Volgens Lukas 22:1-71
-
Priesters beplan om Jesus dood te maak (1-6)
-
Voorbereidings vir laaste Pasga (7-13)
-
Here se Aandmaal ingestel (14-20)
-
“My verraaier is by my aan tafel” (21-23)
-
Stryery oor wie belangrikste is (24-27)
-
Jesus se verbond vir ’n koninkryk (28-30)
-
Jesus voorspel dat Petrus hom sal verloën (31-34)
-
Voorbereiding is belangrik; die twee swaarde (35-38)
-
Jesus se gebed op die Olyfberg (39-46)
-
Jesus in hegtenis geneem (47-53)
-
Petrus verloën Jesus (54-62)
-
Jesus word bespot (63-65)
-
Verhoor voor die Sanhedrin (66-71)
22 Die Fees van die Ongesuurde Brode, wat die Pasga+ genoem word, het nader gekom.+
2 Die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het na ’n doeltreffende manier gesoek om van hom ontslae te raak,+ want hulle was bang vir die volk.+
3 Toe het Satan in Judas ingevaar, die een wat Iskaʹriot genoem is en wat een van die Twaalf+ was.
4 Judas het na die hoofpriesters en tempelhoofmanne gegaan en met hulle gepraat oor hoe hy Jesus aan hulle kon verraai.+
5 Hulle was baie bly hieroor en het ooreengekom om vir hom silwergeld te gee.+
6 Toe het hy ingestem, en hy het na ’n goeie geleentheid begin soek om Jesus aan hulle te verraai sonder dat daar ’n skare by is.
7 Die dag van die Ongesuurde Brode het toe aangebreek, die dag waarop die Pasga-offer geslag moet word.+
8 Jesus het dus Petrus en Johannes gestuur en vir hulle gesê: “Gaan maak die Pasga vir ons gereed sodat ons dit kan eet.”+
9 Hulle het vir hom gevra: “Waar wil u hê moet ons dit gereedmaak?”
10 Hy het vir hulle gesê: “Wanneer julle in die stad ingaan, sal ’n man wat ’n waterkruik dra, julle ontmoet. Volg hom tot in die huis waar hy ingaan.+
11 En sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra: “Waar is die gastevertrek waar ek die Pasga saam met my dissipels kan eet?”’
12 En daardie man sal vir julle ’n groot bo-kamer wys wat ingerig is. Maak dit daar gereed.”
13 Toe het hulle vertrek en dit gevind net soos hy vir hulle gesê het, en hulle het vir die Pasga voorberei.
14 Toe die uur kom, het hy saam met die apostels aan tafel gegaan.+
15 En hy het vir hulle gesê: “Ek wou baie graag hierdie Pasga saam met julle eet voordat ek ly,
16 want ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet totdat dit in die Koninkryk van God vervul word nie.”
17 En hy het ’n beker by een van hulle geneem, ’n dankgebed gedoen en gesê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan,
18 want ek sê vir julle: Van nou af sal ek nie weer wyn drink totdat die Koninkryk van God kom nie.”
19 Hy het ook ’n brood geneem+ en ’n dankgebed gedoen. Toe het hy die brood gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: “Dit beteken my liggaam,+ wat vir julle gegee sal word.+ Hou aan om dit te doen as ’n herinnering aan my.”*+
20 Nadat hulle die aandmaal geëet het, het hy dieselfde met die beker gedoen en gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond+ wat bevestig* word deur my bloed,+ wat vir julle uitgestort sal word.+
21 “Maar die hand van my verraaier is by my aan tafel.+
22 Want alles wat oor die Seun van die mens geskryf is, gaan beslis met hom gebeur,+ maar dit sal sleg gaan met die man wat hom verraai!”+
23 Hulle het toe onder mekaar begin bespreek wie van hulle tog so iets kon doen.+
24 En hulle het ook erg onder mekaar begin stry oor wie van hulle die grootste is.+
25 Hy het egter vir hulle gesê: “Die konings van die nasies speel oor hulle baas, en dié wat gesag oor hulle het, ontvang spesiale titels daarvoor.*+
26 Maar julle moenie so wees nie.+ Laat die een wat die grootste onder julle is, soos die jongste word,+ en laat die een wat die leiding neem, soos die een word wat dien.
27 Want watter een is groter: die een wat eet* of die een wat bedien? Is dit nie die een wat eet* nie? Maar onder julle is ek soos die een wat bedien.+
28 “Julle het egter in al my moeilike tye+ by my gebly.+
29 En ek maak ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gemaak het, vir ’n koninkryk,+
30 sodat julle aan my tafel in my Koninkryk kan eet en drink+ en op trone kan sit+ om die 12 stamme van Israel te oordeel.+
31 “Simon, Simon, kyk! Satan dring daarop aan om julle almal soos koring te sif.+
32 Maar ek het ’n smeekgebed vir jou gedoen dat jou geloof nie sal verswak nie,+ en nadat jy teruggekeer het, moet jy jou broers versterk.”+
33 Toe het hy vir hom gesê: “Here, ek is gereed om saam met u in die gevangenis in te gaan en selfs om saam met u te sterf.”+
34 Maar hy het gesê: “Ek sê vir jou, Petrus, voordat ’n haan vandag kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.”+
35 Hy het ook vir hulle gevra: “Het julle enigiets kortgekom toe ek julle sonder ’n geldsak en ’n voedselsak en sandale+ uitgestuur het?” Hulle het gesê: “Nee!”
