Josua 9:1-27

  • Gibeoniete se plan om vrede te maak (1-15)

  • Israeliete vind uit wat Gibeoniete gedoen het (16-21)

  • Gibeoniete sal hout en water aandra (22-27)

9  Toe die nuus al die konings bereik het wat aan die westekant van die Jordaanrivier was,+ naamlik dié wat gewoon het in die bergstreek, die Sjefeʹla, al langs die kus van die Grootsee*+ en voor die Liʹbanon-berge – die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Perissiete, die Hewiete en die Jebusiete+  het hulle bymekaargekom om saam teen Josua en Israel te veg.+  Die inwoners van Giʹbeon+ het ook gehoor wat Josua aan Jeʹrigo+ en Ai+ gedoen het.  Toe het hulle ’n plan uitgedink en padkos in ou sakke gesit, en hulle het dit sowel as ou, gebarste wynsakke wat toegewerk is, op hulle donkies gelaai.  Hulle het ook deurgeloopte sandale wat reggemaak is en ou, stukkende klere gedra. Al hulle brood was droog en krummelrig.  Toe het hulle na Josua toe gegaan in die kamp by Gilgal+ en vir hom en die manne van Israel gesê: “Ons het uit ’n ver land gekom. Maak dan nou ’n verbond met ons.”  Maar die manne van Israel het vir die Hewiete+ gesê: “Miskien woon julle hier naby ons. Hoe kan ons dan ’n verbond met julle maak?”+  Hulle het Josua geantwoord: “Ons is u knegte.”* Toe het Josua vir hulle gevra: “Wie is julle, en waar kom julle vandaan?”  Hulle het toe vir hom gesê: “U knegte het uit ’n baie ver land gekom,+ uit respek vir die naam van Jehovah u God, want ons het gehoor van sy roem en van alles wat hy in Egipte gedoen het+ 10  en van alles wat hy aan die twee konings van die Amoriete gedoen het wat aan die ander kant* van die Jordaanrivier was, naamlik koning Sihon+ van Hesbon en koning Og+ van Basan, wat in Asʹtarot was. 11  Toe het die ouermanne en al die inwoners van ons land vir ons gesê: ‘Neem padkos saam vir die reis en gaan na hulle toe. Sê vir hulle: “Ons sal julle knegte wees.+ Maak dan nou ’n verbond met ons.”’+ 12  Hierdie brood wat ons as ons padkos saamgeneem het, was nog warm op die dag toe ons ons huise verlaat het om na julle toe te kom. Nou is dit droog en krummelrig, soos julle kan sien.+ 13  En hierdie wynsakke was nuut toe ons dit vol gemaak het, maar nou het dit gebars.+ En ons klere en sandale is stukkend omdat die reis baie lank was.” 14  Toe het die manne van Israel van hulle padkos geneem,* maar hulle het nie Jehovah se leiding gevra nie.+ 15  Josua het toe vrede gemaak met hulle+ en ’n verbond met hulle gemaak om hulle te laat lewe, en die hoofmanne van die gemeenskap het dit met ’n eed bevestig.+ 16  Drie dae nadat hulle ’n verbond met hulle gemaak het, het hulle gehoor dat hulle daar naby, in hulle omgewing, woon. 17  Toe het die Israeliete vertrek en by hulle stede gekom, naamlik Giʹbeon,+ Kefiʹra, Beʹërot en Kirʹjat-Jeaʹrim.+ 18  Maar die Israeliete het hulle nie aangeval nie omdat die hoofmanne van die gemeenskap vir hulle ’n eed gesweer het by Jehovah,+ die God van Israel. Daarom het die hele gemeenskap van Israel teen die hoofmanne begin kla. 19  Toe het al die hoofmanne vir die hele gemeenskap van Israel gesê: “Ons het ’n eed gesweer by Jehovah, die God van Israel, en daarom kan ons niks aan hulle doen nie. 20  Dít is wat ons sal doen: Ons sal hulle laat lewe, sodat God nie vir ons woedend word as gevolg van die eed wat ons vir hulle gesweer het nie.”+ 21  En die hoofmanne het bygevoeg: “Laat hulle lewe, maar laat hulle houtkappers en waterdraers vir die hele gemeenskap van Israel word.” Dit is wat die hoofmanne die Israeliete belowe het. 22  Josua het toe die Gibeoniete geroep en vir hulle gevra: “Hoekom het julle ons bedrieg deur te sê: ‘Ons kom van ’n plek wat baie ver van julle af is,’ terwyl julle eintlik hier onder ons woon?+ 23  Van nou af is julle vervloek,+ en julle sal altyd slawe wees wat hout kap en water aandra vir die huis van my God.” 24  Hulle het vir Josua gesê: “Dit was omdat daar duidelik vir u knegte gesê is dat Jehovah u God sy kneg Moses beveel het om die hele land aan julle te gee en om al die inwoners voor julle dood te maak.+ Ons het dus vir ons lewens* gevrees as gevolg van julle,+ en daarom het ons dit gedoen.+ 25  Nou is ons in u hande. Doen met ons wat u ook al dink goed en reg is.” 26  En dít is wat Josua met hulle gedoen het: Hy het hulle gered uit die hand van die Israeliete, en hulle het hulle nie doodgemaak nie. 27  Maar op daardie dag het Josua hulle houtkappers en waterdraers gemaak vir die gemeenskap van Israel+ en vir Jehovah se altaar op die plek wat Hy sou uitkies,+ en dit is wat hulle tot vandag toe is.+

Voetnote

Die Middellandse See.
Of “slawe”.
D.w.s. die oostekant.
Of “geïnspekteer”.
Of “siele”.