Rigters 21:1-25
-
Benjamin as stam gered (1-25)
21 Die manne van Israel het die volgende eed in Mispa+ gesweer: “Nie een van ons sal sy dogter aan ’n man van Benjamin as vrou gee nie.”+
2 Toe het die volk na Bet-El gekom.+ Hulle het tot die aand toe daar voor die ware God gesit, en hulle het hard en bitterlik gehuil.
3 Hulle het gevra: “Hoekom, o Jehovah, die God van Israel, het dit in Israel gebeur? Hoekom moes Israel vandag een van sy stamme verloor?”
4 Die volgende dag het die volk vroeg opgestaan en ’n altaar daar gebou om brandoffers en vrede-offers*+ te offer.
5 Toe het die Israeliete gevra: “Wie uit al die stamme van Israel het nie voor Jehovah bymekaargekom nie?” Hulle het dit gevra omdat hulle ’n eed gesweer het dat enigiemand wat nie voor Jehovah in Mispa bymekaarkom nie, vir seker doodgemaak moet word.
6 En die Israeliete het getreur oor wat met hulle broer Benjamin gebeur het. Hulle het gesê: “Vandag is een stam van Israel afgekap.
7 Wat kan ons doen om vrouens te vind vir die manne wat oorbly, noudat ons by Jehovah gesweer het+ dat ons nie ons dogters as vrouens aan hulle sal gee nie?”+
8 Hulle het gevra: “Wie uit die stamme van Israel het nie voor Jehovah in Mispa bymekaargekom nie?”+ Hulle het toe uitgevind dat niemand uit Jaʹbes-Giʹlead na die kamp gekom het waar die gemeente was nie.
9 Toe die volk getel is, het hulle gesien dat nie een van die inwoners van Jaʹbes-Giʹlead daar was nie.
10 Die gemeenskap het dus 12 000 van die dapperste manne soontoe gestuur. Hulle het hulle die volgende bevel gegee: “Gaan maak die inwoners van Jaʹbes-Giʹlead met die swaard dood, selfs die vrouens en die kinders.+
11 Dít is wat julle moet doen: Julle moet elke man doodmaak, sowel as elke vrou wat al seksuele omgang met ’n man gehad het.”
12 Onder die inwoners van Jaʹbes-Giʹlead het hulle 400 meisies gevind wat nog maagde was, wat nog nooit seksuele omgang met ’n man gehad het nie. Toe het hulle hulle gebring na die kamp in Silo,+ in die land Kanaän.
13 Daarna het die hele gemeenskap ’n boodskap aan die Benjaminiete op die Rimmon-rots gestuur+ om te sê dat hulle vrede met hulle wil maak.
14 Die Benjaminiete het toe teruggegaan na hulle land toe. Die Israeliete het vir hulle die vrouens van Jaʹbes-Giʹlead gegee,+ wie se lewens hulle gespaar het, maar daar was nie genoeg vrouens vir al die Benjaminiete nie.
15 Die volk het getreur oor wat met Benjamin gebeur het+ omdat Jehovah ’n skeiding onder die stamme van Israel veroorsaak het.
16 Die ouermanne van die gemeenskap het gevra: “Wat kan ons doen om vrouens te vind vir die manne wat oorbly? Want al die vrouens van Benjamin is doodgemaak.”
17 Hulle het gesê: “Die manne van Benjamin wat oorleef het, moet ’n erfdeel kry, sodat ’n stam nie uit Israel uitgewis word nie.
18 Maar ons mag nie ons dogters aan hulle as vrouens gee nie, want die Israeliete het gesweer en gesê: ‘Vervloek is die een wat aan Benjamin ’n vrou gee.’”+
19 Toe het hulle gesê: “Daar is elke jaar ’n fees vir Jehovah in Silo,+ wat noord van Bet-El is en oos van die grootpad tussen Bet-El en Sigem en suid van Leboʹna.”
20 Hulle het dus vir die manne van Benjamin die volgende bevel gegee: “Gaan kruip weg in die wingerde.
21 En wanneer julle die jong vroue* van Silo sien uitkom om hulle sirkeldanse te doen, moet elkeen van julle uit die wingerde uitkom en vir hom ’n jong vrou van Silo gryp om sy vrou te word, en julle moet na die land van Benjamin teruggaan.
22 En as hulle pa’s of broers kom kla, sal ons vir hulle sê: ‘Betoon goedheid aan ons ter wille van hulle, want ons kon nie genoeg vrouens vir hulle kry in die oorlog nie,+ en julle kon nie vir hulle vrouens gee sonder om skuldig te word nie.’”+
23 Toe het die manne van Benjamin net so gedoen, en elkeen van hulle het vir hulle ’n vrou geneem uit die vrouens wat gedans het. Daarna het hulle na hulle erfdeel teruggegaan en hulle stede herbou+ en daarin gaan woon.
24 Toe het die Israeliete uitmekaargegaan, elkeen na sy eie stam en na sy eie familie. Elkeen het na sy eie erfdeel teruggegaan.
25 In daardie dae was daar nie ’n koning in Israel nie.+ Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.*