Levitikus 22:1-33

  • Priesterlike reinheid en eet van heilige dinge (1-16)

  • Slegs offers sonder gebreke aanvaarbaar (17-33)

22  Jehovah het verder vir Moses gesê:  “Sê vir Aäron en sy seuns dat hulle versigtig moet wees wanneer hulle die heilige dinge van die Israeliete hanteer* en dat hulle nie my heilige naam moet ontheilig+ in verband met die dinge wat hulle vir my heilig nie.+ Ek is Jehovah.  Sê vir hulle: ‘Enige man uit julle nageslag, in al julle geslagte, wat in ’n onrein toestand naby die heilige dinge kom wat die Israeliete aan Jehovah heilig, moet doodgemaak word en so voor my verwyder word.+ Ek is Jehovah.  Geen man van Aäron se nageslag wat melaats+ is of ’n afskeiding+ het, mag van die heilige dinge eet totdat hy rein word nie.+ Dit geld ook vir die man wat aan iemand raak wat onrein geword het deur middel van ’n dooie persoon*+ en vir ’n man wat ’n saadstorting+ het  en vir ’n man wat aan ’n onrein kruipende diertjie raak+ of aan ’n mens raak wat om enige rede onrein is en wat hom onrein kan maak.+  Die persoon wat aan so iets of so iemand raak, sal tot die aand toe onrein wees en mag niks van die heilige dinge eet nie, maar hy moet in water bad.+  Wanneer die son ondergegaan het, sal hy rein wees, en daarna mag hy van die heilige dinge eet, want dit is sy kos.+  Hy mag ook nie enige dier eet wat dood gevind is of enigiets wat deur wilde diere verskeur is en daardeur onrein word nie.+ Ek is Jehovah.  “‘Hulle moet hulle verpligting teenoor my nakom, sodat hulle nie as gevolg daarvan sondig en daarvoor moet sterf omdat hulle dit ontheilig het nie. Ek is Jehovah, wat hulle heilig. 10  “‘Geen ongemagtigde persoon,* mag enigiets heiligs eet nie.+ Geen uitlander wat by ’n priester bly of ’n gehuurde werker mag enigiets heiligs eet nie. 11  Maar as ’n priester iemand met sy eie geld koop, mag dié persoon daarvan eet. Slawe wat in sy huis gebore is, mag ook van sy kos eet.+ 12  As die dogter van ’n priester met iemand trou wat nie ’n priester is nie,* mag sy nie van die bydrae van die heilige dinge eet nie. 13  Maar as die dogter van ’n priester ’n weduwee word of geskei is en sy geen nageslag het nie en sy na haar pa se huis terugkeer soos toe sy jonger was, mag sy van haar pa se kos eet,+ maar geen ongemagtigde persoon* mag daarvan eet nie. 14  “‘En as iemand iets heiligs eet sonder dat hy dit besef, moet hy ’n vyfde van die waarde daarvan byvoeg en die heilige offer vir die priester gee.+ 15  Hulle moenie die heilige dinge van die Israeliete wat hulle vir Jehovah bydra,+ ontheilig 16  en sodoende straf oor hulle bring vir hulle skuld omdat hulle heilige dinge geëet het nie, want ek is Jehovah, wat hulle heilig.’” 17  Jehovah het verder vir Moses gesê: 18  “Sê vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete: ‘As ’n Israelitiese man of ’n uitlander wat in Israel woon ’n brandoffer vir Jehovah aanbied+ om sy geloftes na te kom of om ’n vrywillige offer te gee,+ 19  moet hy ’n manlike dier sonder gebrek+ uit die beeste, uit die jong skaapramme of uit die bokke aanbied om goedkeuring te verkry. 20  Julle mag niks aanbied wat ’n gebrek het nie,+ want dit sal nie vir julle goedkeuring verkry nie. 21  “‘As ’n man ’n vrede-offer* vir Jehovah aanbied+ as ’n vrywillige offer of om ’n gelofte te betaal, sal hy slegs goedkeuring verkry as dit ’n dier sonder gebrek uit die beeste of die kleinvee is. Dit moet hoegenaamd geen gebrek hê nie. 22  Geen offer moet blind wees of iets hê wat gebreek is nie. Dit moet ook nie ’n sny, ’n vrat, skurfte of ringwurm hê nie. Jy mag nie so ’n dier vir Jehovah aanbied nie of so ’n offer op die altaar vir Jehovah bring nie. 23  Jy mag ’n bul of ’n skaap met ’n liggaamsdeel wat te lank of te kort is as ’n vrywillige offer aanbied, maar dit sal nie as ’n gelofte-offer aanvaar word nie. 24  Julle mag nie ’n dier vir Jehovah aanbied waarvan die testikels beskadig of stukkend gedruk of afgeruk of afgesny is nie, en julle mag nie sulke diere in julle land offer nie. 25  En julle mag nie so ’n dier uit die hand van ’n uitlander as die brood van julle God aanbied nie, want daar is fout met so ’n dier, hy het ’n gebrek. Dit sal nie aanvaar word en vir julle goedkeuring verkry nie.’” 26  Jehovah het verder vir Moses gesê: 27  “As ’n bul of ’n jong skaapram of ’n bok gebore word, moet hy sewe dae by sy ma bly,+ maar van die agtste dag af sal die dier aanvaar word as ’n offer, ’n vuuroffer aan Jehovah. 28  Julle mag nie ’n bul of ’n skaap saam met sy kleintjie op dieselfde dag slag nie.+ 29  “As julle ’n dankoffer aan Jehovah offer,+ moet julle dit offer om vir julle goedkeuring te verkry. 30  Dit moet op dieselfde dag geëet word. Julle mag niks daarvan tot die oggend toe laat oorbly nie.+ Ek is Jehovah. 31  “Julle moet my gebooie gehoorsaam en uitvoer.+ Ek is Jehovah. 32  Julle mag my heilige naam nie ontheilig nie,+ en ek moet onder die Israeliete geheilig word.+ Ek is Jehovah, wat julle heilig,+ 33  die een wat julle uit Egipte uitgelei het sodat ek julle God kan wees.+ Ek is Jehovah.”

Voetnote

Lett. “dat hulle hulle afgesonder moet hou van die heilige dinge van die kinders van Israel”.
Of “’n siel”.
Lett. “Geen vreemdeling”, d.w.s. iemand wat nie deel is van Aäron se familie nie.
Of “met ’n vreemdeling trou”.
Lett. “geen vreemdeling”, d.w.s. iemand wat nie deel is van Aäron se familie nie.
Of “gemeenskapsoffer”.