeur.+
Op daardie dag het ’n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan. Almal behalwe die apostels is regdeur Judeʹa en Samariʹa verstrooi.+
2 Maar godvresende manne het Stefaʹnus weggedra om hom te gaan begrawe, en hulle het baie oor hom getreur.
3 Saulus het egter gewelddadig teen die gemeente begin optree. Hy het in een huis ná die ander ingegaan en mans sowel as vrouens uitgesleep en hulle in die tronk laat gooi.+
4 Maar dié wat verstrooi is, het deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak.+
5 Filippus het na die stad Samariʹa*+ gegaan en vir die mense daar oor die Christus gepreek.
6 Almal in die skare het aandag geskenk aan wat Filippus gesê het, terwyl hulle geluister het en die wonderwerke* gesien het wat hy gedoen het.
7 Want baie het onrein geeste in hulle gehad, wat met ’n harde stem uitgeroep en uitgekom het.+ En baie wat verlam en kreupel was, is genees.
8 Daar was dus groot blydskap in daardie stad.
9 In die stad was daar ’n man met die naam Simon, wat voorheen toorkuns beoefen het. Hy het die nasie van Samariʹa hiermee verbaas en het gesê dat hy iemand spesiaal is.
10 Hulle almal, van die kleinste tot die grootste, het na hom geluister en gesê: “God se groot krag is in hierdie man.”
11 Hulle het na hom geluister omdat hy hulle al ’n hele ruk lank verbaas het met sy toorkuns.
12 Toe Filippus die goeie nuus van die Koninkryk van God en die naam van Jesus Christus bekend gemaak het,+ het die mense hom geglo, en mans en vrouens is gedoop.+
13 Simon het ook ’n gelowige geword, en nadat hy gedoop is, was hy die hele tyd by Filippus,+ en hy was verbaas toe hy die tekens en wonderwerke sien wat Filippus gedoen het.
14 Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samariʹa die woord van God aanvaar het,+ het hulle Petrus en Johannes na hulle toe gestuur.
15 En hulle het daarheen gegaan en vir hulle gebid sodat hulle heilige gees kan ontvang.+
16 Want nog nie een van hulle het die heilige gees ontvang nie, maar hulle was net in die naam van die Here Jesus gedoop.+
17 Toe het hulle hulle hande op hulle gelê,+ en hulle het heilige gees begin ontvang.
18 Toe Simon sien dat mense die gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle gelê het, het hy vir die apostels geld aangebied
19 en gesê: “Gee vir my ook hierdie gesag, sodat enigeen op wie ek my hande lê, heilige gees kan ontvang.”
20 Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou vergaan, want jy het gedink dat jy die vrye gawe van God met geld kan koop.+
21 Jy het niks met hierdie saak te doen nie, want jou hart is nie reg in God se oë nie.
22 Toon dus berou oor jou slegtheid, en smeek Jehovah* om die goddelose dinge in jou hart te vergewe, as dit moontlik is,
23 want ek sien dat jy bitter gif en ’n slaaf van onregverdigheid is.”
24 Simon het toe vir hulle gesê: “Doen vir my ’n smeekgebed tot Jehovah* dat niks wat julle gesê het, oor my sal kom nie.”
25 Nadat hulle deeglik getuig het en die woord van Jehovah* bekend gemaak het, het hulle teruggegaan Jerusalem toe. Op pad terug het hulle die goeie nuus in baie dorpies van die Samaritane bekend gemaak.+
26 Maar Jehovah* se engel+ het vir Filippus gesê: “Staan op en gaan na die suide, na die pad wat van Jerusalem na Gasa loop.” (Dit is ’n woestynpad.)
27 Toe het hy opgestaan en gegaan, en daar was ’n Etiopiese eunug,* ’n man met gesag in die regering van Kandaʹke, die koningin van die Etiopiërs. Hy was in beheer van al haar skatte. Hy het na Jerusalem gegaan om te aanbid,+
28 maar hy was op pad terug en het in sy strydwa gesit en hardop uit die boek van die profeet Jesaja gelees.
29 Toe het die gees vir Filippus gesê: “Gaan na daardie strydwa toe.”
30 Filippus het langs die strydwa gehardloop en het gehoor hoe die eunug uit die boek van die profeet Jesaja lees, en hy het gevra: “Verstaan u regtig wat u lees?”
31 Hy het gevra: “Hoe kan ek dit ooit verstaan as iemand my nie lei nie?” Toe het hy Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit.
32 Hy was besig om die volgende Skrifgedeelte te lees: “Soos ’n skaap is hy gebring om geslag te word, en soos ’n lam wat nie ’n geluid maak voor sy skeerder nie, so maak hy nie sy mond oop nie.+
33 Gedurende sy vernedering is geregtigheid van hom af weggeneem.+ Wie sal die besonderhede van sy geslag* vertel? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”+
34 Die eunug het toe vir Filippus gevra: “Sê asseblief vir my: Van wie praat die profeet hier? Van homself of van iemand anders?”
35 Filippus het toe begin praat. Hy het met hierdie Skrifgedeelte begin en hom van die goeie nuus oor Jesus vertel.
36 Op pad het hulle by water gekom, en die eunug het gesê: “Kyk! Hier is water. Wat keer my om gedoop te word?”
37 *——
38 Toe het hy beveel dat die strydwa moet stilhou, en Filippus en die eunug het in die water geklim, en Filippus het hom gedoop.
39 Toe hulle uit die water opgekom het, het Jehovah* se gees Filippus vinnig weggelei, en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het vreugdevol verder gereis.
40 Filippus het egter in Asdod aangekom, en hy het deur die gebied gegaan en aangehou om die goeie nuus aan al die stede bekend te maak totdat hy in Sesareʹa gekom het.+
Voetnote
^ Of moontlik “’n stad van Samaria”.
^ Lett. “tekens”.
^ Of “hofbeampte”.
^ Of “herkoms; lewenswyse”.