Josua 4:1-24

  • Klippe dien as gedenkteken (1-24)

4  Nadat die hele nasie deur die Jordaanrivier gegaan het, het Jehovah vir Josua gesê:  “Neem 12 manne uit die volk, een man uit elke stam,+  en gee hulle die volgende bevel: ‘Neem 12 klippe uit die middel van die Jordaanrivier, van die plek waar die priesters se voete stilgestaan het,+ en dra dit saam met julle, en sit dit neer op die plek waar julle gaan oornag.’”+  Toe het Josua die 12 manne geroep wat hy aangestel het, een man uit elke stam van Israel,  en Josua het vir hulle gesê: “Gaan verby die Ark van Jehovah julle God na die middel van die Jordaanrivier, en elkeen van julle moet ’n klip op sy skouer sit, volgens die getal stamme van die Israeliete,  sodat dit as ’n teken onder julle kan dien. As julle kinders* julle later vra: ‘Hoekom lê hierdie klippe hier?’+  dan moet julle vir hulle sê: ‘Omdat die water van die Jordaanrivier voor die ark+ van Jehovah se verbond opgehou vloei het. Toe dit deur die Jordaanrivier gedra is, het die water van die Jordaanrivier opgehou vloei. Hierdie klippe sal as ’n permanente gedenkteken* vir die Israeliete dien.’”+  Toe het die Israeliete gedoen net soos Josua beveel het. Hulle het 12 klippe uit die middel van die Jordaanrivier geneem, volgens die aantal stamme van Israel, net soos Jehovah vir Josua gesê het. Hulle het dit saam met hulle geneem na die plek waar hulle sou oornag en dit daar neergesit.  Josua het ook 12 klippe in die middel van die Jordaanrivier opgerig op die plek waar die priesters gestaan het wat die ark van die verbond gedra het,+ en die klippe is tot vandag toe nog daar. 10  Die priesters wat die Ark gedra het, het in die middel van die Jordaanrivier bly staan totdat alles gedoen is wat Jehovah Josua beveel het om vir die volk te sê, in ooreenstemming met alles wat Moses Josua beveel het. Die hele tyd het die volk haastig deur die rivier gegaan. 11  Nadat die hele volk deur die rivier gegaan het, het die Ark van Jehovah sowel as die priesters deurgegaan terwyl die volk toegekyk het.+ 12  En die Rubeniete, die Gadiete en die halwe stam van Manasʹse het in gevegsformasie voor die ander Israeliete deurgegaan,+ net soos Moses vir hulle gesê het.+ 13  Omtrent 40 000 gewapende soldate het voor Jehovah deurgegaan na die woestynvlaktes van Jeʹrigo. 14  Op daardie dag het Jehovah Josua groot eer gegee in die oë van die hele Israel,+ en hulle het al die dae van sy lewe diep respek vir hom gehad,* net soos hulle diep respek vir Moses gehad het.+ 15  Toe het Jehovah vir Josua gesê: 16  “Beveel die priesters wat die ark van die Getuienis dra,+ om uit die Jordaanrivier uit te kom.” 17  Toe het Josua die priesters die volgende bevel gegee: “Kom uit die Jordaanrivier uit.” 18  Toe die priesters wat die ark+ van die verbond van Jehovah dra, uit die middel van die Jordaanrivier kom en hulle voete aan die droë grond raak, het die water van die Jordaanrivier weer begin vloei en sy oewers oorstroom,+ soos voorheen. 19  Die volk het op die tiende dag van die eerste maand uit die Jordaanrivier uitgekom en by Gilgal aan die oostelike grens van Jeʹrigo kamp opgeslaan.+ 20  Josua het die 12 klippe wat hulle uit die Jordaanrivier geneem het, in Gilgal opgerig.+ 21  Toe het hy vir die Israeliete gesê: “Wanneer julle kinders in die toekoms vir hulle pa’s vra: ‘Wat beteken hierdie klippe?’+ 22  dan moet julle aan julle kinders verduidelik: ‘Israel het op droë grond deur die Jordaanrivier gegaan+ 23  toe Jehovah julle God die waters van die Jordaanrivier voor hulle laat opdroog het sodat hulle daardeur kon gaan, net soos Jehovah julle God met die Rooisee gedoen het toe hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons daardeur kon gaan.+ 24  Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan weet hoe magtig Jehovah se hand is+ en sodat julle Jehovah julle God altyd sal vrees.’”

Voetnote

Lett. “seuns”.
Of “herinnering”.
Lett. “hom gevrees”.