Volgens Matteus 22:1-46

  • Illustrasie van huweliksfees (1-14)

  • God en die keiser (15-22)

  • Vraag oor opstanding (23-33)

  • Twee grootste gebooie (34-40)

  • Is die Christus die seun van Dawid? (41-46)

22  Jesus het weer deur middel van illustrasies met hulle gepraat en gesê:  “Die Koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ’n koning wat ’n huweliksfees+ vir sy seun voorberei het.  Hy het sy slawe gestuur om die mense te roep wat na die huweliksfees genooi is, maar hulle wou nie kom nie.+  Hy het weer slawe gestuur en gesê: ‘Sê vir die mense wat genooi is: “Ek het ’n maaltyd voorberei, my bulle en vetgemaakte diere is geslag en alles is gereed. Kom na die huweliksfees.”’  Maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en het weggegaan, die een na sy landery en die ander na sy besigheid.+  Die res van die mense wat genooi is, het sy slawe gegryp, hulle mishandel en hulle doodgemaak.  “Die koning het woedend geword en sy leërmag gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad afgebrand.+  Toe het hy vir sy slawe gesê: ‘Die huweliksfees is gereed, maar die mense wat genooi is, was nie waardig om uitgenooi te word nie.+  Gaan dan na die paaie wat uit die stad lei, en nooi enigeen wat julle vind na die huweliksfees.’+ 10  Die slawe het dus na die paaie uitgegaan en almal bymekaargemaak wat hulle gevind het, goeie sowel as slegte mense. Toe het die vertrek vir die huwelikseremonie vol geword van die gaste wat vir die maaltyd genooi is.* 11  “Toe die koning inkom om na die gaste te kom kyk, het hy ’n man gesien wat nie gepaste klere vir die huweliksfees aangehad het nie. 12  En hy het vir hom gesê: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder om gepaste klere vir die huweliksfees aan te hê?’ Die man kon hom nie antwoord nie. 13  Toe het die koning vir sy knegte gesê: ‘Bind sy hande en voete vas en gooi hom in die duisternis daar buite. Daar sal hy huil en op sy tande kners.’ 14  “Want baie is genooi, maar min is uitgekies.” 15  Toe het die Fariseërs gegaan en planne beraam sodat hulle Jesus kon kry om iets te sê wat hulle teen hom kan gebruik.+ 16  Daarna het hulle hulle dissipels na hom toe gestuur, saam met party van Herodes se ondersteuners.+ Hulle het gesê: “Leermeester, ons weet dat u opreg is en die waarheid oor God se weg leer, en u soek niemand se goedkeuring nie, want u kyk nie na mense se uiterlike nie. 17  Sê dan vir ons wat u dink: Is dit reg om hoofbelasting aan die keiser te betaal of nie?” 18  Maar Jesus, wat geweet het hoe goddeloos hulle is, het gevra: “Hoekom toets julle my, skynheiliges? 19  Wys my die muntstuk waarmee julle belasting betaal.” Hulle het vir hom ’n denaʹrius* gebring. 20  Hy het vir hulle gevra: “Wie se beeld en titel is hierop?” 21  Hulle het gesê: “Die keiser s’n.” Toe het hy vir hulle gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”+ 22  Toe hulle dit hoor, was hulle verbaas, en hulle het van hom af weggegaan. 23  Op daardie dag het die Sadduseërs, wat sê dat daar geen opstanding is nie,+ vir hom kom sê:+ 24  “Leermeester, Moses het gesê: ‘As ’n man sterf sonder dat hy kinders het, moet die man se broer met sy vrou trou en kinders gee vir sy broer wat gesterf het.’+ 25  Daar was sewe broers by ons. Die eerste broer het getrou en gesterf, en omdat hy nie kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. 26  Dieselfde het met die tweede en die derde broer gebeur, en uiteindelik met al sewe broers. 27  Laastens het die vrou gesterf. 28  Wie van die sewe broers se vrou sal sy in die opstanding wees? Want hulle almal was met haar getroud.” 29  Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: “Julle misgis julle, want julle ken nie die Skrif nie en ook nie die krag van God nie,+ 30  want in die opstanding trou mans nie en word vrouens ook nie in die huwelik gegee nie, maar hulle is soos engele in die hemel.+ 31  Het julle nie gelees wat God vir julle oor die opstanding van die dooies gesê het nie? Hy het gesê: 32  ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’+ Hy is nie die God van die dooies nie, maar van die lewendes.”+ 33  Toe die skare dit hoor, was hulle verstom oor sy onderrigting.+ 34  Nadat die Fariseërs gehoor het dat die Sadduseërs Jesus nie kon antwoord nie, het hulle almal bymekaargekom. 35  En een van hulle, wat die Wet goed geken het, het hom getoets deur te vra: 36  “Leermeester, wat is die grootste gebod in die Wet?”+ 37  Hy het vir hom gesê: “‘Jy moet Jehovah* jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel* en met jou hele verstand.’+ 38  Dit is die grootste en eerste gebod. 39  Die tweede gebod, soortgelyk hieraan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’+ 40  Die hele Wet en die boeke van die profete is op hierdie twee gebooie gebaseer.”+ 41  En terwyl die Fariseërs bymekaar was, het Jesus hulle gevra:+ 42  “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is hy?” Hulle het vir hom gesê: “Dawid s’n.”+ 43  Hy het vir hulle gevra: “Hoekom noem Dawid hom dan deur inspirasie+ Here wanneer hy sê: 44  ‘Jehovah* het vir my Here gesê: “Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande onder jou voete plaas”’?+ 45  As Dawid hom dan Here noem, hoe is hy sy seun?”+ 46  En niemand kon hom antwoord nie, en van daardie dag af het niemand dit gewaag om hom enigsins verder uit te vra nie.

Voetnote

Of “aan tafel gegaan het”.