Josua 8:1-35

  • Josua laat vegters wegkruip naby Ai (1-13)

  • Ai ingeneem (14-29)

  • Wet gelees by berg Ebal (30-35)

8  Toe het Jehovah vir Josua gesê: “Moenie bang wees of vrees nie.+ Neem al die vegters saam met jou en gaan op teen Ai. Kyk, ek het die koning van Ai, sy volk, sy stad en sy land in jou hand gegee.+  Jy moet met Ai en sy koning doen net soos jy met Jeʹrigo en sy koning gedoen het,+ maar hierdie keer mag julle die stad stroop en die vee vir julle neem. Laat van die manne agter die stad wegkruip.”  Toe het Josua en al die vegters teen Ai opgetrek. Josua het 30 000 magtige vegters gekies en hulle in die nag uitgestuur.  Hy het vir hulle die volgende bevel gegee: “Gaan kruip agter die stad weg. Moenie baie ver van die stad af gaan nie, en julle moet almal gereed wees.  Ek en al die manne by my sal in die rigting van die stad gaan, en wanneer hulle uitkom om teen ons te veg soos die vorige keer,+ sal ons vir hulle vlug.  Wanneer hulle agter ons aan kom, sal ons hulle van die stad af weglok, want hulle sal sê: ‘Hulle vlug vir ons net soos die vorige keer.’+ En ons sal vir hulle vlug.  Dan moet julle uit julle skuilplek opstaan en die stad inneem. Jehovah julle God sal dit in julle hand gee.  Sodra julle die stad ingeneem het, moet julle dit aan die brand steek.+ Julle moet doen wat Jehovah sê. Dit is my instruksies.”  Daarna het Josua hulle uitgestuur, en hulle het na die plek gegaan waar hulle sou wegkruip, tussen Bet-El en Ai, wes van Ai, maar Josua het daardie nag by die manne gebly. 10  Nadat Josua die oggend vroeg opgestaan en die soldate bymekaargekry* het, het hy en die ouermanne van Israel hulle na Ai gelei. 11  Al die vegters+ wat by hom was, het tot voor die stad gegaan. Hulle het noord van Ai kamp opgeslaan, met die vallei tussen hulle en Ai. 12  Intussen het hy omtrent 5 000 manne geneem en hulle laat wegkruip+ tussen Bet-El+ en Ai, wes van die stad. 13  Die manne het die hoofkamp noord van die stad opgeslaan,+ en die agterste deel van die leërmag wes van die stad.+ Josua het daardie nag na die middel van die vallei gegaan. 14  En toe die koning van Ai dit sien, het hy en die manne van die stad vroeg die oggend haastig uitgegaan om teen Israel te gaan veg op ’n sekere plek wat oor die woestynvlakte uitkyk. Maar hy het nie geweet dat daar manne was wat agter die stad wegkruip nie. 15  Toe die manne van Ai Israel aanval, het Josua en die hele Israel al langs die pad in die rigting van die wildernis gevlug.+ 16  Toe is al die manne in die stad opgeroep om hulle agterna te sit, en terwyl hulle Josua agternagesit het, is hulle van die stad af weggelok. 17  Elke man van Ai en Bet-El het agter Israel aan gegaan. Hulle het die stad wawyd oopgelos en Israel agternagesit. 18  Jehovah het toe vir Josua gesê: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit,+ want ek sal die stad in jou hand gee.”+ Josua het dus die spies in sy hand na die stad toe uitgesteek. 19  Die oomblik toe hy sy hand uitsteek, het die manne wat weggekruip het, vinnig uit hulle skuilplek opgestaan, in die stad ingehardloop en dit ingeneem. Hulle het die stad onmiddellik aan die brand gesteek.+ 20  Toe die manne van Ai omkyk, het hulle die rook uit die stad sien opstyg, en hulle kon nie hierdie kant toe of daardie kant toe vlug nie. Toe het die manne wat na die wildernis gevlug het, omgedraai en teen hulle agtervolgers begin veg. 21  Toe Josua en die hele Israel sien dat die manne wat weggekruip het, die stad ingeneem het en hoe die rook uit die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. 22  En die ander het uit die stad uitgekom om hulle te ontmoet, en die manne van Ai was vasgekeer met Israeliete aan albei kante, en hulle het hulle almal doodgemaak. Daar was geen oorlewendes nie, en niemand het ontsnap nie.+ 23  Maar hulle het die koning van Ai+ lewend gevang en hom na Josua toe gebring. 24  Nadat Israel al die inwoners van Ai doodgemaak het in die veld, in die wildernis waar hulle hulle agternagesit het, en nadat elkeen van hulle met die swaard doodgemaak is, het die hele Israel na Ai teruggegaan en die oorblywende inwoners met die swaard doodgemaak. 25  Almal wat op daardie dag doodgemaak is, mans sowel as vrouens, was altesaam 12 000 – die hele bevolking van Ai. 26  Josua het nie sy hand waarmee hy die spies uitgesteek het,+ teruggetrek totdat al die inwoners van Ai vernietig is nie.+ 27  Maar Israel het die vee en die buit van daardie stad vir hulle geneem, volgens die bevele wat Jehovah aan Josua gegee het.+ 28  Toe het Josua Ai verbrand en dit vir altyd ’n verwoeste stad* gemaak,+ soos dit vandag nog is. 29  Hy het die koning van Ai tot die aand toe aan ’n paal* gehang, en net voordat die son ondergegaan het, het Josua die bevel gegee dat sy lyk van die paal afgehaal moet word.+ Toe het hulle dit by die ingang van die stadspoort gegooi en hom met ’n groot hoop klippe bedek, wat tot vandag toe nog daar is. 30  Toe het Josua op die berg Ebal+ ’n altaar gebou vir Jehovah, die God van Israel, 31  net soos Moses die kneg van Jehovah die Israeliete beveel het en soos dit in die Wetboek+ van Moses geskryf is: “’n Altaar van heel klippe wat nie met enige ystergereedskap bewerk is nie.”+ Hulle het brandoffers aan Jehovah sowel as vrede-offers* daarop geoffer.+ 32  Toe het hy daar op die klippe ’n afskrif gemaak van die Wet+ wat Moses voor die Israeliete geskryf het.+ 33  Die hele Israel, hulle ouermanne, die beamptes en hulle regters het aan albei kante van die Ark gestaan, voor die Levitiese priesters wat die ark van die verbond van Jehovah gedra het. Die uitlanders sowel as die gebore Israeliete was daar.+ Die een helfte van hulle het voor die berg Geriʹsim gestaan, en die ander helfte voor die berg Ebal+ (net soos Moses die kneg van Jehovah voorheen beveel het),+ sodat die volk Israel geseën kon word. 34  Daarna het hy al die woorde van die Wet+ hardop gelees, die seëninge+ en die vloeke,+ net soos dit in die Wetboek geskryf is. 35  Josua het elke woord wat Moses beveel het, hardop gelees vir die hele gemeente van Israel,+ insluitende die vrouens, die kinders en die uitlanders+ wat onder hulle gewoon* het.+

Voetnote

Of “geïnspekteer”.
Of “’n ruïne”.
Of “boom”.
Of “gemeenskapsoffers”.
Lett. “gewandel”.