Rut 3:1-18

  • Naomi gee Rut instruksies (1-4)

  • Rut en Boas by dorsvloer (5-15)

  • Rut gaan terug na Naomi (16-18)

3  Naoʹmi, haar skoonma, het toe vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou ’n tuiste* soek+ sodat dit met jou goed kan gaan nie?  Boas is mos familie van ons.+ Dit is sy diensmeisies by wie jy was. Hy gaan vanaand op die dorsvloer werk om die gars van die kaf te skei.  Gaan was jou en smeer lekkerruik-olie aan. Trek jou dan mooi aan* en gaan af na die dorsvloer. Moenie dat hy agterkom dat jy daar is totdat hy klaar geëet en gedrink het nie.  Wanneer hy gaan slaap, moet jy kyk waar hy gaan lê. Gaan dan en maak sy voete oop en gaan lê. Hy sal vir jou sê wat jy moet doen.”  Toe het sy geantwoord: “Ek sal alles doen wat Ma vir my sê.”  En sy het na die dorsvloer afgegaan en alles gedoen wat haar skoonma vir haar gesê het.  Intussen het Boas geëet en gedrink, en sy hart was vrolik. Toe het hy langs die graanhoop gaan lê. Daarna het sy stilletjies gekom en sy voete oopgemaak en gaan lê.  Teen middernag het die man begin bewe, en hy het regop gesit en ’n vrou by sy voete sien lê.  Hy het gevra: “Wie is jy?” Sy het geantwoord: “Ek is Rut, u slavin. Neem u slavin onder u beskerming,* want u is ’n terugkoper.”+ 10  Hy het gesê: “Mag Jehovah jou seën, my dogter. Jy het nog groter lojale liefde in hierdie laaste geval getoon as in die eerste geval,+ omdat jy nie agter die jong manne, arm of ryk, aangeloop het nie. 11  En nou, my dogter, moenie bang wees nie. Alles wat jy sê, sal ek vir jou doen,+ want almal in die stad* weet dat jy ’n uitsonderlike vrou is. 12  Ek is nou wel ’n terugkoper,+ maar daar is ’n terugkoper wat nader familie is as ek.+ 13  Bly vanaand hier, en as hy jou môreoggend terugkoop, goed dan! Laat hy jou terugkoop.+ Maar as hy nie wil nie, sal ek jou terugkoop, so waar as wat Jehovah lewe. Lê hier tot die oggend.” 14  Sy het tot die oggend by sy voete gelê en toe opgestaan voordat dit lig genoeg was om enigiemand te herken. Hy het toe gesê: “Moenie laat enigiemand uitvind dat ’n vrou na die dorsvloer gekom het nie.” 15  Hy het ook gesê: “Bring die mantel wat om jou skouers is en hou dit oop.” Toe het sy dit oopgehou, en hy het ses mate* gars daarin gegooi en dit vir haar gegee. Daarna het hy in die stad ingegaan. 16  Sy het toe na haar skoonma gegaan, wat gevra het: “Hoe het dit gegaan,* my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het. 17  Sy het bygevoeg: “Hy het vir my hierdie ses mate gars gegee en gesê: ‘Moenie met leë hande na jou skoonma gaan nie.’” 18  Toe het sy gesê: “Wag hier, my dogter, totdat jy uitvind wat die uiteinde van die saak sal wees, want die man sal nie rus totdat hy die saak vandag afgehandel het nie.”

Voetnote

Lett. “rusplek”.
Of “Trek jou bo-klere aan”.
Of “Sprei u kleed uit oor u slavin”.
Lett. “die hele poort van my volk”.
Moontlik ses sea, of omtrent 44 l. Sien Aanh. B14.
Lett. “Wie is jy”.