Levitikus 10:1-20

  • Vuur van Jehovah maak Nadab en Abihu dood (1-7)

  • Voorskrifte vir priesters oor kos en drank (8-20)

10  Later het Aäron se seuns Nadab en Abiʹhu+ elkeen sy vuurbak geneem en vuur* daarin gesit en reukwerk+ daarop geplaas. Toe het hulle onwettige vuur voor Jehovah begin offer,+ wat hy hulle nie beveel het om te doen nie.  Hierop het ’n vuur van Jehovah af gekom en hulle verteer,+ en hulle het voor Jehovah gesterf.+  Toe het Moses vir Aäron gesê: “Dít is wat Jehovah gesê het: ‘Ek sal geheilig word onder dié wat naby my is,+ en ek sal verheerlik word voor die hele volk.’” En Aäron het stilgebly.  Toe het Moses Miʹsael en Elʹsafan, die seuns van Usʹsiël,+ Aäron se oom, geroep en vir hulle gesê: “Kom hier, dra julle broers weg voor die heiligdom na ’n plek buite die kamp.”  Hulle het toe nader gekom en die manne in hulle priesterlike klere na ’n plek buite die kamp weggedra, net soos Moses vir hulle gesê het.  Daarna het Moses vir Aäron en vir sy ander seuns, Eleaʹsar en Iʹtamar, gesê: “Julle mag nie julle kop onversorg laat nie of julle klere skeur nie,+ sodat julle nie sterf nie en sodat God nie vir die hele gemeenskap van Israel kwaad word nie. Julle broers van die hele huis van Israel sal huil oor dié wat Jehovah met die vuur doodgemaak het.  Julle mag nie by die ingang van die tent van samekoms uitgaan nie, anders sal julle sterf, want Jehovah se salfolie is op julle.”+ Hulle het toe gedoen wat Moses gesê het.  Toe het Jehovah vir Aäron gesê:  “Jy en jou seuns moenie wyn of ander alkohol drink wanneer julle in die tent van samekoms ingaan nie,+ sodat julle nie sterf nie. Dit is ’n permanente wetsbepaling vir julle en julle nageslag. 10  Dit is om ’n onderskeid te maak tussen wat heilig en wat onheilig is en tussen wat rein en wat onrein is,+ 11  en om die Israeliete al die wetsvoorskrifte te leer wat Jehovah deur middel van Moses aan hulle bekend gemaak het.”+ 12  Toe het Moses met Aäron gepraat en met Eleaʹsar en Iʹtamar, sy seuns wat oorgebly het: “Neem wat van die graanoffer van Jehovah se vuuroffers oorgebly het en eet dit as ongesuurde brood naby die altaar,+ want dit is iets besonder heiligs.+ 13  Julle moet dit op ’n heilige plek eet,+ want dit is ’n voorsiening vir jou en vir jou seuns uit Jehovah se vuuroffers, want dit is wat ek beveel is. 14  Julle moet ook die bors van die beweegoffer en die boud van die heilige deel+ op ’n rein plek eet, jy en jou seuns en jou dogters saam met jou,+ want hierdie dinge is gegee as ’n voorsiening vir jou en vir jou seuns uit die vrede-offers* van die Israeliete. 15  Hulle moet die boud van die heilige deel en die bors van die beweegoffer saam met die vuuroffers van vet bring om die beweegoffer heen en weer voor Jehovah te beweeg. En dit sal ’n permanente voorsiening vir jou en jou seuns wees,+ net soos Jehovah beveel het.” 16  Moses het oral gesoek na die bok vir die sonde-offer,+ en hy het uitgevind dat dit verbrand is. Daarom het hy kwaad geword vir Eleaʹsar en Iʹtamar, Aäron se seuns wat oorgebly het, en hy het gesê: 17  “Hoekom het julle nie die sonde-offer op die heilige plek geëet nie,+ aangesien dit iets besonder heiligs is en hy dit aan julle gegee het sodat julle die oortreding van die gemeenskap van Israel kan wegneem en vir hulle versoening kan doen voor Jehovah? 18  Kyk! Die bloed daarvan is nie in die heiligdom ingebring nie.+ Julle moes dit vir seker in die heiligdom geëet het, net soos ek beveel is.” 19  Aäron het Moses geantwoord: “Kyk! Vandag het hulle hulle sonde-offer en hulle brandoffer voor Jehovah aangebied,+ en tog het hierdie dinge met my gebeur. Sou dit Jehovah se goedkeuring gehad het as ek vandag die sonde-offer geëet het?” 20  Toe Moses dit hoor, was hy tevrede daarmee.

Voetnote

Verwys moontlik na brandende kole.
Of “gemeenskapsoffers”.