Jeremia 27:1-22

  • Juk van Babilon (1-11)

  • Sedekia beveel om hom aan Babilon te onderwerp (12-22)

27  Kort nadat Jojaʹkim, die seun van koning Josiʹa, van Juda koning geword het, het Jeremia hierdie boodskap van Jehovah ontvang:  “Dít is wat Jehovah vir my gesê het: ‘Maak vir jou rieme en jukke, en sit dit op jou nek.  Stuur dit dan aan die koning van Edom,+ die koning van Moab,+ die koning van die Ammoniete,+ die koning van Tirus+ en die koning van Sidon.+ Gee dit vir die boodskappers wat na Jerusalem, na koning Sedekiʹa van Juda, gekom het.  Gee hulle hierdie bevel vir hulle meesters: “‘“Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê, en dít is wat julle vir julle meesters moet sê:  ‘Ek het die aarde, die mense en die diere op die oppervlak van die aarde deur my groot krag en deur my uitgestrekte arm gemaak, en ek gee dit aan wie ek ook al wil.*+  En nou het ek al hierdie lande in die hand van my kneg, koning Nebukadneʹsar+ van Babilon, gegee. Ek het selfs die wilde diere van die veld aan hom gegee om hom te dien.  Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien totdat die tyd vir sy eie land kom,+ wanneer baie nasies en groot konings hom hulle slaaf sal maak.’+  “‘“‘As enige nasie of koninkryk weier om koning Nebukadneʹsar van Babilon te dien en weier om hulle nek onder die juk van die koning van Babilon te sit, sal ek daardie nasie met die swaard,+ hongersnood en vreeslike siektes straf,’ sê Jehovah, ‘totdat ek deur sy hand ’n einde aan hulle gemaak het.’  “‘“‘Moet dus nie na julle profete, julle waarsêers, julle dromers en julle towenaars luister nie. Hulle sê vir julle: “Julle sal nie die koning van Babilon dien nie.” 10  Want hulle profeteer leuens vir julle, en as gevolg daarvan sal julle ver van julle land weggeneem word, en ek sal julle verstrooi, en julle sal vergaan. 11  “‘“‘Maar ek sal die nasie wat sy nek onder die juk van die koning van Babilon bring en wat hom dien, toelaat om in sy land te bly,’* sê Jehovah, ‘om dit te bewerk en daarin te woon.’”’” 12  En vir koning Sedekiʹa+ van Juda het ek dieselfde boodskap gegee en gesê: “Bring julle nekke onder die juk van die koning van Babilon en dien hom en sy volk, en julle sal bly lewe.+ 13  Hoekom moet u en u volk deur die swaard,+ deur die hongersnood+ en deur vreeslike siektes+ sterf, soos Jehovah gesê het omtrent die nasie wat nie die koning van Babilon wil dien nie? 14  Moenie luister na die woorde van die profete wat vir julle sê: ‘Julle sal nie die koning van Babilon dien nie,’+ want hulle profeteer leuens vir julle.+ 15  “‘Want ek het hulle nie gestuur nie,’ sê Jehovah. ‘Hulle profeteer leuens in my naam, en as gevolg daarvan sal ek julle verstrooi, en julle sal vergaan, julle en die profete wat vir julle profeteer.’”+ 16  Ek het vir die priesters en vir hierdie hele volk gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Moenie luister na die woorde van julle profete nie. Want hulle profeteer leuens vir julle+ en sê: “Die voorwerpe van die huis van Jehovah sal nou binnekort uit Babilon teruggebring word!”+ 17  Moenie na hulle luister nie. Dien die koning van Babilon, en julle sal bly lewe.+ Hoekom moet hierdie stad ’n verwoeste plek word? 18  Maar as hulle wel profete is en as die woord van Jehovah wel by hulle is, laat hulle asseblief Jehovah van die leërmagte smeek dat die oorblywende voorwerpe in die huis van Jehovah, in die paleis* van die koning van Juda en in Jerusalem nie na Babilon weggeneem word nie.’ 19  “Want dít is wat Jehovah van die leërmagte sê oor die pilare,+ die See,*+ die waentjies+ en die res van die voorwerpe wat in hierdie stad oorbly, 20  wat koning Nebukadneʹsar van Babilon laat agterbly het toe hy Jegonʹja, die seun van Jojaʹkim, die koning van Juda, van Jerusalem na Babilon geneem het, saam met al die heersers van Juda en Jerusalem.+ 21  Ja, dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê oor die voorwerpe wat in die huis van Jehovah, in die paleis* van die koning van Juda en in Jerusalem oorbly: 22  ‘“Dit sal na Babilon gebring word+ en dit sal daar bly tot die dag dat ek daaraan aandag skenk,” sê Jehovah. “Dan sal ek dit terugbring na hierdie plek.”’”+

Voetnote

Lett. “aan wie dit reg is in my oë”.
Lett. “rus”.
Lett. “huis”.
D.w.s. die Kopersee van die tempel.
Lett. “huis”.