Die brief van Jakobus 2:1-26
2 My broers, julle kan tog nie sê dat julle geloof het in ons glorieryke Here Jesus Christus terwyl julle party voortrek nie, of hoe?+
2 Sê nou ’n man met pragtige klere en met goue ringe aan sy vingers kom na julle vergadering toe, maar ’n arm man in vuil klere kom ook.
3 Sal julle dan die een met die pragtige klere voortrek deur te sê: “Kom sit hier op ’n goeie plek,” terwyl julle vir die arm man sê: “Bly staan,” of: “Gaan sit daar onder my voetbank”?+
4 As dit die geval is, het julle dan nie klasseverskille onder julle nie+ en het julle dan nie regters geword wat goddelose oordele uitspreek nie?+
5 Luister, my geliefde broers. Het God nie dié wat in die oë van die wêreld arm is, gekies om ryk in geloof+ te wees en om erfgename te wees van die Koninkryk wat hy belowe het aan dié wat hom liefhet nie?+
6 Maar julle het die arm mense sonder respek behandel. Is dit nie die rykes wat julle onderdruk+ en julle hof toe sleep nie?
7 Belaster hulle nie die goeie naam wat aan julle gegee is nie?
8 Julle doen heel goed as julle gehoorsaam is aan die koninklike wet wat in die Skrif opgeteken is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”+
9 Maar as julle aanhou om mense voor te trek,+ pleeg julle ’n sonde en word julle deur die wet as oortreders veroordeel.+
10 Want as iemand al die gebooie van die Wet gehoorsaam behalwe een, het hy ’n oortreder ten opsigte van die hele Wet geword.+
11 Want die een wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,”+ het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.”+ As jy nie egbreuk pleeg nie maar wel moord pleeg, het jy ’n oortreder van die wet geword.
12 Praat en gedra julle soos mense wat geoordeel gaan word deur die wet van ’n volk wat vry is.*+
13 Want wie nie genade betoon nie, sal sy oordeel sonder genade kry.+ Om genade te betoon is beter as om te oordeel.
14 My broers, wat help dit as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie werke nie?+ Daardie soort geloof kan hom tog nie red nie, of hoe?+
15 As broers of susters nie klere het nie* en nie genoeg kos vir die dag het nie,
16 en tog sê een van julle vir hulle: “Gaan in vrede. Bly warm en sorg dat jy genoeg eet,” maar julle gee hulle nie wat hulle liggaam nodig het nie, wat help dit?+
17 So is geloof sonder werke ook dood.+
18 Maar iemand sal sê: “Jy het geloof, en ek het werke. Wys my jou geloof sonder die werke, en dan sal ek jou my geloof deur my werke wys.”
19 Glo jy dat daar een God is? Jy doen heel goed. En tog glo die demone ook, en hulle bewe van vrees.+
20 Maar jy, o leë mens, wil jy bewyse hê dat geloof sonder werke niks beteken nie?
21 Is Abraham, ons vader, nie regverdig verklaar as gevolg van werke nadat hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie?+
22 Jy kan sien dat sy geloof met sy werke saamgewerk het en dat sy geloof deur sy werke tot volmaaktheid gebring is,+
23 en die Skrifgedeelte is vervul wat sê: “Abraham het geloof in Jehovah* gestel, en daarom is hy as regverdig beskou”,+ en hy is Jehovah* se vriend genoem.+
24 Julle kan sien dat ’n mens regverdig verklaar sal word deur werke en nie net deur geloof nie.
25 Is Ragab, die prostituut, nie ook as gevolg van werke regverdig verklaar nadat sy die boodskappers gasvry ontvang het en hulle met ’n ander pad weggestuur het nie?+
26 Ja, soos die liggaam sonder gees* dood is,+ so is geloof sonder werke ook dood.+