’n Openbaring aan Johannes 8:1-13

  • Sewende seël oopgemaak (1-6)

  • Op eerste vier trompette geblaas (7-12)

  • Drie vreeslike gebeurtenisse aangekondig (13)

8  Toe hy+ die sewende seël oopmaak,+ was daar stilte in die hemel, omtrent ’n halfuur lank.  En ek het die sewe engele gesien+ wat voor God staan, en sewe trompette is vir hulle gegee.  ’n Ander engel het daar aangekom en by die altaar+ gaan staan met ’n goue reukwerkhouer.*+ ’n Groot hoeveelheid reukwerk is vir hom gegee om saam met die gebede van al die heiliges op die goue altaar+ te offer wat voor die troon was.  Die rook van die reukwerk het saam met die gebede+ van die heiliges uit die hand van die engel voor God opgegaan.  Maar die engel het dadelik die reukwerkhouer geneem, en hy het van die vuur van die altaar daarin gesit en dit na die aarde gegooi. En daar was donderslae en stemme en weerligstrale+ en ’n aardbewing.  En die sewe engele met die sewe trompette+ het hulle gereedgemaak om daarop te blaas.  Die eerste engel het op sy trompet geblaas. En daar was hael en vuur gemeng met bloed, en dit is na die aarde gegooi,+ en ’n derde van die aarde is verbrand, en ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen plantegroei is verbrand.+  Die tweede engel het op sy trompet geblaas. En iets soos ’n groot berg wat met vuur brand, is in die see gegooi.+ En ’n derde van die see het bloed geword,+  en ’n derde van die lewende wesens in die see het doodgegaan,+ en ’n derde van die skepe het vergaan. 10  Die derde engel het op sy trompet geblaas. En ’n groot ster wat soos ’n lamp brand, het uit die hemel geval, en dit het op ’n derde van die riviere en op die fonteine geval.+ 11  Die naam van die ster is Als. En ’n derde van die waters het in als* verander, en baie van die mense het van die water gesterf, want dit is bitter gemaak.+ 12  Die vierde engel het op sy trompet geblaas. En ’n derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref,+ en ’n derde van hulle is verduister+ sodat ’n derde van die dag en ook van die nag geen lig gehad het nie. 13  En ek het ’n arend in die middel van die hemel sien vlieg, en ek het gehoor hoe hy met ’n harde stem sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik, hoe vreeslik+ vir dié wat op die aarde woon, weens die res van die trompetseine van die drie engele wat op die punt staan om op hulle trompette te blaas!”+

Voetnote

Of “reukwerkbrander”.
’n Soort bitter plant.