36 Toe het hy vir hulle gesê: “Maar as iemand nou ’n geldsak het, moet hy dit saamvat, en ook ’n voedselsak, en as iemand nie ’n swaard het nie, moet hy sy bo-kleed verkoop en een koop.
37 Want ek sê vir julle dat die dinge wat geskryf is, in my vervul moet word, naamlik: ‘Hy is onder wetteloses getel.’+ Want hierdie woorde wat oor my geskryf is, word nou vervul.”+
38 Toe het hulle gesê: “Here, kyk, hier is twee swaarde.” Hy het vir hulle gesê: “Dit is genoeg.”
39 Hy het vertrek en soos gewoonlik na die Olyfberg gegaan, en die dissipels het hom ook gevolg.+
40 Toe hy daar aankom, het hy vir hulle gesê: “Hou aan bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”+
41 Hy het van hulle af weggegaan, omtrent ’n klipgooi ver, en hy het op sy knieë gegaan en begin bid:
42 “Vader, as u wil, neem hierdie beker van my af weg. Maar laat nie my wil nie, maar u wil plaasvind.”+
43 Toe het ’n engel uit die hemel aan hom verskyn en hom versterk.+
44 Maar hy het soveel angs ervaar dat hy nog ernstiger gebid het,+ en sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.
45 Toe hy klaar gebid het, het hy opgestaan en na die dissipels toe gegaan. Hy het gesien dat hulle slaap, want hulle was uitgeput omdat hulle so baie getreur het.+
46 Hy het vir hulle gesê: “Hoekom slaap julle? Staan op en hou aan bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”+
47 Terwyl hy nog gepraat het, het ’n skare daar aangekom. Die man met die naam Judas, een van die Twaalf, het voor hulle geloop, en hy het na Jesus toe gekom om hom te soen.+
48 Maar Jesus het vir hom gevra: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?”
49 Toe die mense om hom sien wat gaan gebeur, het hulle gevra: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”
50 Een van hulle het selfs sy swaard na die slaaf van die hoëpriester geswaai en sy regteroor afgekap.+
51 Maar Jesus het gesê: “Dit is genoeg.” En hy het aan die man se oor geraak en hom gesond gemaak.
52 Jesus het toe vir die hoofpriesters en hoofmanne van die tempel en ouermanne wat hom daar kom haal het, gesê: “Het julle met swaarde en knuppels gekom asof ek ’n rower is?+
53 Terwyl ek dag ná dag by julle in die tempel was,+ het julle my nie in hegtenis geneem nie.+ Maar dit is julle uur en die gesag van die duisternis.”+
54 Hulle het hom gearresteer en weggelei+ en hom in die huis van die hoëpriester ingebring, maar Petrus het hulle op ’n afstand gevolg.+
55 Hulle het ’n vuur in die middel van die binnehof aangesteek en bymekaar gaan sit. Petrus het tussen hulle gesit.+
56 Maar ’n diensmeisie het hom gesien waar hy in die lig van die vuur sit. Sy het mooi na hom gekyk en toe gesê: “Hierdie man was ook saam met hom.”
57 Maar hy het dit ontken en gesê: “Ek ken hom nie.”
58 Ná ’n rukkie het iemand anders wat hom gesien het, gesê: “Jy is ook een van hulle.” Maar Petrus het vir die man gesê: “Ek is nie.”+
59 En omtrent ’n uur later het ’n ander man volgehou en gesê: “Hierdie man was beslis ook saam met hom, want hy is ’n Galileër!”
60 Maar Petrus het vir die man gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” En onmiddellik, terwyl hy nog gepraat het, het ’n haan gekraai.
61 Toe het die Here omgedraai en reguit na Petrus gekyk, en Petrus het die Here se woorde onthou toe hy vir hom gesê het: “Voordat ’n haan vandag kraai, sal jy drie keer sê dat jy my nie ken nie.”+
62 En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
63 Die manne wat Jesus gevange gehou het, het hom begin spot+ en hom geslaan,+
64 en nadat hulle sy gesig bedek het, het hulle bly sê: “Profeteer! Wie is dit wat jou geslaan het?”
65 En hulle het nog baie ander lasterlike dinge teen hom gesê.
66 Toe dit dag word, het die groep ouermanne van die volk bymekaargekom, hoofpriesters sowel as skrifgeleerdes,+ en hulle het Jesus na die Sanheʹdrinsaal geneem en vir hom gesê:
67 “As jy die Christus is, sê vir ons.”+ Maar hy het vir hulle gesê: “Al sê ek dit vir julle, sal julle dit glad nie glo nie.
68 En al sou ek julle ’n vraag vra, sal julle nie antwoord nie.
69 Maar van nou af sal die Seun van die mens+ aan die magtige regterhand van God sit.”+
70 Toe het hulle almal gevra: “Is jy dan die Seun van God?” Hy het vir hulle gesê: “Julle sê self dat ek is.”
71 Hulle het gesê: “Hoekom het ons nog getuienis nodig? Want ons het dit self uit sy eie mond gehoor.”+
Voetnote
^ Of “tot my gedagtenis te doen”.
^ Of “bekragtig”.
^ Lett. “word Weldoeners genoem”.
^ Of “aan tafel is”.
^ Of “aan tafel is”.