Jeremia 42:1-22

  • Volk vra Jeremia om vir leiding te bid (1-6)

  • Jehovah antwoord: “Moenie Egipte toe gaan nie” (7-22)

42  Toe het al die hoofde van die leërmag en Johaʹnan,+ die seun van Kareʹag, Jesanʹja, die seun van Hosaʹja, en die hele volk, van die kleinste tot die grootste, nader gekom  en vir die profeet Jeremia gesê: “Hoor asseblief ons versoek, en bid vir ons tot Jehovah u God vir die hele groep mense wat oorgebly het, want soos u kan sien, het daar van die baie mense min oorgebly.+  Mag Jehovah u God vir ons sê watter weg ons moet volg en wat ons moet doen.”  Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Goed so. Ek sal tot Jehovah julle God bid net soos julle gevra het, en elke woord wat Jehovah julle antwoord, sal ek julle vertel. Ek sal nie ’n enkele woord vir julle wegsteek nie.”  Hulle het toe vir Jeremia gesê: “Mag Jehovah ’n betroubare en getroue getuie teen ons wees as ons nie presies doen wat Jehovah u God ons deur middel van u beveel nie.  Of dit nou goed of sleg is, ons sal die stem van Jehovah ons God, na wie toe ons u stuur, gehoorsaam, sodat dit met ons goed kan gaan omdat ons die stem van Jehovah ons God gehoorsaam.”  Tien dae later het Jeremia ’n boodskap van Jehovah ontvang.  Toe het hy Johaʹnan, die seun van Kareʹag, laat roep, sowel as al die hoofde van die leërmag wat by hom was en die hele volk, van die kleinste tot die grootste.+  Hy het vir hulle gesê: “Dít is wat Jehovah, die God van Israel, sê, na wie julle my gestuur het sodat ek hom namens julle kan vra om genade aan julle te betoon: 10  ‘As julle in hierdie land bly, sal ek julle opbou en nie afbreek nie, en ek sal julle plant en nie uitruk nie, want ek sal spyt* voel oor die rampspoed wat ek oor julle gebring het.+ 11  Moenie bang wees vir die koning van Babilon, vir wie julle so bang is nie.’+ “‘Moenie vir hom bang wees nie,’ sê Jehovah, ‘want ek is met julle, om julle te red en om julle uit sy hand te bevry. 12  En ek sal genade aan julle betoon,+ en hy sal genade aan julle betoon, en hy sal julle na julle eie land terugbring. 13  “‘Maar as julle sê: “Nee, ons sal nie in hierdie land bly nie!” en as julle ongehoorsaam is aan die stem van Jehovah julle God 14  en sê: “Nee, ons sal eerder na Egipte gaan,+ waar ons nie oorlog sal sien of die geluid van die horing sal hoor of honger sal ly nie, en ons sal daar woon,” 15  hoor dan die woord van Jehovah, o oorblyfsel van Juda. Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: “As julle vasbeslote is om na Egipte toe te gaan, en as julle daar gaan woon,* 16  dan sal die einste swaard waarvoor julle bang is, julle daar in Egipte inhaal, en die einste hongersnood waarvoor julle bang is, sal julle na Egipte agtervolg, en daar sal julle sterf.+ 17  En al die manne wat vasbeslote is om Egipte toe te gaan om daar te gaan woon, sal deur die swaard, hongersnood en vreeslike siektes sterf. Nie een van hulle sal bly lewe of wegkom van die rampspoed wat ek oor hulle sal bring nie.”’ 18  “Want dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Net soos my groot woede oor die inwoners van Jerusalem uitgestort is,+ so sal my woede oor julle uitgestort word as julle Egipte toe gaan, en julle sal ’n vloek, iets skokkends, ’n vervloeking en ’n bespotting word,+ en julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.’ 19  “Jehovah het teen julle gespreek, o oorblyfsel van Juda. Moenie Egipte toe gaan nie. Julle moet vir seker weet dat ek julle vandag gewaarsku het 20  dat julle sal sterf as gevolg van julle oortreding. Want julle het my na Jehovah julle God toe gestuur en gesê: ‘Bid vir ons tot Jehovah ons God en sê vir ons alles wat Jehovah ons God sê, en ons sal dit doen.’+ 21  En ek het julle vandag alles vertel, maar julle sal nie gehoorsaam wees aan die stem van Jehovah julle God of aan enigiets wat hy my gestuur het om vir julle te sê nie.+ 22  Daarom kan julle seker wees dat julle deur die swaard, hongersnood en vreeslike siektes sal sterf in die plek waar julle wil gaan woon.”+

Voetnote

Of “bedroef”.
Of “’n tyd lank daar gaan woon”.