Numeri 22:1-41

  • Balak kry Bileam om hom te help (1-21)

  • Bileam se donkie praat (22-41)

22  Toe het die Israeliete weggetrek en op die woestynvlaktes van Moab kamp opgeslaan met Jeʹrigo aan die ander kant van die Jordaanrivier.+  En Balak,+ die seun van Sippor, het alles gesien wat Israel aan die Amoriete gedoen het,  en Moab het baie bang geword vir die volk, omdat hulle so baie was. Ja, Moab was siek van vrees as gevolg van die Israeliete.+  Moab het toe vir die ouermanne van Miʹdian+ gesê: “Nou sal hierdie gemeente alles om ons verslind, net soos ’n bul die gras in die veld verslind.” Balak, die seun van Sippor, was in daardie tyd koning van Moab.  Hy het boodskappers gestuur na Biʹleam, die seun van Beor, in Petor,+ langs die Rivier* in sy geboorteland. Hy het hom laat roep en gesê: “Kyk! ’n Volk het uit Egipte gekom. Hulle het die oppervlak van die aarde* bedek,+ en hulle woon reg voor my.  Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my,+ want hulle is magtiger as ek. Miskien kan ek hulle verslaan en hulle uit die land verdryf, want ek weet goed dat die een wat jy seën, geseënd is en dat die een wat jy vervloek, vervloek is.”  Toe het die ouermanne van Moab en die ouermanne van Miʹdian met die betaling vir ’n waarsêer na Biʹleam+ gegaan en Balak se boodskap aan hom oorgedra.  Hy het vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor, en ek sal vir julle sê wat Jehovah ook al vir my sê.” En die leiers van Moab het by Biʹleam gebly.  Toe het God na Biʹleam gekom en gesê:+ “Wie is hierdie manne by jou?” 10  Biʹleam het vir die ware God gesê: “Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, het ’n boodskap na my gestuur en gesê: 11  ‘Kyk! Die volk wat uit Egipte gekom het, bedek die oppervlak van die aarde.* Kom tog nou en vervloek hulle vir my.+ Miskien sal ek teen hulle kan veg en hulle kan verdryf.’” 12  Maar God het vir Biʹleam gesê: “Jy mag nie saam met hulle gaan nie. Jy mag nie die volk vervloek nie, want hulle is geseënd.”+ 13  Biʹleam het in die oggend opgestaan en vir Balak se leiers gesê: “Gaan terug na julle land toe, want Jehovah het geweier om my saam met julle te laat gaan.” 14  Toe het die leiers van Moab vertrek en na Balak teruggekeer en gesê: “Biʹleam het geweier om saam met ons te kom.” 15  Maar Balak het weer leiers gestuur, ’n groter groep manne wat belangriker was as die eerste groep. 16  Hulle het na Biʹleam gekom en vir hom gesê: “So het Balak, die seun van Sippor, gesê: ‘Asseblief, moenie dat enigiets jou keer om na my toe te kom nie, 17  want ek sal jou grootliks eer, en ek sal enigiets doen wat jy vir my sê om te doen. Kom dus, asseblief, en vervloek hierdie volk vir my.’” 18  Maar Biʹleam het die knegte van Balak geantwoord: “Al gee Balak my sy eie huis vol silwer en goud, kan ek niks doen, hetsy klein of groot, wat in stryd is met die bevel van Jehovah my God nie.+ 19  Maar bly asseblief ook vannag hier, sodat ek kan hoor wat Jehovah nog vir my sal sê.”+ 20  Toe het God in die nag na Biʹleam gekom en vir hom gesê: “As hierdie manne gekom het om jou te roep, gaan saam met hulle. Maar jy mag net sê wat ek vir jou sê.”+ 21  Biʹleam het toe in die oggend opgestaan en sy donkie* opgesaal en saam met die leiers van Moab gegaan.+ 22  Maar God het woedend geword omdat hy gegaan het, en Jehovah se engel het in die pad gaan staan om hom teë te staan. En Biʹleam het op sy donkie gery, en twee van sy dienaars was by hom. 23  En toe die donkie Jehovah se engel in die pad sien staan met ’n swaard in sy hand, het die donkie van die pad af na die veld probeer draai. Maar Biʹleam het die donkie begin slaan om haar na die pad te laat terugdraai. 24  Jehovah se engel het toe op ’n smal pad tussen twee wingerde gaan staan, met klipmure aan albei kante. 25  Toe die donkie Jehovah se engel sien, het sy haarself teen die muur begin druk en Biʹleam se voet teen die muur vasgedruk, en Biʹleam het haar weer begin slaan. 26  Jehovah se engel het toe weer verbygegaan en in ’n nou plek gestaan waar daar geen ruimte was om regs of links te draai nie. 27  Toe die donkie Jehovah se engel sien, het sy onder Biʹleam gaan lê, en Biʹleam het woedend geword en die donkie met sy staf bly slaan. 28  Uiteindelik het Jehovah die donkie laat praat,+ en sy het vir Biʹleam gesê: “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my al drie keer geslaan het?”+ 29  Biʹleam het die donkie geantwoord: “Jy het ’n gek van my gemaak. As ek net ’n swaard in my hand gehad het, sou ek jou doodgemaak het!” 30  Toe het die donkie vir Biʹleam gesê: “Is ek nie jou donkie waarop jy jou hele lewe lank tot vandag toe gery het nie? Het ek jou al ooit so behandel?” Hy het geantwoord: “Nee!” 31  Jehovah het toe Biʹleam se oë geopen,+ en hy het Jehovah se engel in die pad sien staan met ’n swaard in sy hand. Dadelik het hy op sy knieë gegaan en neergebuig met sy gesig na die grond toe. 32  Toe het Jehovah se engel vir hom gesê: “Hoekom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Kyk! Ek het gekom om jou teë te staan, want jou weg is in stryd met my wil.+ 33  Die donkie het my gesien en het al drie keer van my probeer wegdraai.+ Sê nou sy het nie van my weggedraai nie? Dan sou ek jou nou al doodgemaak het en die donkie laat lewe het.” 34  Biʹleam het vir Jehovah se engel gesê: “Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat dit u is wat in die pad gestaan het om my te ontmoet nie. As dit dan sleg is in u oë, sal ek teruggaan.” 35  Maar Jehovah se engel het vir Biʹleam gesê: “Gaan saam met die manne, maar jy mag net sê wat ek vir jou sê.” Biʹleam het dus verder gegaan saam met Balak se leiers. 36  Toe Balak hoor dat Biʹleam gekom het, het hy dadelik uitgegaan om hom te ontmoet by die stad van Moab, wat aan die oewer van die Arnon lê op die grens van die gebied. 37  Balak het vir Biʹleam gevra: “Het ek jou nie laat roep nie? Hoekom het jy nie na my toe gekom nie? Glo jy nie dat ek jou groot eer kan gee nie?”+ 38  Biʹleam het Balak geantwoord: “Wel, hier is ek nou. Maar sal ek toegelaat word om enigiets te sê? Ek kan net sê wat God my laat sê.”+ 39  Toe het Biʹleam saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom. 40  Balak het beeste en skape geoffer en daarvan gestuur aan Biʹleam en die leiers wat saam met hom was. 41  In die oggend het Balak vir Biʹleam na Bamot-Baäl opgeneem. Van daar af kon hy die hele volk sien.+

Voetnote

Blykbaar die Eufraatrivier.
Of “land”.
Of “land”.
Lett. “donkiemerrie”.