Levitikus 9:1-24

  • Aäron bring offers (1-24)

9  Op die agtste dag+ het Moses Aäron en sy seuns en die ouermanne van Israel geroep.  Hy het vir Aäron gesê: “Neem vir jou ’n jong kalf as ’n sonde-offer+ en ’n skaapram as ’n brandoffer, diere sonder gebrek, en bied hulle voor Jehovah aan.  Maar jy moet vir die Israeliete sê: ‘Neem ’n bokram as ’n sonde-offer en ’n kalf en ’n jong skaapram, elk ’n jaar oud, sonder gebrek, as ’n brandoffer,  en ’n bul en ’n skaapram as vrede-offers*+ om voor Jehovah te offer, en ’n graanoffer+ wat met olie gemeng is, want vandag sal Jehovah aan julle verskyn.’”+  Hulle het dus alles wat Moses beveel het voor die tent van samekoms gebring. Toe het die hele gemeenskap van Israel nader gekom en voor Jehovah gaan staan.  En Moses het gesê: “Dit is wat Jehovah julle beveel het om te doen, sodat die heerlikheid van Jehovah aan julle kan verskyn.”+  Toe het Moses vir Aäron gesê: “Gaan na die altaar en bied jou sonde-offer+ en jou brandoffer aan, en doen versoening vir jou+ en vir jou huis. Bied die offer van die volk aan+ en doen versoening vir hulle,+ net soos Jehovah beveel het.”  Aäron het onmiddellik na die altaar gegaan en die kalf geslag wat ’n sonde-offer vir homself was.+  Toe het Aäron se seuns die bloed+ vir hom aangebied, en hy het sy vinger in die bloed gesteek en dit aan die horings van die altaar gesmeer, en hy het die res van die bloed aan die voet van die altaar uitgegooi.+ 10  Hy het die vet en die niere en die vet* aan die lewer van die sonde-offer op die altaar laat rook, net soos Jehovah Moses beveel het.+ 11  En hy het die vleis en die vel buite die kamp met vuur verbrand.+ 12  Toe het hy die brandoffer geslag, en Aäron se seuns het vir hom die bloed aangegee, en hy het al die kante van die altaar daarmee besprinkel.+ 13  Hulle het vir hom die stukke van die brandoffer saam met die kop aangegee, en hy het dit op die altaar laat rook. 14  Verder het hy die ingewande en die pote gewas en dit bo-op die brandoffer op die altaar laat rook. 15  Hy het toe die offer van die volk aangebied en die bok vir die sonde-offer geneem wat vir die volk was en dit geslag en daarmee ’n sonde-offer gebring soos met die eerste offer. 16  En hy het die brandoffer gebring en dit volgens die gewone prosedure aangebied.+ 17  Toe het hy die graanoffer aangebied+ deur ’n hand vol daarvan te neem en dit op die altaar te laat rook, bo en behalwe die oggendbrandoffer.+ 18  Daarna het hy die bul en die skaapram geslag wat die vrede-offer* vir die volk was. Toe het Aäron se seuns vir hom die bloed aangegee, en hy het al die kante van die altaar daarmee besprinkel.+ 19  Wat die stukke vet van die bul,+ die vetstert van die skaapram, die vet om die ingewande, die niere en die vet* aan die lewer+ betref, 20  hulle het al hierdie stukke vet op die borsstukke gesit, en daarna het hy die stukke vet op die altaar laat rook.+ 21  Maar die borsstukke en die regterboud het Aäron as ’n beweegoffer heen en weer voor Jehovah beweeg, net soos Moses beveel het.+ 22  Toe het Aäron sy hande na die volk toe uitgestrek en hulle geseën+ en van die altaar afgekom nadat hy die sonde-offer en die brandoffer en die vrede-offers* gebring het. 23  Uiteindelik het Moses en Aäron in die tent van samekoms ingegaan, en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën.+ Toe het Jehovah se heerlikheid aan die hele volk verskyn,+ 24  en vuur het van Jehovah af gekom+ en die brandoffer en die stukke vet op die altaar begin verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle begin uitroep en met hulle gesigte na die grond toe neergebuig.+

Voetnote

Of “gemeenskapsoffers”.
Of “aanhangsel”.
Of “gemeenskapsoffer”.
Of “aanhangsel”.
Of “gemeenskapsoffers”.