Levitikus 16:1-34

  • Die Versoendag (1-34)

16  Jehovah het met Moses gepraat ná die dood van Aäron se twee seuns wat gesterf het omdat hulle nader gekom het voor Jehovah.+  Jehovah het vir Moses gesê: “Sê vir jou broer Aäron dat hy nie sommer enige tyd in die heiligdom,+ agter die gordyn,*+ tot voor die deksel op die Ark mag inkom nie, sodat hy nie sterf nie,+ want ek sal in ’n wolk+ bokant die deksel+ verskyn.  “Aäron moet die volgende bring wanneer hy in die heiligdom inkom: ’n jong bul as ’n sonde-offer+ en ’n skaapram as ’n brandoffer.+  Hy moet die heilige kleed van linne+ aantrek, en die kortbroek* van linne+ moet sy kaal liggaam* bedek, en hy moet die lyfband van linne+ om sy middel sit en die tulband van linne+ om sy kop bind. Dit is heilige klere.+ Hy moet in water bad+ en dit aantrek.  “Hy moet van die gemeenskap van Israel+ twee jong bokramme as ’n sonde-offer en een skaapram as ’n brandoffer neem.  “Dan moet Aäron die bul as ’n sonde-offer vir homself aanbied, en hy moet vir hom+ en sy huis versoening doen.  “Hy moet dan die twee bokke neem en hulle voor Jehovah bring by die ingang van die tent van samekoms.  Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, die een lot vir Jehovah en die ander lot vir Asaʹsel.*  Aäron moet die bok aanbied wat deur middel van die lot+ vir Jehovah bestem is en dit ’n sonde-offer maak. 10  Maar die bok wat deur middel van die lot vir Asaʹsel bestem is, moet lewend voor Jehovah gebring word om versoening daarmee te doen, sodat dit vir Asaʹsel weggestuur kan word, die wildernis in.+ 11  “Aäron moet die bul as ’n sonde-offer vir homself aanbied, en hy moet vir hom en sy huis versoening doen. Daarna moet hy die bul as ’n sonde-offer vir homself slag.+ 12  “Hy moet dan die vuurbak+ vol brandende kole van die altaar+ voor Jehovah neem, sowel as twee hande vol fyn geurige reukwerk,+ en hy moet dit binne die gordyn* bring.+ 13  Hy moet ook die reukwerk op die vuur plaas voor Jehovah,+ en die rookwolk van die reukwerk moet die deksel van die Ark,+ wat op die Getuienis is,+ omhul, sodat hy nie sterf nie. 14  “Hy moet van die bul se bloed neem+ en dit met sy vinger voor die deksel spat, aan die oostekant, en hy moet van die bloed sewe keer met sy vinger voor die deksel spat.+ 15  “Hy moet dan die bok slag wat ’n sonde-offer vir die volk is,+ en hy moet die bloed tot agter die gordyn* bring+ en met die bloed+ doen soos hy met die bul se bloed gedoen het. Hy moet dit in die rigting van die deksel en voor die deksel spat. 16  “Hy moet vir die heiligdom versoening doen as gevolg van die Israeliete se dade van onreinheid en as gevolg van hulle oortredings en hulle sondes,+ en dit is wat hy moet doen vir die tent van samekoms, wat by hulle is en wat deur hulle dade van onreinheid omring word. 17  “Geen ander mens mag in die tent van samekoms wees vandat hy ingaan om in die heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie. Hy moet versoening doen vir hom en vir sy huis+ en vir die hele gemeente van Israel.+ 18  “Hy moet dan uitgaan na die altaar,+ wat voor Jehovah is, en daarvoor versoening doen, en hy moet van die bul se bloed en van die bok se bloed neem en dit aan elkeen van die horings van die altaar smeer. 19  Hy moet ook van die bloed sewe keer met sy vinger daarop spat en dit reinig en dit heilig van die Israeliete se dade van onreinheid. 20  “Nadat hy versoening gedoen het+ vir die heiligdom en die tent van samekoms en die altaar,+ moet hy ook die lewende bok aanbied.+ 21  Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewende bok sit en al die verkeerde dinge wat die Israeliete gedoen het en al hulle oortredings en al hulle sondes oor hom bely, en hy moet dit op die kop van die bok+ sit en hom wegstuur, die wildernis in, deur die hand van ’n man wat aangewys is om dit te doen.* 22  Die bok sal al hulle oortredings op hom dra+ na ’n verlate plek,+ en hy moet die bok wegstuur, die wildernis in.+ 23  “Aäron sal dan in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en hy sal dit daar neersit. 24  Hy moet op ’n heilige plek in water bad*+ en sy klere aantrek.+ Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer+ en die volk se brandoffer+ bring en vir hom en vir die volk versoening doen.+ 25  Hy moet die vet van die sonde-offer op die altaar laat rook. 26  “Die man wat die bok vir Asaʹsel weggestuur het,+ moet sy klere was en in water bad, en daarna mag hy in die kamp inkom. 27  “En die bul vir die sonde-offer en die bok vir die sonde-offer, waarvan die bloed in die heiligdom ingebring is om versoening te doen, moet uit die kamp geneem word, en hulle vel en hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.+ 28  Die persoon wat hulle verbrand, moet sy klere was en in water bad, en daarna mag hy in die kamp inkom. 29  “Dít moet vir julle ’n permanente wetsbepaling wees: In die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle julle verneder,* en nie julle of die uitlanders wat onder julle woon, mag enige werk doen nie.+ 30  Op hierdie dag moet versoening+ vir julle gedoen word om julle rein te verklaar. Julle moet van al julle sondes rein wees voor Jehovah.+ 31  Dit is ’n sabbat, ’n spesiale rusdag vir julle, en julle moet julle verneder.+ Dit is ’n permanente wetsbepaling. 32  “Die priester wat gesalf is+ en ingehuldig is* om in die plek van sy pa+ as priester te dien,+ moet versoening doen en die linneklere,+ die heilige klere,+ aantrek. 33  Hy moet versoening doen vir die allerheiligste plek,+ die tent van samekoms+ en die altaar.+ En hy moet versoening doen vir die priesters en vir die hele volk van die gemeente.+ 34  Dit is vir julle ’n permanente wetsbepaling,+ om een keer per jaar vir die Israeliete versoening te doen vir al hulle sondes.”+ Hy het toe gedoen net soos Jehovah Moses beveel het.

Voetnote

Of “voorhangsel”.
Lett. “vlees”.
Of “onderklere”.
Beteken moontlik “bok wat verdwyn”.
Of “voorhangsel”.
Of “voorhangsel”.
Of “’n man wat gereed staan”.
Lett. “sy vlees in water was”.
Kan verwys na verskeie vorme van selfonthouding, insluitende die gebruik om te vas.
Lett. “wie se hand gevul sal word”.